Ek spits my ore vir die lewe!

0
41
dia_van_staden.jpg

’n Paar jaar gelede wou Dia van Staden net anoniem wees. Vandag is sy een van die gewildste omroepers by Radiokansel met haar program Dinsdag met Dia.

’n Paar jaar gelede wou Dia van Staden net anoniem wees. Vandag is sy een van die gewildste omroepers by Radiokansel met haar program Dinsdag met Dia.

Ek het van kleins af gedroom oor… Wimbledon met aarbeie en room. Ek was ’n kranige tennisspeler! Die lekkerte van sport het egter die oorhand gekry, want professionele sport was ’n te ernstige saak vir my. Later wou ek ’n maatskaplike werker word wat met alkoholiste en bejaardes werk. ʼn Onderwysbeurs het homself egter in matriek voor my kom parkeer en dit was ’n roeping wat ek gekies het sonder om twee maal te dink. Dissipline was nog altyd vir my belangrik.

Een van my grootste uitdagings nog was… depressie, waarmee ek in afsondering geworstel het deur weg te kruip en my masker te dra. Deure het onverklaarbaar toegeklap en my tyd in Polokwane het na 27 jaar tot ’n einde gekom. Ek het Pretoria toe verhuis, waar my jongste broer my moes onderhou. Die ongeveer 80 werksaansoeke wat ek ingedien het, het niks opgelewer nie.

My selfvertroue was verpletter en ek het radeloos gebid: “Dankie dat U plan beter as myne is.”

God is steeds in beheer in moeilike tye… en Hy verras my daagliks! Die deure wat intussen oopgegaan het, het Hy oopgeswaai, sonder dat ek enige verwagting in dié rigting gehad het. My tyd in een dorp het tot ’n einde gekom, maar nie sonder dat ek beleef het dat mense my verstoot nie. Dit was nogal erg. Die Here het egter geweet dat ek in my gemaksone sou bly as Hy my nie op daardie manier “verplig” het om aan te beweeg nie.

As ek terneergedruk voel, motiveer ek myself deur… te onthou dat Sy plan baie groter en beter as myne is. Ná byna drie jaar in Pretoria moes ek meer van myself leer en kon slegs op Hom staatmaak, omdat ek nie meer die uitgebreide netwerk van Polokwane gehad het nie. My werk by Radiokansel is vir my ongelooflik lekker. Dis ’n voorreg om elke week na iemand anders se lewensstorie te luister, dit met luisteraars te deel en by hulle te leer.

Buite die ateljee hou ek my besig met… boeke. Ek is mal oor boeke. Ek bied weekliks die boekgesprek in ’n program op kykNET aan, sowel as die jaarlikse BoekeJol en FilmRolfees in Pretoria. Vanjaar bied ek ook saam met die Casa Deo Development Trust ’n slypskool aan waar mense touwys gemaak word oor hoe om in hulle eie gemeenskappe te werk en ’n verskil te maak. In 2018 gaan ons met ’n brugjaarsentrum vir post-matrieks begin, so, ek bou intussen verhoudings met toegewyde en kundige vennote vir die sentrum.

Ek berei voor vir Dinsdag met Dia deur… my ore te spits! In byna elke geselskap, koffiewinkel, winkelry en sosiale kuiertyd is daar iemand wat ’n storie of lewenswysheid deel wat deur die luisteraars gehoor móét word. Dis fantasties opwindend wanneer ’n tema of kuiergas se gesprek help om swaar klippe uit ’n ander se pad te rol. Die feit dat ek die lewe al gelééf het, help baie. Dit verbreed my vermoë om te weet waarmee mense stoei.

Die grootste waarheid wat ek geleer het, was… dat om opreg te leef, beteken om jou voete van klei te erken. Iemand se woorde of dade hoef my nie noodwendig te pas nie, maar moet eerlik wees sonder om gevoelloos te wees. Ek meet verder my werk aan genade, nie sukses nie.

Dia bied die program, Dinsdag met Dia, Dinsdae om 09:00 aan. Skakel in op 657AM.

 

 

DEEL
Vorige artikelGesoute snoekpoffertjies
Volgende artikel[VIDEO] Moed om te doen wat vir jou werk
This is the "wpengine" admin user that our staff uses to gain access to your admin area to provide support and troubleshooting. It can only be accessed by a button in our secure log that auto generates a password and dumps that password after the staff member has logged in. We have taken extreme measures to ensure that our own user is not going to be misused to harm any of our clients sites.