Ek vat die pad

Weereens oor ‘n klip geval… Hoeveel keer gaan ek nog seerkry op die pad? Dis die een hindernis op die ander en klippe en takke wat skraap.

Daar kom so baie afdraaipaaie in ‘n mens se lewe dat jy nooit seker is of jy die regte een vat nie. Dis so maklik om die verkeerde pad te vat. Dit gebeur uit eie keuse, God dwing niemand om op die regte pad te bly waar Hy vir ons die rigtingwyser duidelik langs die pad plaas nie. Die padkaart is ook maklik om te lees: die Bybel.

Maar soms dink ons ons weet beter. Net soos ‘n hardkoppige kind, wil ons mos altyd ons eie ding doen en as die probleem opduik, kan ons so gou na God roep vir hulp.

Maar al het jy op die klipperig stofpad beland onthou, God sal jou skaduwee wees.

En al kom jy dalk voor ‘n afgrond te staan, dan hoor jy God se stem: “Hier is die pad, loop hierlangs.”

Al val jy hoeveel keer en bly in die stof lê, sal God sy arms om jou vou en jou weer op help. Hy is jou Bewaarder, Hy sluimer of slaap nie, God sal ons nooit alleen laat nie of in die steek laat nie.  Hy sal Sy 99 skape alleen los om een verdwaalde skapie op ‘n verkeerde pad te gaan soek.

Bely jou sondes aan Hom. Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe.

Moenie moed verloor langs die pad nie, volhard, hou aan, want voor wag die prys vir jou.

Vorige artikelSelfs beurtkrag kan lekker wees!
Volgende artikelVrees, waar’s jou angel?
Blogger - Lalie Kiesling
Ek is 52jr en ek moet sê, ek was nooit op skool goed met opstelle en sulke goed nie. My ma moes maar altyd inspring en help. Maar soos die tyd aangestap het, het ek al hoe meer gedagtes gekry, meestal oor geloof. Ek weet nie of dit ‘n gedagte is of deur die Heilige Gees aan my gegee is om met mense te kan deel nie? Ek het begin om my briefies aan Leef, Finesse en Keur tydskrifte te stuur, want ek wou so graag die gedagtes met iemand deel. Ek weet dat hulle nie altyd jou goed in die tydskrif kan plaas nie, maar ek het darem ‘n paar geskenkies gekry vir die beste brief. Maar dis nie vir my belangrik nie. Net die idee dat iemand dit kan lees en dalk daaruit iets vir hulself kan vat is vir my belangrik.