“Ek wou graag ’n verskil maak”

760

Themba Maluleke wou graag ’n verskil maak in die lewens van arm kinders. Iemand het sy droom raakgesien en besluit om daarin te belê en so het Truth, Hope and Faith ontstaan.

“Ek is die oudste van vier kinders en ons het almal by my ma gebly. Al was ons baie arm, het ons ’n klein shack gehad en was ons baie gelukkig. Sy was ’n innoverende ‘besigheidsvrou’, wat haar bes gedoen het om vir ons te voorsien. Toe my ma aan kanker oorlede is, moes ons in shelter gaan bly. Dit was my verantwoordelikheid om seker te maak hulle is in die oggende skoon en aangetrek en betyds vir skool. Daar was ’n klein bergie daar naby en ek het elke oggend, voor ek hulle reggerkry het vir skool, dié bergie geklim en gebid dat Jesus my die krag sal gee om nog ’n dag deur te maak.

Ek het op ’n jong ouderdom met my geloofsreis begin en sommer baie gou by die werk van die Here betrokke geraak.

Terwyl ek besig was om my diensjaar by 13th Floor te doen, het ons baie deur behoeftige gemeenskappe dwarsoor Suid-Afrika getoer. Gedurende hierdie tyd het ek opgemerk dat die kinders in van die armer plekke regtig sonder hoop leef, want waar kry jy hoop as daar niks is om na uit te sien nie?

Verder het hulle ook nie iets wat hulle in die middae konstruktief kan besig hou nie, aangesien daar min gesonde aktiwiteite is om aan deel te neem. Daar is ook meestal niemand wat hulle kan help met skoolwerk waarmee hulle dalk sukkel nie, en sport- en kultuurontwikkeling is baie skaars.

Op ’n dag het ek toevallig met iemand gepraat oor my begeerte om ’n verskil te gaan maak en hoop te bring in hierdie gebiede. Sy het toe voorgestel dat ek met Kerksondermure gaan praat, aangesien hulle hartklop en doelwit juis dít is.

Ek het my visie gedeel en daar is onmiddellik besluit om my hierin te ondersteun. Hulle het voorgestel dat ek die naskoolsentrum by hulle huidige laerskool in Olievenhoutbosch begin, sodat ek ’n voet in die gemeenskap kon kry om onder die tieners te begin werk.

Só het ek geleidelik ook by die hoërskole betrokke geraak en kon ek belowende jong volwassenes begin mentor en hulle betrokke kry by die laerskoolkinders se naskoolsentrum. Ons leuse is: ‘Die armste mense is nie diegene sonder geld nie, maar dié sonder ’n doel.’ Ons wil mense leer droom en help om hulle drome te verwesenlik.

Afgesien van finansies, kry ons ook geestelike ondersteuning en leiding by Kerksondermure om aan te hou bou aan die koninkrykswerk waarmee ons besig is. Te danke aan hulle, kan ek my droom volg en ook help om ander se drome waar te maak.”

Alhoewel behoeftiges se grootste krisis kos en blyplek is, is hierdie projek se doelwit groter as om in basiese behoeftes te voorsien. Kerksondermure fokus minder op liefdadigheid en meer daarop om mense fisies en geestelik te ontwikkel en opleiding te gee om vir hulleself en die mense in hulle gemeenskap te sorg.

Jy kan help om ’n kind se droom waar te maak. Word deel van ’n gemeenskap van hoop deur www.kerksondermure.org, te besoek. Jy kan hulle ook skakel by 012 663 2003 of volg hulle op sosiale media by @Kerksondermure.

Stories van hoop word aangebied in samewerking met Mergon.