Ek weet nou Hy bly getrou

0
612

As dit goed gaan, sê ons die Here is goed, maar terugslae laat jou twyfel. Belinda Strydom het geleer om Hom te vertrou, ongeag wat gebeur.

“Jy het endometriose fase 4,” sê die ginekoloog. “Die gewasse groei al aan jou organe vas. Jy sal nooit kinders van jou eie kan hê nie.” Ek staar hom geskok aan. Stukkend… gebroke… verlore.

Ek en my man gaan verslae huis toe en begin dadelik mense vra om saam met ons te bid. Ons weier om moed op te gee.

Elke liewe aand bid ek, lees die Bybel en sit my hande op my maag om dankie te sê vir die kindjie wat Hy reeds in my maag geplaas het. Dis mos hoe geloof werk. Jy glo en roep die dinge in waarvoor jy hoop en bid, nog voordat dit gebeur.

Dit was ’n moeilike proses met baie trane, maar ons het nie tou opgegooi nie en bly glo. Ek het aanhou dankie sê, al was daar nog niks.

Toe kom die eerste wonderwerk. My man roep my en sê ek moet sit. Hy verduidelik dat hy al ’n paar maande lank probeer om ’n dogtertjie in ons twee se sorg te kry. Nou het die tyd aangebreek – ons moet die naweek deurry en vir die kindjie gaan kuier.

Die nuus betrap my effens onkant, maar ek is tog opgewonde en stem in om haar te gaan ontmoet. Wat ’n lekker naweek was dit nie, die beste van my lewe. Ek was baie hartseer om haar aan die welsynswerker terug te besorg.

Ons twee het vir oulaas in die welsynswerkster se kantoor gesit en speel voor ons moes huis toe gaan. Sy het ons ongesiens vir ’n hele rukkie by die deur dopgehou.

Toe sy sien ek raak bewus van haar teenwoordigheid, kyk sy my vas in die oë en sê: “Mevrou, as jy bereid is om twee dae te wag, dan kan ons hierdie kindjie in jou sorg plaas.” Ek was uit my vel uit van vreugde!

Die volgende dag het ons goedjies begin koop vir haar tuiskoms. Ons was nog besig met ons inkopies toe die welsynswerker skakel en sê ons kan maar al haar goedjies kom haal. Daar aangekom, sien ons die gemeenskap het sowaar ses swart sakke vol klere en skoene vir haar bymekaar gemaak.

Ons is daar weg met ons nuwe dogtertjie én ’n kar vol besittings!

“Nou’s ek uiteindelik ’n mamma!” het ek verwonderd gedink op pad huis toe, terwyl ek my dogtertjie in my arms koester.

Eendag stop ons by ’n winkel en Pappa vra ons kleinding of sy iets wil hê. “Ja,” sê sy, “’n babasussie.” Ek lag stilletjies, want dis mos onmoontlik. ’n Ruk daarna vind uit ons is al nege weke swanger. Ek is verstom.

Kleinsus word op 38 weke gebore. Daar in die hospitaalkamer besef ons watter groot wonderwerk dit eintlik is.

Tydens die keisersnit het die ginekoloog al die susters en dokters aan diens ingeroep en vir hulle gewys hoe ek van binne lyk. Hy het emmers vol gewasse verwyder nadat my dogtertjie uitgehaal is.

Sy was heeltemal gesond. Die gewasse het haar geensins vasgedruk of beseer nie. Dit het alles agter haar ruggie gegroei, maar sy was veilig binne-in my, beskerm en volmaak.

Die dokters en verpleegsters het verstom gestaan en kyk. Dit wat medies onmoontlik was, is deur God moontlik gemaak. Hy het ons gebede verhoor!

Maar daar is ook ’n derde wonderwerk in hierdie verhaal. Geen nuwe gewasse het intussen gegroei nie. My endometriose is iets van die verlede. Ek makeer niks en kan nog tien keer swanger raak as ek wil!

Wat kan ek sê? Ek gee al die eer aan God, wat groter is as selfs ons heel grootste probleem.