“Ek kon nie ophou peusel nie”

0
12
peusel.png

Dit is maklik om te “vergeet” hoe om gebalanseerd te eet as jou lewe besig is. As jy beheer oorneem en op die basiese dinge konsentreer, kan jy gou weer jou gewig en gesondheid op koers kry.

Volgens ’n onlangse studie deur PLOS Medicine het die aantal mense wat tussen etes peusel oor die afgelope 30 jaar met 29% gestyg. Dit is moontlik een van die groot redes waarom oorgewig en vetsug deesdae so ’n algemene verskynsel is.

Wanneer jy jonk en sorgvry is, is dit maklik om seker te maak jou lyf bly rietskraal. Maar namate jy ouer word en jy meer verantwoordelikhede bykry – werk, huishouding, ma-wees ensovoorts – skuif goeie eetgewoontes al hoe laer af op jou prioriteitslys. Jy slaan ontbyt en middagete oor, en vanaand is jy doodhonger en dan eet jy die yskas leeg.

Wat gewoonlik gebeur, is dat jy op allerhande kitsoplossings staatmaak om jou deur die dag te dra. Op die ou end sit jy met ekstra vetjies om die middel en verhoogde cholesterol en voel jy sleg oor jouself. As ons pas jou lewe opgesom het, is dit tyd vir jou om weer beheer te neem, net soos Jennie Soden, ’n nuwe jy deelnemer 2012, moes doen.

“Ek het onophoudelik gepeusel en koffie gedrink”

Jennie het haar eie onderneming, twee klein kindertjies en ’n man wat gereeld weg van die huis af gaan vir werk. Haar lewe is baiekeer net ’n vat-en-los-gejaag. Om aan die gang te bly, het sy “kos” gekies wat sy gedink het haar die nodige energie sou gee.

Sy het haarself altyd as ’n koffieverslaafde beskou. “Ek was skoon bekommerd as ek daaraan gedink het dat ek dit ooit sou moes los. Hoe sou ek deur die dag kom?” vertel sy. Niks gaan mos ook beter saam met boeretroos as koek nie. Daarom het sy ook gereeld ’n kolwyntjie of twee saam geniet. “Ek was eintlik permanent besig om te peusel, want ek het altyd honger of lus gevoel vir iets.” Dit was asof sy haarself net nie kon keer nie. Die gevolg was dat sy al hoe meer gewig aangesit het, tot op die punt dat sy regtig nie meer gehou het van wie sy is nie.

“My nuwe eetprogram het my slim leer eet”

Op ’n dag het Jennie ’n keerpunt bereik. “Ek wil gewig verloor en dit nooit weer aansit nie. Ek wil ’n goeie indruk skep en ’n voorbeeld wees vir ander.” Dié besluit het haar toe aan die ’n nuwe jy uitdaging laat deelneem waarmee sy 18,3 kg verloor het! Sy het Weigh-Less se eetprogram begin volg en tot haar verbasing kon sy steeds die koffie drink waaroor sy so mal is. Sy kon nou wel nie meer sewe koppies per dag drink nie, en sy moes kafeïen prysgee. Haar gunstelingdrankie het egter deel van haar leefstyl gebly en sy kan steeds drie bekers per dag drink.

Enige lekkerny beland ook nie meer net so in haar mond nie. Sy het geleer om gesonde bederfies te kies as die knibbellus haar oorval. Jogurt en vrugte het die plek ingeneem van sjokolade en kolwyntjies. Maar die ongelooflikste ding is dat haar plan nie opgestel is om haar te laat honger ly nie. Daar is meer as genoeg kos en peuselhappies om hart en mond tevrede te hou.

“’n Gebalanseerde dieet het my lewe verander”

Deesdae is Jennie heeltemal in beheer van haar eetplan. Waar daar ’n goeie balans is, is daar geluk en gesondheid. Met die hulp van die regte aanvullings, sukkel sy ook nie meer met hoofpyn nie. Sy voel regtig soos ’n nuwe mens. Verder eet sy ook af en toe stadig aan ’n teelepel grondboontjiebotter en dit neem haar lus om te peusel sommer heeltemal weg. “’n Waardevolle les wat ek geleer het, is dat jy nie die dinge wat jy geniet heeltemal hoef prys te gee nie. Dit gaan bloot daaroor om beter keuses te maak en matigheid voor oë te hou,” borrel sy.

Om gereelde klein etes te eet is nie ’n slegte ding nie. Jy moet net die regte kossoorte kies en sorg dat jy matigheid voor oë hou. Dit is soms die kleinste verandering wat die grootste verskil maak.

Bron:
http://healthland.time.com/2011/07/01/snack-attack-americans-are-eating-…