Ek wou só graag…

Ek het nie gehad wat ander kinders gehad het nie. My pa en ma het hard gewerk maar ek het altyd geweet dat daar nie geld was vir enige luukses nie.

Ek wou so graag meer hê – of ten minste net dit wat my maats gehad het. Oppad skool toe het ek elke dag by ‘n reisagentskap verbygestap. Daar was pragtige foto’s van Mauritius in die venster, en van Disney World. Ek onthou hoe ek ‘n brandende verlange gehad het om Mauritius toe te gaan, en veral Disney World toe. Maar ek het geweet daar sal nooit geld wees vir sulke luukses nie.

Toe ek vir die atletiekspan gekies is het ek nie geweet hoe om vir my ouers te sê dat ek geld en klere gaan nodig hê om op ‘n ander dorp te gaan deelneem nie – daar was eenvoudig nie geld daarvoor nie. Ek het by die huis op my bed gaan lê en huil. Maar toe gaan staan ek voor my spieëlkas en ek sê vir die Lynette in die spieël: “Merinda Lynette Beer, jy sal nie eendag sukkel nie.”

Ek het geweet dat as ‘n mens glo kan jy enigiets doen – en my drome het waar geword.  Ek was in Mauritius en ek was drie keer in Disney World. Toe ek wou deel word van ‘n evangelisasie-uitreik, was daar ook nie geld nie – maar twee mense het besluit om in my te belê – Oom Lucas van Eck en Oom Cobus Botha.

Ek glo vandag dat die Here dié twee ooms op my pad gesit het. En ek wens so dat ek vir hulle nog kon dankie sê. Dankie dat hulle in my belê het om teologie te gaan swot en uiteindelik ander mense te help.

Ons is almal gebore vir sukses en ‘n sinvolle lewe. Ons is gemaak om skeppers, ontdekkers, leiers te wees en om in mekaar se lewens in te bou. Moenie toelaat dat jou omstandighede jou definieer nie – jy is gemaak om meer te wees. Wie weet, dalk is daar iemand in wie se lewe jy kan belê en só ‘n verskil in die wêreld te maak.

Vorige artikelGod se Ewigdurende Genade
Volgende artikelDie brander breek deur die muurtjie
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.