“Ek was verslaaf aan pynpille”

0
268
verslawing.jpg

Marianne Meiring (43) ken die slaggate van verslawing. Dis ’n hunkering wat gedurig aan jou vreet. Jy moet elke keer kies, vír of teen – en dis ’n keuse wat net jý elke dag opnuut kan maak.

“Net twee pilletjies,” bid ek onskuldig. “U verstaan. Dit sal help met die senuwees, Here,” probeer ek onderhandel. “Vergewe my,” pleit ek, terwyl die pynpille soos twee vertroosters in my bewende hand lê. Want dís wat die pille baie jare vir my was. Die waarheid is, ek sukkel al lank met verslawing. Eers was dit dieetpille. Toe drank, wat die skerp kant van die lewe ’n bietjie stomper en blinker gevyl het. En nou is dit pynpille; sommer dié wat jy oor die toonbank koop. Dis ’n verslawing waarmee ek al 13 jaar lank stoei.

Waar het alles begin? Is die eerste saadjies van verslawing gesaai toe ek tussen 4 en 12 jaar gemolesteer is? Het die saad wortelgeskiet toe daar vroeg in ons huwelik probleme opgeduik het? Het die wortels dieper gegroei toe ek besluit het om ’n aborsie te kry, want ek het nie kans gesien vir ’n derde baba nie? Ek weet nie. Die kern van my verslawing is waarskynlik ’n sameloop van al hierdie dinge. Wanneer ek my kwota van 12 tot 18 pille per dag gesluk het, het dit het my vroliker laat voel. Meer in beheer van my lewe, wat andersins besig was om uitmekaar te tol.

Ek en my man was soos vreemdelinge. Hoe hanteer ’n mens ’n vrou wat heeldag op ’n trip is? Hoe verwerk jou kinders dit om na Ma se deurmekaar gebabbel moet luister en dan moet toekyk hoe sy terugstrompel kamer toe om vir die res van die dag in die bed te lê? Ek het soos die kind geword, my man en kinders die versorgers. Tot die dag toe my tienerdogter – gewoonlik hoogs geïrriteerd met haar ma se nonsens – op ’n sagte manier by my gepleit het: “Hoekom kry Mamma nie hulp nie?” Haar woorde het iets in my geroer.

[pagebreak]

Ek het kamer toe gegaan, dié keer nie om te gaan wegkruip nie, maar om vir die Here te vra om my te verander. “Vader, ek het so baie seer in my hart. Verander asseblief my wil en my denke.” En Hy het … Vir die eerste keer het dit vir my gevoel ek wóú regtig gesond word. Ek het ingestem om in ’n kliniek vir verslaafdes opgeneem te word. My 22 dae in Elim was hel op aarde, nie omdat dit ’n slegte plek is nie, maar omdat ek vir die eerste sonder my krukke die werklikheid van my emosies moes hanteer. Maar in baie opsigte was dit ook ’n ongelooflike ervaring. Elke pasiënt was in sy of haar eie hel vasgevang, en tog was die hemel – God se teenwoordigheid – onmiskenbaar naby. Ek kon voel hoe die Heilige Gees tussen ons dans; hoe Hy op ’n unieke manier met elkeen werk.

Daar was mense van alle vlakke van die samelewing: ’n polisieman, apteker, huisvrou, onderwyseres, sakemense, jongmense pas klaar met skool en ’n 17-jarige straatkind. Alhoewel almal mekaar met liefde en deernis ondersteun het, was daar ’n rangorde onder die pasiënte. Dit was asof dié wat aan alkohol en pille verslaaf is, hoër geag word as dié wat hulle aan harde dwelms vergryp.

In Elim het ek agtergekom dat Hy ’n baie sagte plekkie het vir mense wat aan onwettige middels verslaaf is, want Hy verstaan hulle swaarkry – nie net hulle verslawing nie, maar ook die manier waarop ander hulle oordeel. Die 17-jarige seun het eendag huiwerig na ons groepie toe gestap en gevra of hy maar by ons kon sit. “Die ander sê ek is nie goed genoeg vir julle nie,” het hy skaam erken. Die huisvrou het dadelik haar arms oopgegooi en gul geantwoord: “Natuurlik is jy welkom!” Van toe af het hy haar “mamma” begin genoem, en sy het hom onder haar vlerk geneem.

Ná die 22 dae is ek ontslaan. Ek het nog nooit so vry en skoon gevoel nie. My gesin het nie geweet wat hulle tref nie. Skielik was ek vol passie om al die stukkendes in die wêreld te gaan help. Maar die lewe werk nie so nie, moes ek gou besef. Jy kan nie die hele wêreld probeer regmaak as die grootste probleem eintlik die gebroke verhoudings in jou eie huis is nie.

[pagebreak]

Die Here het vir my “oogsalf” gegee om hulle te sien soos hulle regtig was. Hulle was nie net stukkend nie, hulle was soos drie lyke. My verslawing het baie skade aangerig. Hulle was nie gewoond aan hierdie nuwe, nugter Marianne nie. Ek het so lanklaas sinvol met my man en kinders gekommunikeer dat ons mekaar nie meer geken het nie.

Na 40 skoon dae het ek toe teruggeval. Ek was baie kwaad en teleurgesteld in myself. Hoe kon ek? Ná alles? En hoe skuldiger ek gevoel het, hoe meer pille het ek begin sluk. Ek het altyd gedink dwelms is die enigste “oop deur” wat jy vir die vyand kan gee, maar dis nie waar nie. Daar is baie ander dinge wat net so gevaarlik is: soos om jou humeur te verloor, of bitter te wees, en heeltyd skuldig te voel.

Dit is hier waar pastore Judy en Abel op my pad gekom het. Hulle het my geleer hoe om die Bybel te lees, en het elke vesting in my lewe afgebreek. Ek kon fisies aan my lyf voel hoe die vyand sy houvas op my verloor. Die Here het ook my gedagtegang begin verander. Daar was ’n tyd wat ek geglo het Hý het vir my gesê ek moet die pille drink. Ek het dit my “tranebrood” genoem en selfs ’n psalm daaraan gekoppel. My denke was so siek dat ek tot die kleur geel aan “salwing” verbind het. Genadiglik het ek intussen geleer om tussen waarheid en leuen te onderskei!

Ek kyk weer na die twee geel pille in my hand, en dan onthou ek: Marianne, jy hóéf nie meer ’n slagoffer te wees nie. Jy hét ’n keuse. Jy kan Jesus kies, of die pille. Om in oorwinning te loop beteken nie jy word nie meer versoek nie. Dit beteken jy besef waar jou afhanklikheid regtig lê; en ék is alleenlik van God afhanklik. Hy het my denke kom vernuwe en my stukkende hart kom heelmaak. Daarom staan ek op, sit die glas neer en gaan spoel die pille in die toilet weg.

Ek het al vele oorwinnings in my stryd teen verslawing, én in my verhouding met my gesin, behaal. Ons praat meer met mekaar, ons lag al saam en ek word elke dag ’n beter ma. Dit wat ek stukkend gemaak het, het ek nou die voorreg om te help heelmaak met Goddelike liefde. Jy moet eers as mens “breek” voor die Heilige Gees se lieflike geur deur jou kan vloei.

Ek het ook geleer dat God nie ’n God van tweede kanse is nie, maar van vele kanse. Hy ontmoet jou elke keer dáár waar jy van die pad af gedwaal het. Ons moet net bereid wees om ons hand uit te steek en met ’n deursigtige, berouvolle hart te sê: “Here, help my.”