“Ek weet nou kinders grootmaak is ook ’n manier van aanbid“

0
125

Wanneer laas kon ek vir ’n naweek my skoene uitskop, net rustig gaan sit en my vir Hom afsonder? Die wonder beleef van ’n ontmoeting met Hom? Wat het van elke dag se stiltetyd geword?

Dit is wat in die jong vrou se gedagtes rondmaal terwyl sy haar tweejarige woelwater en die pasgebore tweeling elke sekonde onder oë probeer hou.

Vandat sy ’n klein dogtertjie was, was Anri se geloof innig en opreg.

Almal wat haar geken het, ook later as student, het daardie stil, byna kinderlike, maar tog diepsinnige iets wat ’n mens in haar teenwoordigheid beleef het, begeer.

Soveel vriendinne bewonder haar steeds, maar in Anri se eie gemoed wonder sy waar daardie dieper vrede heen is. Het sy nie dalk toegelaat dat moederskap te belangrik word nie? Maar hoe kan ’n mamma anders as om met haar hele wese vir haar wonderwerkies te sorg? Om haarself met alles wat in haar is vir hulle te gee? Elke oomblik aan hulle te dink?

Aan die een kant kan sy nie glo dat sy dit anders moet doen nie, die wonder van moederskap voel heilig. Maar aan die ander kant voel sy só skuldig.

Die tye van stilword is min, die wonder van ’n ontmoeting met God en die ontdek van Sy stem in haar binneste en tussen die blaaie van haar Bybel het vervaag. Dis nou net ’n kosbare herinnering aan hoe die lewe was voor die woelwaters gekom het.

Oupa was nog altyd ’n groot en kosbare vertroueling. Hy is sedert sy veertigs ’n wewenaar en het nooit weer getrou nie, maar sy lewe gegee vir sendingwerk. Sy hele wese straal van liefde, wysheid en daardie stil gesag van iemand wat vir jare ’n pad van diep toewyding loop.

Anri is oorstelp van blydskap toe sy hoor hy kom vir twee weke huis toe. Sy weet hy sal vir seker kan help. Dalk sal hy haar op sy mooi manier vermaan dat sy toegelaat het dat haar binnewêreld so verwaarloos.

Miskien sal hy daarop wys dat hoe besiger ’n mens is, hoe nodiger het jy juis tye van afsondering. Hy sal die regte raad gee en sy sal nie veroordeel voel nie. Dit was nog altyd so.

Die damwal bars sommer dadelik as sy haar hart by die bejaarde man met sy sagte kyk uitstort. Sy wag vir sy raad en is klaar reg om elke fout openlik teenoor hom te erken.

Maar wanneer Oupa praat, weet sy dat sy haar hemelse Pa se stem in syne hoor.

“My liewe kind, jy was nog nooit meer toegewyd as nou nie. Jou dae ís gebed. Jou liefde aan jou kinders is diens aan Hom. Jou eenkantwees met hulle drie is eenkantwees met Hom.

Nooi Hom in jou moederskap in. Gesels met die Een wat saam met jou hierdie drie grootmaak. Hy is by jou. Voor jy weet, is hierdie seisoen ook verby – vir altyd. Dan sal julle twee weer meer alleentye kan hê. Intussen is dit julle vier.”

KOOS VAN DER MERWE is ’n bekroonde liedjieskrywer, predikant en solokunstenaar.