“Ek wou nie kinders gehad het nie”

0
13
nie_kinders.jpg

Christel Smith-Durkin wou nie ma wees nie, maar die geboorte van klein Edward het haar lewe verander.

Hoe het ma-wees jou verander?

Ek was nooit broeis nie. Gelukkig het my vriendinne my oortuig om ouerskap te beleef. Dit gee my ’n heeltemal ander perspektief om dinge deur die oë van klein Edward te sien. Vandaar seker die gesegde “deur die oë van ’n kind”. Die grootste verandering in my is beslis dat ek my spoed aangepas het. Ek is baie rustiger. Ek wil net so ywerig soos hy bly om nuwe dinge te leer. My lewe lank.

Hoe kies jy tussen jou kind en jou eie sukses?

Ons het gekies om ouers te wees; so, ons moet die verantwoordelikheid opneem. Dit voel vir my selfsugtig om my loopbaan bo my seuntjie se geluk te stel. Sy gesiggie verhelder soos ’n Kersboom elke keer as ek iewers was en by die huis kom. Hy het sy ma nodig, veral gedurende sy vormingsjare. En dis waarom ek besluit het om die werk ’n bietjie af te skaal.

Kyk jy nou anders na die wêreld en mense om jou?

Dis nogal vreemd, maar vandat ek ’n ma is, roer die geringste dingetjie my. Dit het ’n nuwe vlak van empatie by my laat ontstaan, hoewel ek nog altyd ’n sensitiewe snaar gehad het. Maar as ek deesdae iemand langs die pad sien wat staan en bedel, raak dit my. Ek kan nie help om te dink daardie persoon het ook maar as ’n klein babatjie die wêreld ingekom nie.

Watter lesse het jou kind jou al geleer?

Ek het geleer om kalmer te wees, want klein goedjies beproef regtig my geduld, soos wanneer klein Edward weghol as ek haastig is om hom aan te trek. Ek het eers kwaad geword, maar toe besef ek hy geniet die speletjie so baie. En as ek daaroor nou een minuut later opdaag vir ’n afspraak, is dit nie die einde van die wêreld nie. Dis belangriker dat ek en hy ’n goeie verhouding moet hê.

Wat is die belangrikste les wat jy jou kind wil leer?

Moenie dat ander mense jou toekoms vir jou bepaal nie – stuur jou eie skip. Ek glo regtig daaraan om eerder my drome na te jaag as om altyd te bly wonder wat sou gebeur het. Dis ook byvoorbeeld waarom ek nou hier in Los Angeles (VSA) woon. Jy het baiekeer ander mense se hulp en samewerking nodig om iets te bereik, maar as jy die regte fokus, werk en energie insit, sal goeie dinge jou kant toe kom.