Ek maak klaar met gister en sien uit na môre

0
467

Niemand sou Joe kwalik geneem het as hy die verkeerde pad sou begin loop nie. Almal het dit eintlik maar verwag.

Met sy ma wat so vroeg oorlede is en al die ander hartseer en donker geheime in hulle gesin, kon dit eintlik nie anders nie.

In min gesinne sou jy soveel onmin kry. Sy pa het ’n geskiedenis gehad. Hulle het nie eintlik daaroor gepraat nie, maar almal het geweet van sy verlede. Hoe hy moes vlug ná sy leuens en bedrog. Vir jare sou hy nie weer naby sy ouerhuis kom nie. Sy eie broer het hom gehaat, en dit was geen geheim nie dat hy hom sou vermoor het as hy hom in die hande kon kry.

Joe het vir baie jare nie sy oupa en ouma gesien nie. As hy sy pa oor hulle uitgevra het, was daar altyd ontwykende antwoorde. Sy pa se geheime was donker.

Daar was ook die keer toe Joe se broer daardie verskriklike ding gedoen het. Niemand wou daaroor praat nie, maar dit het soos ’n swart wolk oor die gesin gehang. Hoe kon hy dit aan hulle pa doen?

Die vernedering. Die skande waaroor almal wat hulle geken het, gefluister het. Sy pa sou nooit weer dieselfde wees nie, die wond was vernietigend. Dit was meer as egbreuk – ’n seun slaap by sy pa se vrou! Hoe sou die kind wat uit hierdie skande gebore is deur die wêreld gaan?

Dit was hoe Joe se gesin was, vol pyn en woede. Kinders soos Joe se stories eindig meestal in ’n tronk of op ’n sypaadjie.

Joe se eintlike naam is Josef. Jy kan sy verhaal in die Bybel gaan lees. Hy het wel in die tronk beland, maar nie om die redes wat ’n mens sou verwag nie. Hierdie jong man was anders.

Nadat die verhoudings in sy gesin uiteindelik ’n laagtepunt bereik het, het sy broers hom in ’n put in die woestyn gegooi. Uiteindelik besluit hulle om hom as slaaf te verkoop om finaal van hom ontslae te raak. Hulle kon dit net nie meer verduur dat hulle pa hom en sy jonger broer so voorgetrek het nie. Wie dink hy is hy, die klein snuiter, met al sy drome dat hy ’n leier sou word?

Josef se kans op ’n goeie lewe was uiters skraal. Tog word hy een van die legendariese figure in die Bybel. Wanneer ’n Bybelskrywer eeue later die groot geloofshelde in die geskiedenis vir hulle heldedade vereer, is Josef se naam ook daar. So is dit soms in die lewe – hulle van wie jy dit die minste verwag, bereik die hoogste hoogtes.

Maar watter een van Josef se groot en edel dade word deur die Hebreërbrief uitgelig? Daar was immers baie. As slaaf het hy sy meester se hele besigheid suksesvol bestuur. Hy het seksuele versoekings weerstaan. Hy het volhard in die tronk, en ook daar ’n leier geword. Sy geloof was sterk. Hy het ’n gawe gekry om mense te help deur sy bonatuurlike insig in die betekenis van hulle drome. En wat van sy genade vir sy broers of sy wysheid as eerste minister van Egipte?

Jy is dalk ’n bietjie teleurgesteld oor die heldedaad wat uitgelig word. Dat toe Josef op sy sterfbed was, hy sy mense laat belowe het dat hulle eendag sy oorskot sal saamneem wanneer hulle teruggaan na hulle land toe. Het die skrywer dan al sy ander heldedade vergeet?

Dit is juis wat Josef so ’n held maak. Sy geloof in die toekoms. In al sy krisisse, deur al die hartseer vanaf sy vroegste kinderdae en ongeag al sy ontberings, het hy ’n dromer gebly. Selfs op sy sterfbed het hy in die toekoms geglo.

Gister, met sy donker en pyn, kon Josef nie laat ophou glo in môre nie. Hy het gister met sy tirannie oorwin deur in die stryd van vandag só te leef dat môre altyd sou bly wink.

Ons het vandag nog dieselfde troos: Die God van Josef kan elke mens help om hartseer gisters te oorwin en met geloof na nuwe môres te reis.

Koos van der Merwe, bekroonde liedjieskrywer, digter, predikant en solokunstenaar.