Ek wou so graag groot dinge vir die Here doen

boot

As daar nou regtig iets is wat ek intens gewens het, was dit om groot dinge vir die Here te doen.

Ek kom uit ‘n gesin waar dinge vinnig gedoen word, my ma het sommer tjoeftjaf tien pasteie gebak en my pa het vinnig groot lande omgeploeg. My broers was goed in wat hulle gedoen het, en dan was daar ek. Die pogings wat ek aangewend het, het ‘n geneigdheid gehad om te flop, veral my pogings om vir die Here te werk.

Een dag lees ek in Beleef God dat, om groot dinge vir die Here te doen, moet jy eers betroubaar in die klein dingetjies wees. Ja! Dís die antwoord! Ek moet eers gewillig wees om die klein dingetjies wat Hy oor my pad stuur, te doen met ‘n opregte hart en vir Hom wys dat ek betroubaar is, dán sal Hy my inspan vir groter goed! Intussen leer ek ook dat God vir Moses eers vir tagtig jaar moes oplei voor Hy hom so wonderlik kon gebruik en die Israeliete deur die woestyn te lei.

Stadig, maar seker, het die werkies vir God gekom: Eers klein werkies, amper onbenullighede. Tog, sonder dat ek dit besef het, het God my vir meer en meer geroep. Stappie vir stappie het Hy my voorberei vir die volgende werkie, het Hy my uitgedaag. Maar deesdae, as ek Jes 61 lees, voel dit of dit in hoofletters en vetgedruk vir my skree: ‘Die Gees van die Here my God het oor my gekom; die Here het my gesalf om ‘n blye boodskap te bring aan die mense in nood, Hy het my gestuur om dié wat moedeloos is, op te beur …’

Die tyd is ryp! Hy maak die pad voor my oop om vir Hom te werk, waar Hy my nodig het, ongeag die ‘grootte’ van die werk. Hy doen dit al vir jare lank. Hy doen dit ook vir jou! Onthou, as jy op die water wil loop, moet jy eers uit die boot klim. (Woorde geleen)

Groetnis

Toortsie

(Foto deur Salome Delport van https://www.facebook.com/Kaapse.Plekke/)