“Ek stap vir mishandelde vroue”

351

Mense het gedink Debbie Taylor is laf toe sy en ’n kollega van Kaapstad na Johannesburg gestap het. Maar Debbie was op ’n missie…

Dit het al meer as 30 jaar gelede gebeur, maar dis iets wat ’n mens nooit vergeet nie. Ek en my gewese man het by vriende gekuier. Hy het die hele middag gedrink en kort voor lank met sy streke begin… my gevloek, voor sy vriende verneder en uitgeskel vir al wat sleg was.

Ná vyf jaar se getroude lewe was dit al ’n ou storie. Om die waarheid te sê, ek het hom naderhand begin glo.

Daardie dag was dit anders. Ek het teruggepraat. Hy het ’n stomp opgetel en my oor die rug gemoker. My gesig het eerste in die stof geploeg en ek het geweet ’n tweede hou gaan volg as ek nie vinnig wegkom nie.

Op die strand het ek huilend van vrees en skok inmekaargesak. Hy het my net een kyk gegee en weggeloop.

Daardie middag het iets hier binne gebreek. Dit kon nie langer so aanhou nie. Selfdood het na die enigste opsie gelyk.

Doodkalm het ek na ’n pyp gaan soek en ’n tuinslang gekry. Die tuinslang het mooi in ons motor se uitlaatpyp gepas, met die ander punt agter by die motor ingedruk. Toe het ek ingeklim, die deure gesluit en die masjien aangeskakel.

Dis die maklike uitweg, maar is dit die enigste een? het dit skielik deur my gedagtes geflits. Wat sou van my dogtertjie word? Nee, daar móés ’n ander manier wees.

En daar was. Ons moes wegkom. Ons het ’n dag later uitgetrek – met net ons klere. Dit was tyd om oor te begin.

Daardie voorval, en vele vóór daardie een, het my ’n kampvegter vir die regte van vroue en kinders gemaak. Dit was die begin van Angels Haven.

Maar ek wou méér doen. Dis hoekom ek en Samantha Beale besluit het om die staptog aan te pak. Om fondse in te samel en mense bewus te maak van duisende vroue en kinders se lot, reg onder ons neus.

Dit was liggaamlik en emosioneel baie moeilik. Ons het 50 tot 70 km ’n dag gestap en verskriklike stories van fisiese en seksuele mishandeling gehoor, veral in die Karoo.

In die meeste dorpe was dit dieselfde storie. Niemand wou daaroor praat of help nie. Dit was asof dit die gemeenskap se donker geheim was.

Buite een van die dorpe het ek op die vlakte uitgestap en net op ’n plek gaan sit en huil. Die hartseer was oorweldigend. Sou die stappery enigsins ’n verskil maak? Was dit die moeite werd? Ek het ook my ouers, wat albei al oorlede is, verskriklik gemis.

Alles het skielik stil geword en ek het Sy en my ouers se teenwoordigheid duidelik gevoel. Vir ’n uur lank het alles wat in my hart was, net uitgeborrel en ’n wonderlike vrede het oor my gekom.

Toe ek opkyk, was daar ’n perfek-gevormde hand in die wolke. Ek het geglo dit was ’n teken van die Here af wat sê Hy wéét, ons moet net moed hou. Hierdie poging is nie verniet nie.

Vertel jóú geloofstorie oor ’n wonderwerk.
Stuur ‘n stempos (voice note) van 1 MINUUT lank, na 062 194 2334. Luister elke Vrydag na jou en ander se geloofstories by voelgoed.co.za/mygeloofstorie.