Ek maak vriende met mango’s

0
49
dirk_vliener.jpg

As vlieënier het Dirk Coetzee die lig en die skadu van ’n gedeelte van hierdie kontinent anderkant die grense van Suid-Afrika leer ken.

Dis nogal ironies, dink Dirk, dat hy nou vir Mango werk en amper elk dag in ’n helderoranje vliegtuig vlieg. ’n Paar jaar gelede was die boks mango’s in die kajuit deel van die vreemde vragte wat hy so dikwels moes vervoer.

Dirk onthou die eerste keer wat hy op ’n rebelle-aanloopbaan moes land baie goed. Na ’n gespook en gespartel om sy vliegure te voltooi, het hy uiteindelik op Vrydag die 13de sy vlieglisensie gekry en die volgende dag na die Kongo vertrek.

Om in die lug te wees is vir Dirk tweede natuur. Dis waar hy tuis voel.Onbegrens. Dit het begin met valskermsweef en gaan op ’n internasionale straler eindig, droom hy. En op pad na daardie droom, beleef en sien hy dinge waarvan ons net in in flieks sien.

In die Kongo het Dirk vir die Rooi Kruis gewerk, en die personeel se veiligheid was die hoogste prioriteit. Op die grond sou lede van die organisasie met die rebelle onderhandel en seker maak dis veilig om te land. Eers wanneer die teken gegee is, sou die vlieënier die aanloopbaan aandurf.

“’n Ou lugmagoffisier het vir my gesê ek moet net maak of ek dit al jare doen, of dit maar net nog ’n lughawe is waar ek moet land,” onthou Dirk dié goeie raad. “Daarom het ek vinnig ’n paar Swahili-woorde geleer. Jambo vir hallo en habarie vir hoe gaan dit?” Asof dit die normaalste ding ooit is, het Dirk uit die stuurkajuit geklim, sy arm vinnig in die rigting van die rebelle geswaai en met selfvertroue in Swahili gegroet. “Niks vreemds het gebeur nie, so, ek neem aan dit het gewerk,” onthou hy daardie eerste kontak met die vreemde wêreld waarvan hy baie gou deel geword het.

Omdat die Demokratiese Republiek van die Kongo grootliks onbegaanbaar is vir landverkeer en die plekke baie ver uitmekaar is, is lugvervoer die enigste uitweg. Dirk-hulle moes daagliks enigiets van kragopwekkers en motorfietse tot meel en klere vervoer.

Daar was ook dikwels kindersoldate aan boord. Hierdie kinders is uit hulle ouerhuise gebuit om as onemosionele, doelgerigte soldate opgelei te word. Met ’n missie en sonder ’n gewete. Teen die einde van die rebelleoorlog is hulle in kampe regoor die land gelos sonder enige opdragte. Die meerderheid dink die oorlog is nog aan die gang.

[pagebreak] Die Rooi Kruis red dan hierdie kinders uit wrede omstandighede en neem hulle na rehabilitasiesentrums, waar hulle weer kan mens word. Maar om hierdie belangrike werk te doen, moes Dirk ’n verhouding met die rebelle opbou, vir almal se veiligheid, aangesien groot gedeeltes van die land nog onder rebellebeheer is. Rondom enige aanloopbaan was daar op enige gegewe tyd tot soveel as 150 gewapende rebelle.

Op ’n baie vreemde manier het Dirk ’n aanknopingspunt tussen hom en die rebelle ontdek. “Ek het eendag ’n mango geëet en hulle het my omtrent aangestaar. Net daar besef ek dat vrugte in hierdie area skaars is.” Toe het hy ’n plan gekry.

Nie lank daarna nie, was Dirk terug op die verlate aanloopbaan tussen rebelle wat lui teen hulle gewere lê en alles fyn dophou. Hy het uitgeklim, die gewone wuif gedoen en sy nou reeds geoefende twee Swahili-woorde geroep voor hy teruggebuk het en twee sakke mango’s uitgelaai het.

Met rustige handgebare en ’n mate van kommunikasie hier en daar, het Dirk beduie die mango’s was vir hulle. Op die meestal stroewe en agterdogtige gesigte het daar verbasing deurgebreek. Waar hulle altyd doodstil gesit en staar het as ’n manier om te intimideer, wou hulle nou nader kom en die wit man leer ken wat lyk asof hy nie so sleg is nie ...

Dit was die eerste keer. Die nuus het vinnig versprei en daarna kon Dirk dit nie waag om sonder mango’s op te daag nie, hulle het so gretig daarvoor gewag. En die geoefende Swahili-groet het gou ’n ander klank gekry: “Maembe, maembe!” het hulle mekaar nou toegeroep. Dit beteken mango in Swahili. “Dis ongelooflik dat iets so eenvoudig soos ’n vrug so maklik ’n vertrouensband tussen mense kan vorm.” Dirk onthou veral die jong seun wat altyd eerste die mango’s kom haal het. “Hy kon nie ouer as 16 gewees het nie. Met attitude! Hy het altyd rondgeloop asof hy alles besit. Ek het al baie gewonder wat van hom geword het...” En hy wonder ook oor die klein seuntjie. Die een wat so gehuil het.

Dit was nie altyd maklik om die kindersoldate se ouers op te spoor nie. Maar hierdie keer was die twee seuntjies gelukkig. Die Rooi Kruis het hulle ouers gekry en hulle was op pad huis toe. Die jongste boetie was seker so vier of vyf jaar oud. Hy was nog ’n pap baba toe hy uit sy ouerhuis weggeneem is. Van “huis” het hy niks geweet nie. Van vrees wel.

[pagebreak] “Dit was so deurmekaar,” verduidelik Dirk. “Probeer jou die prentjie indink ... ten minste vyf honderd mense wat praat en goed van hand tot hand aangee om in die vliegtuig te laai. Mense wat inklim en stamp en stoot. Dit raas. Dit krioel. Soos altyd het ek om die vliegtuig geloop om inspeksie te doen. Die klein boetie het al agter my begin aanloop. Onder die vlerk het ek gevoel hoe ’n klein handjie my broekspyp vasklou.”

Die kind het Dirk bly volg - hierdie man wat vir hom ’n teken van iets goeds was. Dit was tyd om op die vlerk te klim en brandstof in te gooi. Die seuntjie het verwese op die grond bly staan en huil. “Dit was so erg dat ek hom aan sy arm opgetrek het om by my te kom sit terwyl ek die tenk volmaak.” Daarna was dit tyd om te vertrek. Toe hulle die seuntjie in sy sitplek sit, het hy blou moord geskree. Hy het na Dirk gewys en in Swahili te kenne gegee dat hy nie gelukkig is daar agter nie.

“Toe ons in die lug is, het ek hom gaan haal en voor by ons laat sit. Die res van die vlug het ons een stryk deur gesels. Hy in Swahili en ek in Afrikaans! Hy was in die wolke!”

Die seuntjie se ouers het reeds saam met die Rooi Kruis by die lughawe vir hulle gewag. Na die landing was daar dieselfde chaos as voor die opstyg, behalwe dat daar dié keer ’n elektriese lading van emosies ook was. Gaan hulle mekaar herken? Dit is soveel jaar gelede ...

“Ek sal daardie oomblik nooit vergeet nie. Onthou, daardie seuntjie het geen beeld van sy ouers nie, hy was ’n baba toe hy daar weg is. Gevat om ’n soldaat te word. Van ’n ma se liefde weet hy niks. Maar hy het uitgeklim en deur al die mense wat daar saamgedrom het, reguit na sy ma-hulle toe geloop. Dit was magic. Die natuurlike instinkte van ’n kind is ongelooflik.”

Dirk het ’n wêreld beleef waarvan min ander mense weet. Maar dit is Afrika wat Dirk se lewe verander het. Die plek waar hy geleer het dat niks ook iets is. Dat klein seuntjies weer by die huis kan uitkom. En dat jy ’n gewapende rebel met ’n mango kan laat glimlag.

Wil jy nog ’n voelgoedstorie lees? Kliek hier om te lees hoe ’n jagluiperd ’n vrou se lewe gered het.