Ek moet steeds bid, al ken Hy my behoeftes

Die psalmdigter sê dat ’n mens nie één van die goeie dade van die Here mag vergeet nie. Ons moet dus die spesiale dinge wat al deur die lewe met ons gebeur het, onthou en koester.

Sal ek ooit genoeg dankie kan sê vir daardie dag, dekades gelede, toe my broer vir my ’n boek van C.S. Lewis gegee het? Dié wyse professor in die Engelse letterkunde het meer gedoen as enige ander skrywer om my verstaan van die lewe te vorm.

Ek lees onlangs weer wat hy oor gebed sê. Dit is ’n vraag wat mense my oor en oor vra. Kan gebed werklik ’n verskil maak? wonder hulle.

Kan dit moontlik wees dat een mens uit honderde miljoene op aarde iets kan vra wat ’n groot impak op wêreldgebeure kan hê? Kan een persoon in die onmeetbare heelal, wanneer sy haar begeertes uitspreek, iets vra wat die verloop van dinge kan beïnvloed?

God is tog almagtig. Hy het mos die vermoë om enigiets te doen. En omdat Hy ook deur en deur goed is, sou Hy dit mos wou doen, nie waar nie? Dit sou tog nie sin maak dat Hy sou weier om ’n goeie ding te laat gebeur tot iemand daarvoor vra nie.

Sy wil is soewerein. Hy is alwys. Almagtig. Goed. Daarom sal wat moet gebeur, tog gebeur. Niks wat ek of jy doen of sê, kan regtig ’n verskil maak nie.

Om so te dink is fataal. Hoekom gebed anders benader as jou gewone lewe, jou alledaagse manier van doen en dink en optree?

Vra ek dieselfde vrae wanneer ons aan tafel sit? My pa weet tog ek is honger en gee om vir my. Daarom sal hy sorg dat die bak met die vleis en aartappels na my kant toe kom. Dit sal nie nodig wees om eers te vra dat iemand vir my die sout aanstuur nie.

Hoekom sal ek die kraan gaan oopdraai vir my badwater? Watter verskil kan wat ek doen of sê, tog regtig maak? As God goed en almagtig is, sal Hy die regte ding laat gebeur. En die “regte ding” is dat ek nou in ’n warm bad moet kom.

Enige mens wat só ’n siening oor die lewe sou hê, sal haarself en vele ander oneindig skade berokken. Wat jy doen en dink en bid, maak vir seker ’n verskil. Dit is so bepaal.

Die psalmis sê dat die mens ’n weinig minder as ’n goddelike wese is. Dus, jy het die vermoë om besluite te neem. Die vermoë om reg en verkeerd te doen. Die vermoë om dinge te veroorsaak.

Lewis noem dit die geskenk van “causality”. Jy het ’n invloed. Jy kan veroorsaak dat iets gebeur – of nie! Jou gebede het groot krag.

Jy kan die kraan vir jou badwater oopdraai of toe los, nes jy wil. Jy kan bid. Of nie bid nie. Wat jy ook al doen, dit gaan beslis ’n verskil maak.

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.

Gebruik die afslagkode KOOS om die boek STAAN OP, STAAN VAS, STAAN UIT te koop op voelgoedboeke.co.za. R104 R149