“Ek weier om toe te laat dat ander my vreugde steel”

455

Onlangs luister ek oor die radio na ’n praatjie oor vreugde. Die persoon sê ’n mens moenie toelaat dat iemand jou vreugde steel nie omdat jy hulle dan ’n houvas op jou gee. Hy sê dit mooi in Engels: “You are giving them power over you.”

My eerste gedagte was: Ek sal dit mos nooit toelaat nie! Nie lank daarna nie kom die toets: ’n Familielid irriteer my grensloos, om elke hoek en draai. Dae aaneen, tot ek naderhand vies raak vir myself: Nou moet jy ophou, Rouchelle! Genoeg is genoeg.

Dit was baie belangrik om tot hierdie besef te kom. Die lewe maak allerhande kronkels en draaie. Ons moet besluit hoe ons daarop gaan reageer. Ons het nie beheer oor wat ander sê of doen nie, maar ons kan wel beheer neem oor ons emosies.

Ons mag nie toelaat dat ’n onbeskofte mens ons hele dag omkrap nie, anders gee ons die mag oor ons eie lewe weg. Sekere mense sal nooit verander nie. Dit is hulle keuse om nors te wees en niemand kan iets daaraan doen nie. Jy moet die keuse maak om nie toe te laat dat hulle opinie oor jou jou beheer nie.

Ek lees die storie van ’n taxibestuurder in Amerika wat ’n bekende skrywer van sy huis af na ’n konferensie toe geneem het. Die verkeer was baie stadig en toe kom druk ’n kar uit die bloute reg voor hulle in.

Die taxibestuurder moes rem trap en uitswaai. Die ander bestuurder steek sy kop by die venster uit en begin op die taxibestuurder skree asof hy die een was wat verkeerd was! Maar die man glimlag net en waai terug.

Die skrywer op die agtersitplek was stomgeslaan. Hy vra toe hoekom die taxibestuurder so beleefd reageer. Die man het ’n baie interessante antwoord gegee.

Hy het gesê ons moet onthou daar is mense wat rondloop soos ’n vuilgoedlorrie. Hulle is vol woede, frustrasie, kritiek en negatiwiteit. Hulle moet die een of ander tyd ontslae raak van al die vuilgoed wat in hulle lorrie is en dit êrens afgooi.

Wat gebeur dan? Hulle gooi dit op die eerste die beste persoon in hulle pad. Jy kan hulle nie keer om vuilgoed af te gooi nie, maar jy kan keer dat dit jou besoedel.

Hierdie storie het ’n groot indruk op my gemaak. Ek het besef die krag lê in my eie hande. Ek moet my deksel ophou en nie toelaat dat ander mense se vuilgoed my affekteer nie.

Dit sny natuurlik na twee kante toe. As jy ander se vuilgoed joune maak, dan raak jy vol van al die gemors en moet dit ook die een of ander tyd afgooi. Dan gaan jy weer ander mense seermaak.

Kies vandag om nooit toe te laat dat ander mense jou vreugde van jou af wegrokkel nie.

ROUCHELLE LIEDEMANN is ’n gospelsangeres en TV-persoonlikheid van die Kaap.