“Ek moes my baba weggee”

0
1148

Suzie Zijlstra van Kempton Park is in graad 11 verkrag en het swanger geraak. Sy moes die hartverskeurende besluit neem om die baba te laat aanneem.

Daar was nog altyd net foto’s van hom, maar toe die jong man aangestap kom, was daar geen twyfel nie, dit was hy! Dit het uiteindelik, na al die gewag en gewonder, gebeur. Juan du Plessis, die seun wat ek 22 jaar gelede laat aanneem het, het sy biologiese ma kom opsoek.

Wat ’n voorreg om hom te kon leer ken! Hy is ’n man met ’n sterk persoonlikheid en hy weet presies wat hy uit die lewe wil hê. Hy leer vir ’n pastoor, want hy wil vir die Here werk. Iets waarop enige ma sal trots wees.

Juan se lewe het traumaties begin. Ons was as ’n klompie maats saam by ’n partytjie en het later na iemand se huis toe gegaan. Twee seuns het agteraf gefluister. Een het my gevra om seks met hom te hê.

Toe ek weier, het hy my doodeenvoudig gedwing. Na die tyd het ek op ’n hopie bly lê en bitterlik gehuil. Hoe vertel jy dit vir iemand? Wie sal jou glo? Toe my maandstonde wegbly, was dit tyd om iemand daarvan te sê. My sussie het eerste die nuus gehoor. Sy het ons ouers vertel en die bal is aan die rol gesit.

Die seun was bereid om te trou, maar dit het net nie reg gevoel nie. Ons was nie lief vir mekaar nie, en hoe kon twee kinders in elk geval ’n kind grootmaak? Nog ’n opsie was om ’n (toe nog onwettige) aborsie te laat doen, maar dit was ook nie die regte pad nie.

Uiteindelik het net een opsie oorgebly: aanneming. Dit was ’n bitter moeilike ding om te doen, maar dit sou die seuntjie die beste kans op ’n normale en gelukkige lewe gee.

Ongelukkig is Juan se aanneemma aan kanker dood toe hy in graad 5 was. Daarna het hy al hoe meer oor sy regte ma begin wonder. Sy ouers het hom vertel hulle het sy regte mamma gesien en dat sy mooi, blond en slim is.

Hy kon egter eers op 21 begin navraag doen en toe spoor die aanneemorganisasie my binne twee dae op! Enkele dae voor die vrou van die aannemingskantoor gebel het, het ek vir my man, Wimpie, gesê dis tyd om te aanvaar dat ek Juan nooit weer sal sien nie. ’n Mens hoop maar altyd dat jou kind jou sal opspoor, maar later begin jy moed verloor.

Die vrou aan die ander kant van die telefoonlyn het gevra of ek sit. My kind wil my ontmoet en beter leer ken, het sy gesê. Sy wou nie sy telefoonnommer gee nie en het gesê sy gaan hom vra om vir haar ’n e-pos te stuur, en dan sal sy dit aanstuur.

Juan was blykbaar ’n senuweewrak oor dié e-pos. Hoe sê jy per e-pos vir iemand: Haai, Ma, aangename kennis? Toe die e-pos wel opdaag, was ek te bang om dit oop te maak. Sê nou dit was vol verwyte?

Dit was toe heeltemal die teenoorgestelde. Hoewel Juan aanvanklik geskok was om te hoor hy is die produk van ’n verkragting, troos dit hom dat ’n aborsie nie die uiteinde was nie.

Enige mens het maar vrese en onsekerhede in so ’n situasie en daarom was berading nodig voor die eerste ontmoeting. Maar toe ons ontmoet, het ek geweet hy is myne en dat hy welkom is in ons kringetjie. Nou is ons een groot familie – wat ’n seën!

Moederskap is ’n groot, groot voorreg. Dit kan jou lewe met versugtinge, verlange en trane vul, maar ook volmaak met hoop, nuwe lewe en versoening.

Vertel jóú geloofstorie oor aanneming. Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 MINUUT lank, na 062 194 2334.