Ek sukkel met moedeloosheid

Ek stry teen dit soos ‘n bokser in ‘n kryt. Party dae wen ek, maar meeste van die tyd verloor ek.

Ek bid weekliks… nee, daagliks teen dit.

Daar is dae wat ek wonder of al die gesukkel, al die beproewings en al die opofferings regtig die moeite werd is. En wanneer ek toelaat dat my hart my kop lei op hierdie deurgetrapte pad, laat ek versoeking toe om my te laat wonder oor die “wat as” oomblikke. Wat as ek ophou skryf? Wat as ek ophou leiding neem en ophou om vroue te help om daagliks in God se Woord te groei? Dink net hoeveel makliker gaan my lewe dan wees. Hoeveel meer tyd gaan ek hê om ander goed te doen. Hoeveel minder spanning gaan ek hê.

Daar is dae wanneer ek die emosies en die twyfel wat in my kop opsteek moet afskakel die oomblik as ek wakker word, en kies om uit die bed uit op te staan en om te werk, ongeag van hoe ek voel. Want hierdie wêreld is nie my woning nie en dit is ook nie joune nie. Die lewe hier is nie perfek nie. Ons kry nie altyd die gelukkige einde nie…. ten minste nie aan hierdie kant van die hemel nie.

Ons is verdruk, maar nie terneergedruk nie; oor raad verleë, maar nie radeloos nie; vervolg maar nie deur God verlaat nie. (2 Korintiërs 4:8-9)

Ek dink nie ek is alleen in my stryd teen moedeloosheid nie. Ek dink Paulus het van tyd tot tyd ook moedeloos geword.

En dit is hoekom ek so lief is daarvoor om 2 Korintiërs 4:8-9 te lees. Op ‘n vreemde manier bemoedig dit my.

Paulus, een van ons geloofshelde, was ook ‘n man wat beproewings, pyn en moedeloosheid geken het. Net soos ek, en ek raai… net soos jy.

Paulus se lewe was ver van perfek en nie eens naastenby maklik nie, maar hy het aangehou. Selfs te midde van die beproewings en moedeloosheid het hy sy emosies opsy geskuif en voluit vir God gevolg.

As ons kyk na Paulus se evangelisasie in die lig van die wêreld se definisie van sukses, was hy nie baie suksesvol nie.

En tog, ten spyte van die moedeloosheid, terugslae en beproewings… het hy nie moed verloor nie en aangehou.

En so moet ons ook.

Soos Paulus, kan ons steeds kies om dapper te wees wanneer ons moedeloos is.

Hoekom? Omdat God ons belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie. (Deuteronomium 31:6)

Elke rede wat ons het om moedeloos te voel, is ook ‘n geleentheid om God te verheerlik.

Dit is moeilik vir die wêreld om te sien watter verskil Christus in ons lewens maak wanneer ons lewens perfek en sorgvry lyk. Maar wanneer die lewe ons plat slaan en ons kies om dapper te wees en weer op te staan, sien die mense in ons lewens dit raak. Soos Paulus, wanneer ons platgeslaan word deur die lewe se omstandighede, maar nie vernietig word nie, word ons ‘n geleentheid gegun om te wys watter verskil Christus in ons lewens maak.

Ons stryd is werklik, maar so ook ons Verlosser.

Moedeloosheid diskrimineer nie, maar God ook nie. Hy gee sy krag vrylik vir ons en gee presies wat ons nodig het in ons stryd.