Ek omhels verandering

0
908

Angelique du Toit van Annique Health & Beauty moes baie onstabiliteit in haar lewe die hoof bied. Sy weet dat goeie prioriteite die beste van so fase maak.

Ek het my loopbaan sonder enige hoërskoolopleiding begin. Dit was beslis ’n tydperk van onsekerheid en verandering. Aan die begin was ek net desperaat om hoop en ’n oplossing te vind, maar dit is wonderlik om te sien hoe die pad na sukses by vrees kan begin. Vir my was dit die wêreld van direkte verkope. As jy lank genoeg aan iets werk en jou eie krag vind, verander daardie desperasie in inspirasie.

Mense is altyd bang vir verandering, omdat dit hulle wegvat van wat hulle goed en maklik kan doen. Ek het geleer om die waarheid te sien en te aanvaar dat verandering deel is van die lewe. Wanneer ons dit probeer weerstaan, verkwis ons net energie wat ons meer produktief kon gebruik het. Die werksmark sal nooit krimp vir mense wat hulle eie uniekheid gebruik nie. Dit kom net van aanhou beweeg en nooit vasval nie.

Op ’n stadium was ek ook baie bang daarvoor en vir wat dit van my sou vra. Dit het my ’n ruk gevat om daardie vrees te oorkom, maar nou is ek dankbaar daarvoor en sien die voordele daarvan. Met elke verskuiwing en oorgang in my loopbaan het ek net nog hoër horisonne bereik. Ons het sommige dorings op ons pad nodig om aan te hou beweeg na groter en beter dinge.

Die grootste prioriteit in die middel van ’n oorgangsfase in jou loopbaan is jyself. Ek moes ook daarmee begin – om met nuwe oë na myself te kyk en ’n nuwe identiteit en eiewaarde te vorm. Daarsonder sal jy niks bereik nie. Besluit om getrou aan jouself te wees. Dis eintlik iets wat ons elke dag in ons loopbane moet doen. Is ek getrou aan my eie hart of sê ek eintlik ja wanneer ek nee bedoel?

Wanneer dit tyd is vir ’n verandering, weet wat jou strategie is. Dit begin deur die regte vrae te vra: Wat maak my gelukkig of ongelukkig? Wat is my doel? Waaroor is ek passievol? Dit is alles deel van ’n strategie. Die skrywer Ken Costa maak ’n baie sterk stelling: “As jy weet wat jou ‘hoekom’ is, sal jy die weg vind.” Behalwe dit, moet jy jou besigheid baie goed ken. Vir my is dit direkte verkope, skryf en motiveringspraatjies.

As jy prioriteite reg is, sal jy dit sonder enige moeite produktief kan aanpak. Produktiwiteit beteken egter ook om die beste te maak van die tyd wat beskikbaar is en om dit met soveel as moontlik fokus en deursettingsvermoë te benader. Daar sal natuurlik mense wees wat dink jy kan iets nie doen nie. Ignoreer hulle. As jy weet hoekom jy iets doen en jy ken jou besigheid, kan niks jou terughou nie. Dis ’n keuse om uitstekend en nie middelmatig te wees nie.

Ek is op die uitvoerende bestuur van Annique Health & Beauty. Ons verander lewens deur mense gesonder, mooier en welvarender te maak met ons rooibosgebaseerde produkte en die besigheidsgeleentheid van direkte verkope.

Wenke vir sukses…

  • l Verstaan jou “hoekom”, die rede agter jou bydrae tot die wêreld.
  • Vind jou durf, jou veerkragtigheid en jou vermoë om deur te druk.
  • Leer by wie jy kan, waar en wanneer jy kan.
  • Kry genoeg slaap en oefening en hou by ’n gesonde dieet.
  • Stel altyd mense se waardes voor enige taak of funksie.

Ons bied kliënte…

Ons besef dat mense die belangrikste bate in ’n organisasie is. Uitnemendheid as dit by kliënte kom, is daarom baie belangrik. ’n Organisasie bestaan net om ’n verskil in die wêreld te maak. As ons ’n behoefte vind en daarin voorsien, sal die besigheid nooit opdroog nie.

annique.com