ELIM

My Oupa se plaas se naam was Elim. Die plaas was tussen Bultfontein en Brandfort in die Vrystaat geleë.

Met sy grasvlaktes, skape, beeste en droë landerye kon ek nie juis enige vergelyking vind tussen sy plaas en die Elim waarvan ons in Exodus 15 in die Bybel lees nie.

Die Elim van die Bybel het twaalf putte water en 70 palmbome gehad. Numeri 33 noem dit selfs 12 fonteine water. Vir die Israeliete moes Elim soos ‘n paradys gevoel het nadat hulle vanaf Mara, waar hulle die bitter water gevind het, getrek het. Met die prent wat ek van die Elim van die Bybel in my gedagtes gehad het, kon ek my voorstel dat dit ‘n plek van gemak was, ‘n plek waar hulle dalk baie lank sou kon oorbly of selfs permanent bly.

Nou hoekom sal ‘n mens dan ‘n droë Vrystaatse plaas se naam Elim gee? Ek vermoed dit het iets met hoop en visie te doen. Om die natuurlike omstandighede raak te sien, maar met visie en hoop te glo dat deur harde werk en genade die droë omstandighede in ‘n Elim sal verander. Hoop is so kragtig want jy sien al klaar iets wat nog nie in die natuurlike gerealiseer het nie.

Romeine 4:18 vertel dat Abraham, toe daar geen hoop meer was nie, bly hoop het dat hy die vader van baie nasies sou word soos wat God aan hom belowe het.

Romeine 8:24 en 25 sê dat as jy reeds iets sien, dan hoop jy nie meer daarvoor nie. Maar as ons hoop op wat ons nie kan sien nie, dan wag ons daarop met volharding.

Ons moet dus met volharding aanhou hoop dat ons huidige finansiële situasie, emosionele – of fisiese gesondheidstoestand, loopbaan, konflik met kollegas, politieke situasie in die land, ensovoorts beter sal word. Saam met hoop gaan gebed en aksie. In gebed te vra dat God dinge sal verander wat ons in al ons natuurlike kragte nie kan verander nie en dat Hy vir ons die nodige wysheid sal voorsien om dinge op die regte manier te doen. Dan moet ons tot aksie oorgaan want hoop is nie passief nie. Die Israeliete moes self die trek vanaf Egipte tot in hulle beloofde land uitvoer. Hoop vereis dat ek sal doen wat ek ookal kan doen met die wete dat God my sal help.

Maar Elim was nie die rede hoekom die Israeliete uit Egipte getrek het nie. Elim was dus nie die Israeliete se finale bestemming nie. Al het Elim ook hoe mooi gelyk, daar was steeds iets beter verderaan. God het vir hulle ‘n beloofde land in gedagte gehad.

Nadat hulle van Elim weggetrek het, het die Israeliete egter gevind dat hulle deur die woestyn Sin moes trek. Dit was hier waar hulle begin mor en kla het en na die vleispotte van Egipte begin terug verlang het. Dit was hier waar God die manna en kwartels voorsien het.

Dit is soms maklik om die wegtrek gedeelte te doen oppad na ons “beloofde land”. Dit is dalk moeiliker om van ons “Elim” – daardie plek van gemak waar ons dink alles is oraait en ons kan maar kamp opslaan – te beweeg. Die gemaklike omgewing agter te laat, vorentoe te beweeg en te hoop op nog groter en beter dinge wat God vir ons in gedagte het.

Om bereid te wees om dalk moeilike tye te moet deurgaan met die wete dat God vir my ‘n beloofde land in gedagte het. Om nie te mor en te kla as dinge moeilik raak nie, maar aan God se belofte vir my lewe vas te hou met die wete dat Hy al die pad sal voorsien in wat ek nodig mag hê.

Moses het tydens die Israeliete se trek na hulle beloofde land deurgaans vir ons gewys waarom hy so sterk gestaan het terwyl die volk kort-kort mismoedig en negatief geraak het. Moses het deurentyd God se teenwoordigheid opgesoek. In God se teenwoordigheid is Moses bemoedig, gevul met hernude visie vir die toekoms en het hy God se hart vir Sy volk verstaan.

Dit is in God se teenwoordigheid waar ons Sy wil vir ons lewens kan kan verstaan (doel op aarde), waar ons Sy vrede kan ervaar ongeag die natuurlike omstandighede en waar Hy ons hernude hoop kan gee sodat ons ons wedloop met volharding kan hardloop om suksesvol die eindstreep te bereik.

Mg ons dus nie tevrede wees om die Elim in ons lewe te bereik nie, maar deur gebed, geloof, aksie en hoop, in volharding, streef om by ons Kanaän uit te kom.