Ek leer my kinders dade het gevolge

0
1812

Sorina Erasmus (die Flooze) is mal oor ma-wees, selfs wanneer sy en haar kinders begin koppe stamp. Sy beskou dit as die perfekte geleentheid om hulle waardevolle lesse te leer.

Om in ’n magstryd met jou kind betrokke te raak is ’n situasie wat ma’s maar alte goed ken – of dit nou Boetie is wat elke oggend baklei omdat hy wil opstaan nie of Sussie wat opsluit haar uitrustings wil kies al is dit om ’n spanbroek en stewels op ’n vuurwarm somersdag aan te trek. Die magspel tussen ouers en kinders is nie beperk tot ’n sekere ouderdom nie, maar Sorina leer ons dat dit nie noodwendig ’n kopseer hoef te veroorsaak nie.

Om ’n ma te wees is om ’n permanente deelnemer aan ’n nimmereindigende magstryd te wees. Party dae is die stryd groter as ander dae en soms is dit makliker om aan deel te neem as ander tye. Ek beskou dit nie noodwendig as ’n negatiewe ding nie. Kinders is gedurig besig om die grense te toets en dit is uiteraard deel van die lewe, ’n menslike element. Daar is ’n bekende gesegde: Choose your battles wisely en dit is absoluut die waarheid. As jy oor elke klein dingetjie in ’n groot magstryd met jou kind gewikkel gaan raak, gaan jy heeldag en aldag sê “nee”, “moenie”, “hou nou op”. Ons as ouers moet onthou dat ons kinders op ’n ontdekkingsreis is en nog baie het om te leer. Hulle moet die ruimte gegun word om te kan groei en die dinge van die lewe self te ontdek. Hulle kom wel baie gou agter dat Mamma tog van beter weet.

Ek glo ook dat dit belangrik is om vir Braam (4) en Miana (2) te verduidelik waarom my nee nee is. Dit kom maar alles neer op goeie kommunikasie met jou kinders. Hulle is baie intelligent en verstaan baie beter as wat ons dalk mag dink. Wanneer Braam byvoorbeeld nie sy tande wil borsel nie, sal ek nie met hom raas en baklei nie. Ek sal doodeenvoudig vir hom sê dit is sy keuse, maar dat hy net moet onthou dat hy nooit weer lekkers sal mag eet nie, want dit veroorsaak vrot tande en al sy tande gaan uitval. Ek glo as jy vir jou kinders die gevolge van hulle optrede verduidelik, sonder om aanvallend te wees, sal die magstryd in ’n japtrap verdwyn. Partykeer moet jy dalk toelaat dat hulle hulle kop ’n bietjie stamp sodat hulle op die harde manier kan leer. Volgende keer sal hulle eerder twee keer vir jou luister voor hulle net doen.

Miana is nog klein en verstaan nie altyd alles nie, maar ons probeer hulle nou al leer om met mekaar en ander te deel. Dit is ’n klein basiese les wat op die ou einde ’n groot rol gaan speel as hulle eendag begin werk of ’n lewensmaat kry.

Iets waarteen ’n mens altyd moet waak, is emosies. As daardie magstryd ’n bietjie warm en uitgerek raak, is dit maklik om iets te sê waaroor jy dalk later spyt gaan wees. Dus moet ouers altyd onthou dat ons kinders ons heeltyd dophou. Hoe jy ’n situasie hanteer wanneer jy kwaad of geïrriteerd is, is ook hoe hulle gaan optree in dieselfde tipe situasie by die skool of saam met maats.

My man, Braam, vergelyk altyd ouerskap met ’n gholfspel. Jy kan hoe ’n goeie speler wees, maar ongelukkig gaan jy nie elke dag goed speel of wen nie. Al speel jy met dieselfde stokke en op dieselfde baan, elke spel is anders en het sy unieke uitdagings, solank jy net jou bes doen en vir die wen mik. Dit is my raad aan ouers – doen net jou beste en die beste sal na vore kom in jou en jou kinders.

Epi-Max