Ek sny hare vir Hom

180

Adèle van Niekerk wou nooit ’n haarkapper wees nie, maar vandag snoei en werk die Here aan mense deur haar hande en profetiese woorde.

Ek wil in tale kan praat,” is die gebed ná my bekering. “Jy moet mense se hare doen,” is Sý antwoord.

Nee, net nie ’n haarkapper nie! Dit was nooit deel van die plan nie. Ek het teaterkunde en filmwese gestudeer, en eerder gedink aan vervaardiger of aktrise. “Goed, Here, kom ons maak ’n deal. As U my in tale laat praat, kan ons vir ’n rukkie kyk hoe dit gaan.”

Skielik word ek van die bed af geslaan, met my hande wat brand asof daar kole vuur in is. Toe staan ek bewerig op… en begin in tale praat! Die Here het sy belofte gehou, en nou was dit my beurt. Sy salwing op my hande was baie tasbaar.

Ek het toe reeds by ’n salon gewerk, al was dit heeltemal teen my sin. Daar was ’n Engelsman wat elke drie of vier maande sy hare by my laat sny het. Die arme siel. Hierdie dametjie was glad nie bekwaam nie, en kon happe sny soos jy nie sal glo nie! Maar dié man het bly terugkom.

Die dag na my tale-ervaring was hy weer daar. “Oh my word, have you been on a cutting course?” vra hy. Sy woorde tref my soos ’n skoot koue water. Hy was heeltemal reg. Ek moes seker op ’n “bonatuurlike” haarsnykursus gewees het, want skielik kan ek hare sny!

Professionele happe, dis my tegniek en my leuse, tot vandag toe. As jy van happe in jou hare hou, kan jy maar na my toe kom, want ek doen dit mooi en professioneel.

So het die salon my bedieningsveld geword. As daar ’n getuienis gelewer moes word of vir iemand gebid moes word, het Hy dit op my hart gelê terwyl hierdie mense voor my in die haarkapperstoel sit.

Meestal werk dit so dat die spesifieke persoon my laaste kliënt vir die dag is. Wat gewoonlik gebeur, is dat Hy, soos hulle inkom, vir my ’n visie, profetiese woord of Skrif vir hulle gee. Hy wys my ook dikwels wat in hulle lewe aangaan, en dan weet ek wat om vir hulle te sê.

’n Mens val ook nie net met die deur in die huis nie. Jy wil mos nie ongeskik wees nie. Jy vra eers of hulle oop is vir gebed of ’n woord van die Here af. Baiekeer sal hulle self vra dat ek vir hulle bid.

Partymaal kom mense terug en vra wat ek nou weer daardie dag vir hulle gesê het. Gewoonlik is die antwoord: “Jammer, daardie dag was spesifiek vir jou, so, dis lankal nie meer in my kop nie. Maar die Here weet. Vra Hom en Hy sal dit weer wakker maak in jou gees.”

Selfs wanneer ons aan TV-reekse soos Glam Guru werk, werk Hy deur my. Elke keer as daar ’n vrou aan my toegesê word wat deur die dag my verantwoordelikheid is, het die Here vir my ’n woord vir haar.

Gewoonlik sê ek: “Asseblief, ons moet net voor die tyd klaar huil. As ons op die verhoog klim of voor die kamera verskyn en ons moet jou van voor af mooi maak, gaan Hannon nie baie tevrede wees nie.”

Daar is elke oggend ’n lied in my hart, want ek weet dis koningswerk. “Wie en wat vandag, Here? Wat wil U hê moet ek vandag met die mense in my haarkapperstoel doen?”

Hy is getrou en wys my elke keer. Dis altyd die regte ding en regte woorde, op die regte tyd. Jy moet net bereid wees om te luister. En dan gehoorsaam wees en doen.