“Ek kies vreugde”

1160

Elsje Neethling, die Olimpiese swemmer Ryk se jongste suster, het op haar moeilike reis met breinkanker geleer hoe om elke dag vreugde te kies, ten spyte van omstandighede.

Deurdruk. Dis hoe ons grootgemaak is in die huis. As jy ’n ding doen, doen jy dit ordentlik.

Ek haal diep asem. Fokus. Die onmoontlike lê voor, maar ek gaan dit regkry… ek wéét dit.

Dis een van die mooiste dae langs die kus van Hermanus. Eintlik is elke dag mooi, want ek besluit vooraf dit gaan mooi wees.

Maar vandag, hier en nou, is daar werklik iets besonders aan die gebeur. ’n Wonderwerk.

Ons was op pad see toe. Ek en my branderryafrigter, Albert. Hy het langs die pad geparkeer en oudergewoonte eerste uitgeklim om my rolstoel te gaan uithaal.

Vir vier jaar lank is ek al aan hierdie stoel vasgekluister. Jare se operasies en bestraling het my werwelkolom verrinneweer. Om weer te kan loop is net ’n droom.

Terwyl ek solank van die sitplek af begin skuifel-skuifel, is dit asof die Here self die woorde op my hart lê. “Los die wiele, hier kom ek!” roep ek in Albert se rigting, waar hy by die kattebak met die stoel sukkel.

“Hè?” roep hy terug. Verbaas.

Daar is skielik ’n oorweldigende begeerte hier binne-in my om op te staan en te loop. So asof ek God se krag en energie regdeur my lyf kan voel bruis. Hier kom ek!

Ek kyk uit oor die wilde, misterieuse oseaan wat voor my uitgestrek lê. Die golwe wat in- en uitrol onder op die strand. Dis asof hulle my ook nader wink. “Kom, Elsh, jy kán dit doen.”

My lyf is swak en tenger, maar die vrees vir val en seerkry is skielik net weg. Elke beperking wat my gewoonlik twee keer sou laat dink – my balansprobleme en een oog wat halfblind is – verdwyn so saam met die strale van die sonsondergang op die horison.

Die afgelope paar weke was ek intens gefokus op genesing, op my gedagtepatrone, my siel, my lyf. Vir familie en naaste vriende het ek gevra om te bid vir my bene.

En nou is ek hier.

Dis amper tagtig trappe tot onder op die strand. Ek het jare laas geloop, maar vandág gaan dit verander.

Nog ’n diep asemteug. Krukke onder die arm. Dis asof ek Sy lieflike teenwoordigheid op my tong kan próé.

Die eerste paar treë gaan stadig en wankelrig, soos ’n dronkaard wat probeer sober lyk voor die polisie.

“Asseblief, Jesus, moenie dat ek val nie. Asseblief…,” bid ek saggies, oor en oor, en onthou weer die verse wat my al so lank op hierdie reis dra. Woorde soos: Jy is nooit alleen nie, Ek is altyd by jou.

Ek ontspan. Gee nog ’n tree, en nog een. Elke trappie word makliker en met elkeen het ek die ondersteuning van die krukke minder nodig.

Af, af, af. Net ek en my gedagtes en die wil om dit tot op die sand te maak. My lang pad na vryheid. Vryheid na die water daaronder, waarin ek gewigloos kan dryf. Vryheid van vrees. En die vryheid om presies te wees wie ek veronderstel is om te wees.

Ek was dertien jaar oud toe dit gebeur het. Toe ’n dokter uiteindelik die regte diagnose kon gee na jare se kopkrap oor wat fout is met my.

Vroeg-vroeg in my lewe het ek al gesukkel met hoofpyne, naarheid, dowwe visie, balansprobleme. Party dokters het gemeen dis spanning. Ander het gedink dis dalk breinvliesontsteking.

Die waarheid het aan die lig gekom die dag nadat ek aan ’n groot swemgala deelgeneem het.

My pa het by my kamer ingestap met die koerant in sy hand. “Poppie, jy moet nou ophou om jou te bekommer oor of jy die Vrystaat-span gaan maak.”

Daar was terg in sy stem. “Ons wil net hê jy moet gelukkig wees.”

Geen reaksie.

Ek het op my sy onder die komberse gelê.

Sy stem was vol trots toe hy afbuk en die koerant vir my probeer wys.

“Pop, kyk. Jy het span gemaak!”

Ek het roerloos bly lê.

Toe hy my omrol, het hy hom boeglam geskrik. My oë was teruggedraai in my oogkaste. Die drukking van die gewas op my brein het dit veroorsaak, maar niemand het dit toe nog geweet nie.

Pa het my dadelik in sy arms opgeskep en hospitaal toe gejaag.

Later is my ouers na ’n skemer kamer in die hoek van die hospitaal ontbied. Die dokter het die klomp morfienpypies oor die tafel aangeskuif en gesê: Meneer, Mevrou Neethling. Julle dogter het ’n baie skaars en aggressiewe vorm van breinkanker.”

Nog net ’n handjievol mense in die wêreld is daarmee gediagnoseer. Nie een het oorleef nie.

“Vat haar huis toe en maak haar gemaklik.”

Dis waar ek geleer het dat ons nooit alleen is nie. Van die dag van die diagnose af was dit asof God my opgetel en bo alles gedra het. So asof ek veilig toegedraai was in watte.

Ek het nooit besef hoe ernstig siek ek was nie.

Mense het huilend kom groet. Talle kere. Ek was in en uit hospitale, moes verskeie operasies ondergaan en het deur verskriklike behandelings geworstel.

As ek nou terugdink, was ek deur hel. Maar terwyl dit alles gebeur het, was ek die sterk, moedige een wat gewonder het hoekom almal al wéér om my bed staan en huil.

Dit was nie altyd so nie. Voor die breingewas ons gesin se lewe handomkeer verander het, was ek vreeslik pieperig. Jy moes my omtrent vasbind om ’n griepinspuiting in my lyf te kry.

You don’t know how strong you are, until strong is your only option. Bob Marley se woorde.

Vandag weet ek: Dis nie ek wat so sterk is nie. Mense vra graag: “Hoe het jy deur alles gekom en hoe bly jy so positief?”

Ek gee Hom al die eer. Toe niemand aan my wou raak nie, was die Here daar.

Niks is so erg soos om te hoor jy gaan dood nie, maar ek is nog hier. Ek leef, en om te leef is iets heiligs. Dis hoekom ek elke oggend gelukkig wakker word. Ek maak van elke dag my beste dag – en môre probeer ek nog harder. Hierdie filosofie het deel van my geword.

Pyn en lyding druk ook ’n stempel op jou psige af. Dit kan jou of define of refine. Jou keuse. Ek het laasgenoemde gekies.

My ma sê altyd ek is haar mees gebalanseerde kind. Die een wat iets van alles doen. Dan grap ons en sê: “Maar ek kan nie eers behoorlik op my bene balanseer nie!”

Tog is daar ’n huppel in my kruppel. Dankbaarheid is my suurstof. Ek lééf daarvan.

Sedert hierdie gewas my lewe ingrypend verander het, was ek nog nooit kwaad daaroor nie. Dis niemand se skuld nie. Ons word almal met kankerselle gebore. Ek was net een van die ongelukkiges in wie dit kwaadaardig begin groei het.

Dit hoef my nie te definieer nie.

Raak ek moedeloos en gefrustreerd? Soms. Maar ek vra nie hoekom ék nie. Wat maak dit in elk geval saak?

Hoe jy dit wat met jou gebeur, hanteer, is baie belangriker.

Dit gaan ook nie net oor wat mét jou gebeur nie, maar wat ín jou gebeur.

In my geval het dit my veerkragtigheid gegee. As ek die grond tref, spring ek doodeenvoudig terug. Ek het al so baie deurgemaak dat absoluut niks my kan onderkry nie.

My situasie het my eerder wysheid en insig gegee. Die uitdagings wat ek moes trotseer, het begrip vir mense se swaarkry gekweek met ’n goeie intuïsie en oordeelsvermoë.

’n Siekte soos kanker is ’n groot gelykmaker. Dit onderskei nie tussen ras, kultuur, agtergrond en of jy vet of maer is nie. Almal veg dieselfde stryd.

Net so met elke uitdaging in die lewe. Egskeiding, verlies… wat jou stryd ook al is, ons kan almal iets by mekaar leer. En self ook ’n paar lesse uitdeel.

Vir my is daar nie ’n ding soos ’n slegte of ongelukkige lewe nie. Jou lewe loop in dieselfde rigting as jou gedagtes. Daarom ooranaliseer ek nie dinge nie, maar hou my oog op my missie.

Ek dink ek is in ’n rolstoel gesit sodat ek kan “opstaan” vir ander mense. Om vir hulle hoop en vreugde te bring. Een van die maniere is deur my inisiatief, Pimp my ride – Hippi HoeRy.

Ons maak rolstoele mooi. Verf dit. Draai pragtige lap om die kaal ysterrame en skarniere. Behang dit met blomme en blink goed.

Mense hou tog daarvan om in mooi skoene van punt A tot punt B te kom. Hoekom moet gestremdes dit in lelike rolstoele doen? Ons stoel is dan ons troon!

As ’n ding lelik is, dan maak jy dit mooi, glo ek. Daarom lyk my stoel al soos ’n wafferse rickshaw. En nou help ek ander om ook húlle stoele mooi te maak. Dis baie vervullend.

Een van die vroue vertel my juis nou die dag: “Ek het in my bed gesit, vir my kleurvolle rolstoel gekyk… en vir die eerste keer in meer as tien jaar gelag!”

Die wêreld was eerste hier, dit skuld jou niks. My raad is: Terwyl jy daar in jou gat sit, kyk vir ’n slag met nuwe oë na jou situasie. Skep jou eie vreugde, want net jy kan dit doen.

Hier in die informele nedersetting waar ek kunsterapie aanbied, sien ek hoe dit elke dag om my gebeur. Die mense geniet dit vreeslik om kreatief te wees. Die kinders, met hulle vingers vol verf en oë wat glinster… vir die eerste keer voel dit vir hulle of hulle iets reg kan doen. Daar is nie reëls in kuns nie, en dit maak dit bevrydend.

Dis hoe ons die lewe ook moet aanpak. Sonder al die reëls.

Ek sê graag vir mense dat dit wat anders is aan jou, jou eintlik pragtig maak. Jy hoef nie soos almal om jou te lyk of te wees nie. Klim uit jou boksie en laat jou andersheid vir jou werk. Dis iets wat ek elke dag probeer uitleef.

Hoe? Leer ’n nuwe vaardigheid aan. Kyk wyer as die omstandighede wat jou gevange hou. Kies lewe en blydskap.

Ek het onlangs weer die lekkerte van water ontdek. My jong lewe is in water deurgebring, en nou, hier langs die see, het dit weer my wêreld geword.

Dit herinner my aan ’n droom wat ek ’n ruk terug gehad het – dat ek kan vlieg. Nou weet ek hoe dit voel! My branderplank het vir my vlerke gegee. ’n Nuwe tipe vryheid.

Wanneer ek op my bord lê in die magtige oseaan, kan ek die energie van die branders voel – soos borrels wat deur my are bruis.

Dis ’n diep geestelike ervaring om saam met die ander ryers agter die breekwater in stilte te dryf. Ons kyk na die diepsee, dan vir mekaar, en glimlag. Tegelyk opgewonde en vreesbevange oor wat dit vandag vir ons mag inhou. Nes die lewe.

En wanneer ek ure lank spook net om agter die breekwater te kom, herinner dit my aan nog ’n lewenswaarheid: As jy nie veg nie, gaan jy verdrink.

Bygesê, ek kies deesdae my gevegte oordeelkundig. Mens hoef nie by elke stryd betrokke te raak nie. Ook nie oor elke ding wat jou uitlok, kwaad te word nie. Ander se skinderstories of mense se negatiewe opmerkings pla my nie meer nie. My energie word eerder daarin belê om te veg vir die dinge wat my siel en gees voed.

Almal om my is so aan die jaag. Vir wie hardloop julle weg? ’n Doodskleed het nie sakke nie. Niemand by die Groot Poorte gaan vir jou ’n ster gee vir jou fyngebak, jou Woolies-slaai, Prada-handsak of hoeveel keer jy gesig gewys het voor in die koor nie.

Raak rustig, mense. Drink die lewe in. Leef in die oomblik.

My ouma Ella het altyd gesê: “Van jaag en haastig wees kom daar altyd ’n gemors.” Netso, Ouma.

Nog ’n ding wat my positief hou, is om myself met kwaliteit-mense te omring. Dis interessant om te sien hoe dramaties jou lewe kan verbeter as jy jouself met goeie, liefdevolle, goedhartige mense omring.

Vir my gaan dit nie oor of jy ryk of arm is of wat jou status is nie. Dit gaan oor hoe jy dink en praat oor die lewe. En veral oor hoe jy dit leef.

Sulke mense kry jy op die snaaksste plekke. Van die karwassers met wie ek graag geselsies aanknoop, tot die wildvreemde vrou in haar oorvol, piepklein karretjie wat nou die dag kom vra het of sy my ásseblief by die huis kan gaan aflaai.

Sy het voor my kom kniel. Maer lyfie, los klere, hare in dreadlocks. “I’m sorry, I don’t want to impose or offend.”

“O vrek,” dink ek. Sy gaan seker vir my sê ek is te bont aangetrek, of my rolstoel se wiel is pap. Of my gulp is oop.

Haar moeë, donker oë het met empatie geblink. “Ek dring daarop aan. Kan ek jou by die huis gaan aflaai? Asseblief.”

Die Fiat Uno’tjie was vol belofte. Haar man, in sy sweetpak, het vriendelik gegroet, sy sigaret teen die wiel doodgedruk en my rolstoel opgevou en ingepak.

Die kar was klaar oorlaai met sakke, kruideniersware en klere. Agter in die motor het daar reeds ’n paar ander passasiers gesit, soos ingelegde koejawels. Maar hulle het nie gekla nie.

“Dit gaan oor die reis, nie die bestemming nie,” het die ma van die kleuter laggend opgemerk.

Amen.

Mens kon sien die lewe het hulle al getimmer, maar nie gebreek nie. Hulle het min, maar hulle is ryk aan liefde.

Dis eintlik snaaks hoe dit werk. As jy al ’n ver, moeilike pad gestap het, is dit soms makliker om met minder in die lewe tevrede te wees.

Ek hou van sulke mense.

My hart het saamgelag terwyl ons mekaar so in die ry beter leer ken het.

Dit was egte, opregte mense. Die tipe, reken ek, wat opdaag as hulle sê hulle gaan. Mense wat eintlik niks het om voor te leef nie, maar steeds straal van omgee.

Mý tipe mense. Mense met ’n positiewe ingestelheid teenoor die lewe, want ingesteldheid is álles.

Ons hele gesin voel eintlik so. Ons praat nooit van mense nie, ons praat oor hulle positiewe houding of hulle goeie idees. Dít inspireer my.

Wanneer daar gesê word ek is self ’n inspirasie vir ander, sien ek dit as ’n bonus. Ek is maar net iemand met ’n passie om elke dag vreugde te kies, en om dit aan ander uit te deel.

Dis vir my belangrik om mense gelukkig maak. Om een mens vandag te laat glimlag sal dalk nie die wêreld verander nie, maar dit sal hulle wêreld verander.

Op my unieke, lawwe manier wil ek vir mense hoop gee. Met my lewe wil ek ’n voorbeeld stel van hoe om die ligte kant van die lewe te kies, ten spyte van die donker. Hoe om van jou seer iets moois te maak.

My rolstoel herinner my elke dag: Whatever tried to kill you, only broke you a little bit.

Dit verbaas my om te sien wat ’n mens met jou gebrokenheid kan doen as jy die gebreekte stukke net ’n kans gee.

Nou die dag merk Rykie op: “Elsh, jy doen nou selfs meer ín jou rolstoel as wat jy sonder jou rolstoel gedoen het.” Dis goed om te hoor.

Ek het vrede in my hart. En geduld… met die Here se tyd en manier van dinge doen. As Hy my gesond wil hê, sal ek gesond wees. Soos die afgelope paar jaar al. Die kanker is in remissie en die dokters reken dis onwaarskynlik dat dit sal terugkom.

As ek weer moet loop – soos daardie dag al met die trappies af strand toe – sal dit ook gebeur. Maar dis nie my hooffokus nie.

My doelwit is om te blom waar ek is, net soos ek is – en om ander te help om dit ook te doen. Ek wil vir mense vertel dat jy nooit alleen is in jou storm nie, selfs al voel dit soms so.

Hy het my opgetel en gedra. Vir jóú sal Hy dieselfde doen.