“Ek sal nie toelaat dat mense my etiketteer nie”

266

Eendag stap iemand by ’n kunsgalery in. Daar is pragtige kunswerke maar een spesifieke skildery trek die persoon se aandag. Hy wil dit graag koop, maar daar is nie ’n prys op nie.

Toe die klant vra wat die kunswerk kos, vra die eienaar verbaas: “Is dit dan nie gemerk nie?”

Die eienaar wil weet wat die klant vir die skildery sou betaal. Hy bied ’n bedrag aan wat baie laer is as die oorspronklike prys.

Die skildery kan tog seker nie so belangrik wees nie. Niemand het dan eens die moeite gedoen om ’n waarde daaraan te koppel nie.

Die eienaar voel dadelik beledig omdat die man geen idee het van hoe waardevol die kunswerk is nie. Dit het die skilder ses maande geneem om dit te skilder, met behulp van ’n baie ingewikkelde tegniek. Die skilderdoek is handgemaak en die olieverf wat hy gebruik het, is van die duurste wat ’n mens kan kry. Dis ’n meesterstuk!

Hierdie storie het my laat dink hoe dikwels ons toelaat dat ander mense besluit wat ons werd is. Dis maklik vir iemand om te sê wat hulle van jou dink. Veral op sosiale media gebeur dit gereeld dat mense mekaar slegsê.

As jy nie jou waarde ken nie, sal jy glo wat hulle sê. As jy egter weet hoe ontsaglik kosbaar jy is, sal dit duidelik wees in jou optrede en woorde. Dan sal mense jou nie so maklik in ’n boksie plaas nie.

’n Mens sou dink dis vanselfsprekend, elke vrou weet mos wat daar in haar steek. Tog loop baie van ons rond met ’n swak selfbeeld. Ons laat toe dat die wêreld vir ons vertel ons is nie mooi genoeg of maer genoeg nie. Of nie so ’n goeie tuisteskepper of beroepsvrou soos Saartjie van langsaan nie.

Rouchelle Liedemann: “Ek probeer om die beste weergawe van myself te wees”

Is jy dapper en selfversekerd? Of onseker en bang? Onthou, dit beïnvloed ons keuses omdat ons besluite neem uit óf ’n selfversekerde óf ’n onseker ingesteldheid.

Watter raad gee jy vir ’n vriendin as sy die dag mismoedig voel? Jy vertel haar sy is ’n oulike vrou vir haar man. ’n Goeie ma vir haar kinders. Hoe lekker sy kan koek bak. Hoe mooi haar huis versier is. Hoe jy haar as ’n staatmakervriendin waardeer. Dat jy wens jy kon plante so goed laat groei soos sy.

Maar as jy self so voel, dan is jy jou eie grootste kritikus en sê net negatiewe dinge vir jouself. In jou eie oë kan jy niks behoorlik doen nie.

Hoekom nie ’n nuwe rigting inslaan nie? Besluit vandag nog dat jy voortaan jou eie grootste cheerleader gaan wees. Begin om jouself ’n bietjie krediet te gee vir iets wat jy goed gedoen het, al is dit net dat jy ’n fantastiese eier kan bak!

Sit brieke aan met al daardie negatiewe praatjies oor jouself. Onthou, jy is uniek, kosbaar en duur gekoop.

ROUCHELLE LIEDEMANN is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.