Ek weet Hy sal nooit van my vergeet nie

834

Anton is ’n suksesvolle man. Vanuit sy kantoor op die boonste verdieping sien hy die berg, die stad en die see. Party mense bereik op twyfelagtige maniere wat hy al bereik het. Maar nie Anton nie; hy loop die reguit pad.

Met teetyd stap hy na sy gunstelingkoffiewinkel toe. Maar vandag is iets net anders. Die stad is stiller as wat dit ooit was. Verbeel hy hom of is die wind vol musiek en ’n betowerende geur? Die wolke is mooier as ooit en met kleure wat hy nog nie oor Tafelberg gesien het nie. Skielik voel hy ook anders – hartseer en bly tegelyk. Wat is aan die gang?

Soos gewoonlik stap hy verby die gewilde tatoeëer-ateljee.

Dit bly maar ’n moeilike kulturele pil om te sluk, dié vreemde gesigte, diere, patrone en slagspreuke wat jongmense voel hulle mooier sal maak. So tragies.

Selfs sy eie beeldskone dogter het een laat aanbring sonder om hom daarvan te vertel. Waar het hulle as ouers gefaal?

Eintlik voel hy ’n bietjie verward. Hy vind die kunswerk op ’n manier vreemd-oulik. Sy aanvanklike skok het nie weersin geword nie, maar in die geheim eerder bewondering, saam met die bekommernis dat sy tog nie verder moet gaan nie.

Hy glimlag oor haar kreatiwiteit. Haar oortuiging om te wees wie sy is. Kunstig. Vrolik. Vasberade om ’n buitengewone lewe te leef. Maar dan is daar weer iets in sy konserwatiewe opvoeding wat hom moet laat veg om nie negatief en veroordelend te wees teenoor iemand met tatoeëermerke nie.

Hy weet nie eintlik waarom hy so voel nie. Daar is tog geen Bybelse grond vir sy besware nie. Ja, Levitikus 19 waarsku teen die bygelowige heidense gebruik om in afgestorwenes se guns te probeer bly deur simbole op die lyf te aan te bring.

Hy weet die moderne gebruik het niks daarmee te doen nie. Maar, aan die ander kant, waar gaan alles heen? Al hierdie volksvreemde gebruike.

Anton gaan staan stil, reg voor die ateljee se venster. Daar is geen mens in die straat nie. Dis net hy.
Dis altyd so besig in die ateljee, maar vandag is daar net een kliënt, ’n redelik bejaarde en uiters deftige man. Die wind se musiek word mooier. Die wolke se kleure byna hemels.

Hy het ’n vreemde drang om in te gaan en te sien hoe die deftige man getatoeëer word. Hy probeer eerder wegstap, maar hy is nie homself nie. Hy kan net nie. Die drang om in te gaan is onweerstaanbaar en hy gee toe.

Dan verstar hy. Hy weet hy ken hierdie man, maar van waar? Hy het al hierdie oë gesien. Hy het al hierdie stem gehoor.

En dan wys die Man vir hom sy tatoeëermerke. Een op elke handpalm. Anton verstar. Op die handpalms is sy eie gesig en sy eie naam…

Sal hy ooit daardie droom vergeet? Was dit toeval dat hy daardie dag in sy stiltetyd Jesaja 49:16 gelees het? “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer.”

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.

Koop Koos se boek Sielskos aanlyn by voelgoedboeke.co.za.

10% afslag plus gratis aflewering vir lesers! R175.50 R195

Kliek hier