Ek wonder of my kind nog leef

0
23
storie_van_hoop.jpg

Charmaine Boshoff moes toekyk hoe haar lieflingseun oor die oseaan wegvaar sonder om te weet wanneer sy weer van hom sou hoor.

Dis ’n lieflike Kaapse herfsdag. Maar my gemoed is vol. Voor my oë vaar my hart van my af weg oor die oseaan.

Daar kom ’n gevoel van verlatenheid oor my. Dis wat ouerskap aan ’n mens doen. Daar word van jou verwag om met jou hart buite jou liggaam te loop. Maar om ’n deel van jou hartklop in die Stille Oseaan te verloor vra baie. Hoekom het die kind nie eerder ’n ander beroep gekies nie? wonder ek vir ’n oomblik. Hoekom nou juis ’n matroos word?

seilboot.jpgEk en my man, Rainer, staar die katamaran agterna. Dis nie veel meer as ’n seilbootjie nie! Vandag is ’n mooi dag, die see stil, maar ons weet hoe verraderlik die oseaan kan wees. Ons weet van storms, van golwe wat verwoed kan slaan. Ons kosbare kind gaan maande lank uitgelewer wees aan die natuurelemente en die onvoorspelbaarheid van die see.

So pak JJ, sy beste vriend, Chandré, en kaptein Gareth die lang vaart van Kaapstad na Brisbane, Australië aan. Die vaart is veronderstel om ongeveer vier maande te duur. Vier maande kan ’n ewigheid wees wanneer jou seun so buite jou bereik is. Jy weet hy kan moontlik in gevaar verkeer, maar daar is niks wat jy kan doen nie. Daardie dag, die dag van die bittersoet afskeid, verwag ons om ons kind oor vier maande weer te sien, maar dis nie hoe dit sou gebeur nie.

Voor hulle vertrek hoor ek al dinge wat my bang maak, soos dat hulle weswaarts oor die Atlantiese Oseaan gaan vaar en nie ooswaarts, waar hulle dalk in die pad van die Somaliese seerowers kan kom nie. Seerowers? Regte seerowers wat roof en steel en doodmaak.

Toemaar, troos ek myself daardie dag, ons sál darem met hulle in verbinding wees. Daar is darem die satellietfoon. Ons sal min of meer weet waar op die onmeetlike oseaan hulle hulle bevind. Af en toe sou ons ’n SMS of epos met nuus van die kaptein se pa kry.

“Nou kan ons net op God vertrou,” herinner Rainer my. Die lewe gaan aan, ons doen die alledaagse dinge. Eet, slaap en werk, maar nooit is JJ werklik uit ons gedagtes nie.

[Pagebreak] Ag, daardie eerste nuus, die kosbare woorde is vir ons meer werd as die grootste aardse geskenk. Maar toe laat weet die kaptein sy pa: Ons ondervind baie onstuimige seetoestande en stormweer. Hy vertel ook dat daar, vreemd genoeg, elke keer op JJ se skof geweldige groot golwe oor die seiljag slaan.

Ek sien die toneeltjie voor my geestesoog. Hoe hy op die dek staan, weerloos teen die woedende branders wat met alle geweld oor die boot slaan. Dis asof ek die gedruis van die see hoor. Die vrees vir my kind se veiligheid wil my oorweldig.

Die bekommernis raak te veel om alleen te dra. Gelukkig is ek en Rainer deel van ’n gemeenskap van gelowiges. Weet ons dan nie dat die vurige gebed van ’n gelowige groot krag het nie? In hierdie tyd besef ons weer watter voorreg dit is om deur ander se gebede gedra te word.

Die een dag vloei in die ander en die stilte skree in ons ore. En toe – uiteindelik – ná ’n senutergende week hoor ons van die seuns. Hulle is veilig! Dankie! Dankie! In die tyd terwyl ons kind die storms op see moes trotseer, sou ons meer as een keer moes stry teen die storms in ons eie harte. Sou ons dikwels na Bo moes roep om hulp, om bewaring, om genade wat ver en wyd sou moes strek.

Toe ons hoor dat hulle die eerste keer voet aan wal gesit het, jubel dit in my. Vir ’n tyd lank gaan daar geen gevaarlike branders oor my kind breek nie.

Maar die genadetydjie duur nie lank nie. Tydens hierdie seevaart, besef ek telkemale watter wonderlike geleentheid dit vir hom is. Die drie matrose beleef ’n avontuur wat min mense beskore is. Maar ’n ma se hart is broos, die verlange na my kind, die bekommernis oor hom, is elke dag deel van my.

Ek maak staat op my geloof, ek vertrou. Ons verneem van ’n verbygaande olietenkskip dat die seuns se satellietfoon buite werking is. Ag tog – hulle enigste verbinding met die buitewêreld! Maar, word ons darem ook verseker, hulle is veilig en op koers.

Die satellietfoon sou vervang word. Nie dat dit so maklik sou wees nie. “Ek wonder of ’n posduif dit nie vinniger sou kon doen nie,” merk ek later moedeloos op toe die burokratiese rompslomp om ’n foon van die Kaap af tot by hulle te kry almal teen die mure begin uitdryf.

[Pagebreak] Toe die seuns uiteindelik weer kan vertrek, lê daar nog ses weke se strawwe seil voor. Die bekommernis oor hierdie laaste deel van die reis sak op my toe. “Kan ons jou nie maar met die vliegtuig laat huis toe kom nie?” dring ons by JJ aan. “Ek gaan nie die ander in die steek laat nie,” hou hy voet by stuk. Natuurlik is ons baie trots op hom, maar wanneer ons op die kaart kyk na die stuk oseaan wat hulle moet oorsteek, klop ons harte benoud.

Die laaste kommunikasie wat ons met JJ het, is toe ons mekaar op ‘Face Time’ groet. Ons as ouers van die drie jongmanne kommunikeer met mekaar, altyd met die vae hoop dat een van ons dalk iets van hulle gehoor het. Elke brokkie nuus word opgeslurp, elke staaltjie is ’n kleinood om in ons harte te bewaar. Maar nou is daar niks nie.

Op die dertiende dag kan ons dit nie langer ignoreer nie. Iets moes verkeerd geloop het. Ons klop aan by die maatskappy vir wie hulle die katamaran vervoer. Wat ons daar hoor, laat ons moed in ons skoene sak. “Om eerlik te wees, ons het nie ’n idee waar die katamaran is nie. Die spesifieke plek in die Stille Oseaan waar die seuns nou behoort te seil, het bitter min skeepsverkeer en radioseine.” Nou neem die vrees in my oor. “Die noodsein het darem ook nog nie afgegaan nie,” is die enigste troos.

jj_1.jpgBy die werk sleur ek deur die dag. Later kom bid twee kollegas saam met my dat ons daardie dag nog van JJ sal hoor. My ma en pa doen dit ook. Dis asof iets na Rainer toe deurbreek, ’n ligstraal tussen donker wolke. Hy bel die maatskappy. “Het julle ooit lugtyd op die foon gelaai?” vra hy.

Dis ’n verspotte vraag om te vra, maar hy versoek tog dat hulle dit moet nagaan. So ’n menslike fout! Dieselfde middag nog maak Rainer telefonies kontak met JJ. Die seuns is gesond, dit gaan goed met hulle. “Hulle is net vreeslik verlig om uiteindelik weer van ons te hoor,” verseker hy ons.

Om my seun die eerste keer in ses maande weer te sien, sy jong lyf teen myne vas te hou, is te wonderlik vir woorde. Ek het ’n seun gegroet toe hy die dag weg is en ek het ’n jongman teruggekry. “Ma, op die oop oseaan is daar geen ateïste nie,” sê hy.