“Ek was amper op ’n geestelike dwaalspoor” vertel Charlize Berg

1596
Charlize Berg

Die sangeres CHARLIZE BERG is passievol lief vir die Here. Tog sou sy nooit kon voorsien dat die internet haar op ’n dwaalspoor sou lei nie. Sy het geweet sy is jonk, sensitief en soms ’n bietjie naïef, maar het nie gedink dat sy só weerloos sou wees nie.

Die internet is ’n gevaarlike plek, het ek op die harde manier geleer. Ek was besig met een van my gunstelingtydverdrywe – om geloofsgetuienisse op die internet te lees – toe ’n venster op die skerm skielik oopmaak.

Dit was ’n videogreep oor eindtydprofesieë. Die boodskap wat voorgelees is, was interessant en het heeltemal Bybels geklink. Toe dit klaar was, het ek op nog ’n skakel gekliek en na ’n hele paar video’s gekyk.

Só het ek op die webwerf van ’n Pinkster-Messiaanse eindtydbediening beland, met duisende lede wêreldwyd.

Op die oog af het alles heeltemal Christelik gelyk. Daar was ’n klomp bekende Bybelse simbole op die tuisblad, soos ’n duif, ’n leeu, engele, vuur, ’n swaard en ’n man op ’n wit perd. Dit het my beïndruk, want dit het geklink asof die mense weet waarvan hulle praat.

Ons het in ’n gewone, Christelike huis grootgeword. Van kleins af al was ek passievol lief vir die Here.

My pa, Petrus, het baie daarmee te doen gehad. Hy is ’n diep geestelike man. Ek onthou nog hoe hierdie groot, frisgeboude boerseun saans ná werk langs ons beddens gekniel het.

Hy het gedink ons slaap al. Dan trek hy los in sy diep stem en bid die mooiste gebed vir sy drie kinders – vir my, my tweelingboetie en ons jonger broer.

Om te bid en kerk toe te gaan was so deel van my soos asemhaal. Toe ek ouer word en die internet ontdek, het dit my groter toegang gegee om nog te leer. Dit was veral mense se geloofstories wat my geïnspireer het.

Sang is die ander groot liefde in my lewe. Van kleins af was ek mal daaroor om in die bad te sing.

My ouers was ook baie lief vir musiek; ons het na alle genres geluister. Van klassiek tot Abba, Madonna en selfs die rock-metalgroep Meatloaf.

Toe ek twaalf was, het my ma-hulle vir die eerste keer besef hoe lief ek vir sing is. Ons het ’n onderdakswembad by die huis gehad, met net so ’n mooi akoestiese klank soos die badkamer. My pa het dié dag rustig langs die swembad ontspan toe ek op ’n stoel klim en plegtig aankondig dat ek wil sing.

“Nou maar goed, Dogtertjie,” het hy my laggend op my troetelnaam genoem. “Nou toe, sing.” Ek het losgetrek met Céline Dion se “My heart will go on”.

“Maggies, Ilse, hóór jy dit?” het my pa na my ma se kant toe geroep. Stomverbaas. “Sy klink soos Barbara Streisand op party plekke.”

“Wie’s Barbara Streisand?” was my onskuldige vraag.

“My kind,” het hy in sy diep stem gesê en ’n traantjie weggepink, “dis ’n tannie wat baie mooi kan sing.”

Van daar af het my ouers alles in hulle vermoë gedoen om my sangdrome te ondersteun. Die Here het my met ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk geseën, en deure het al vroeg-vroeg vir my oopgegaan.

Ná ’n hele paar talentkompetisies en optredes het ek my eerste platekontrak op 17 gekry. Later het die platemaatskappy vir my en my ouers die geleentheid gebied om Los Angeles toe te gaan.

Daar het ek saam met ’n bekende liedjieskrywer gewerk, wat treffers vir popsterre soos Christina Aguilera en Selena Gomez geskryf het.

Ek was verskriklik opgewonde en het vas geglo dit is deel van Sy groot plan met my lewe. Maar na ’n paar maande het ons agtergekom dis nie so maklik nie. Om jou in die Amerikaanse musiekbedryf te vestig, moet jy permanent daar bly en groei as kunstenaar.

Die dag toe ek besef sake gaan nie verloop soos ons gehoop het nie, was ek platgeslaan. “Hoekom, Here?” was my moedelose vraag.

Dalk het Hy toe besluit: “Goed, Charlize, kom Ek wys jou.” Dis tóé dat ek die donker kant van Hollywood beleef het.

Ek het by een van Amerika se gewildste musiek-ekspo’s opgetree, en dis waar ’n fotograaf my raakgesien het. Dit was dieselfde man wat bekende modelle soos Candice Swanepoel en Behati Prinsloo “ontdek” het.

Hy het my genooi om vir ’n paar weke alleen, sonder my ouers, terug te gaan Los Angeles toe sodat hy my aan die belangrike mense in die bedryf kon voorstel.

My ma het gesê sy sou my onder geen omstandighede alleen laat gaan nie. Ook maar goed. Sy het vir ons ’n woonstelletjie in Los Angeles gehuur waar sy gebly het terwyl ek saam met mnr. Fotograaf gaan toer het.

Die man was reg: Ek hét groot name in die bedryf ontmoet en skouers geskuur met beroemdes.

Maar by al die partytjies en glansgeleenthede was daar ook dwelms betrokke – dis deel van die Hollywood-leefstyl. As jy nie meedoen nie, is jy ook nie deel van die binnekringe nie.

As ’n plat-op-die-aarde-boeremeisie, met goeie, “outydse” waardes, was ek heeltyd die odd one out. Hierdie plek, en sy manier van doen, was nie vir my nie.

Ek het nog baie gehad om te leer. As jy jonk en naïef is, besef jy nie hoe belangrik dit is om goeie oordeel en geestelike onderskeidingsvermoë te hê nie.

Omdat ek so ’n sensitiewe kunstenaarsiel het – en maklik beïnvloed word – het ek nie die gevaarligte gesien nie. Die bediening op die internet was nie alles wat dit voorgegee het om te wees nie.

Ek het aanlyn aangesluit en sommer ’n hele klomp ander lede as Facebook-vriende bygekry. Fantasties! Ons is soos een groot familie, het ek opgewonde gedink.

Die mense was baie vriendelik. Hulle het my welkom laat voel en mooi boodskappe en Bybelverse gestuur.

Dit het nie lank gevat voor ons almal geglo het dat alles wat Christelik is, verkeerd is nie. Dit het my grootste begeerte geword om Joods te wees.

Tussendeur al die geestelike waarhede was daar nuanses van valsheid. Daar is byvoorbeeld in video-boodskappe verkondig dat die Heilige Gees eintlik God se vrou is en dat Jesus as hulle kind gebore is.

Ek kon ook nie die manier miskyk waarop hulle teenoor mense opgetree het wat dit gewaag het om hulle rug op die bediening te draai nie.

Van die posts het my geskok: “As jy ons verlaat, sal God jou vir altyd haat en jou in die hel laat brand.” So het hulle in Facebook-boodskappe teenoor voormalige lede uitgevaar.

“Brothers and sisters,” het ek in ’n Facebook-boodskap getik. “Hoe julle nou optree, is nié God se wil nie. Jesus sê ons moet lief wees vir ons vyande en hulle seën, nie vervloek nie.”

Dit was glad nie wat hulle wou hoor nie. Hulle het my aangeval en uitmekaar getrek. My karakter beswadder en my uitgeskel.

Ek het opnuut besef hoe onnosel dit was om alles te glo. Dis tog ’n feit dat my loopbaan in Sy hande is.

Wat ’n skok om te besef waarby ek betrokke geraak het! Ek het verskriklik gehuil en oor en oor vir die Here, en vir my familie en vriende, jammer gesê.

As iets 90% reg klink en 10% vals, dan is dit vals. Bly weg. As iemand jou met vrees probeer manipuleer en jou intimideer, kies die hasepad.

Moenie agter mense se woorde, profesieë, beloftes en geloofsgetuienisse aanloop nie. Gaan toets hulle woorde aan wat Sy Woord daaroor sê.

Ek het ook geleer dat my saligmaking nie afhang van my voorkoms, wat ek eet, wat ek vier of watter Godsname ek gebruik nie. Of jy nou “Jesus” of die Hebreeuse “Yeshua” sê, maak jou nie meer of minder heilig nie. Hy kyk na jou hart.

Dit voel asof daar ’n enorme las van my skouers af is. Ek voel weer vry om die Here voluit te dien. Om Kersfees en Paasfees te vier sonder om skuldig te voel. Ek is Charlize Berg, ’n Christen… en trots daarop!