Elizma Theron: “My 3 groot issues”

0
22
Elizma Theron

Bekend of onbekend, elke vrou het issues. Elizma Theron gesels oor verwerping, minderwaardigheid en vrees.

“Ek kan nie verwerping hanteer nie”

Ek kon letterlik voel hoe die Here my neersit. “Nie nou nie, Here. ’Seblief nie. Ek is nog nie gereed nie,” het ek Hom gesmeek. Geen antwoord. Geen teken. Ek het my kop op die stuurwiel laat sak. Na ’n ruk die motor aangeskakel: “Jy kan nie altyd die Here wil sien, voel of ervaar nie. Soms moet jy net wéét Hy is daar. Dit is waaroor geloof gaan.”

Deur die CD van Joyce Meyer wat in die radio was, het die Here my die versekering gegee dat Hy steeds daar is, maar dat die tyd nou aangebreek het om die lewe alleen aan te durf. Dit het ’n ruk lank geneem om daar te kom. Emosioneel was ek in ’n slegte toestand. Tot hiertoe en nie verder nie, het ek besluit. Ek was moeg, moeg, moeg. Uitgemergel deur emosies, pyn en verwerping.

“Dis nou U beurt,” het ek vir God gesê. “Obviously doen ek iets verkeerd. Ek gee dit nou oor aan U. Stuur asseblief die regte man na my toe. En as ek op 57 nog steeds nie getroud is nie,” het ek bygevoeg, “is dit ook maar reg so.”

Die Here het geweet wat Hy doen. Soos met alles in my lewe was daar ’n rede hoekom ek deur soveel moeilike verhoudings moes gaan. As ek nie swaargekry het nie, sou ek Nico nooit waardeer het nie, sou ek hom verniel het. Op sy sagte woorde getrap het. Nie sy breë, oop glimlag daardie eerste aand in die klub eers raakgesien het nie.

Nou het ek ’n man wat elke dag vir my sê hy is lief vir my. Of nee, eintlik beter: Hy is lief vir my nés ek is. He fills that cup. ’n Mens moet in jouself glo, jouself gelukkig maak, maar ’n vrou se selfbeeld word tog beïnvloed deur die mense wat in jou lewe is. Nico gee vir my daardie versekering waarna ek so lank gesmag het. Daar is niks met my verkeerd nie, die tyd was net nie reg nie.

As daar nou een ding is waarmee God goed is, is dit tydsberekening. Hy is die perfekte Beplanner. Hy weet wanneer die tyd reg is vir jou om iets te waardeer, te kán hanteer. Met my loopbaan was dit ook so.

“Hoekom gee U my hierdie roeping, maar U gee my nie die wil om dit te doen nie?” het ek baie aande agter my kamerdeur in my ouerhuis in Kuruman met die Here gestry.

“Hier is ek, 21 jaar oud. ’n Uitgevrete lummel en in plaas van om aan my eie musiekloopbaan te bou, help ek kinders om aan hulle toekoms te bou. As ek nie nou eers die lus het om te gaan sing nie, hoe gaan dit later in my loopbaan gaan?”

En so het dit aangegaan. Dit was vrees wat my teruggehou het. Ek het geweet ek het een kans om ’n merk te maak in die bedryf. En as ek met daardie een kans droogmaak, is dit verby. Ek het soos ’n mislukking gevoel. Asof ek my pa-hulle teleurstel omdat ek nie my droom navolg nie, God teleurstel en myself teleurstel.

Die oomblik toe die Here my die toestemming gegee het om te gaan, kan ek baie goed onthou. Ek het voor die kas in my kamer gestaan en dis asof die Here net vir my gesê het: “Just go.” Die tyd was uiteindelik reg.

Sonder dat ek ’n siel in Johannesburg geken het, het ek my tasse gepak en in ’n woonstel agter in ’n man se erf gaan bly. My platemaatskappy het seker gesien as hulle hierdie arme meisie uit Kuruman nie help nie, sal sy doodgaan van die honger. Hulle het my per uur betaal en ek het werkies gedoen soos om afdrukke te maak en die telefoon te antwoord. Nou is ek bly daaroor, want dit het my die ander kant van die bedryf laat sien.

Ek weet nou dat as ek volgens mý tyd Johannesburg toe gegaan het, dit nie sou gewerk het nie. Ek sou verkeerde keuses gemaak het, verkeerde liedjies gekies het, maar omdat ek die Here se seën gehad het, het ek in ’n baie moeilike bedryf oorleef.

Uiteindelik het ek ook ’n les oor die liefde geleer. Soos met my loopbaan, gaan hierdie les ook oor tyd: “As die Here nie die middelpunt van ’n verhouding is nie, gaan dit nie werk nie. Nooit nie, want Sy seën moet oor julle liefde wees.”

“Ek kan nie help om myself te vergelyk nie”

“Jou wenkbroue is te ver uitmekaar. Dis hoekom jy nie fotogenies is nie. En staan eerder met jou been gebuig na voor, jou selluliet wys.”

Hy sê dit voor al die ander meisies in die ateljee. Ek hoor hoe hulle giggel voor ek uitstorm om skuiling in die toilet te gaan soek. My wange brand, die trane lê vlak. Beelde van ’n juffrou wat op my skreeu, ek wat beangs leeskaartjies optel, kom voor my op. As mense maar weet wat hulle kwetsende woorde aan ander doen.

Ek was veertien, ek het nog nie selluliet nie, maar ek het geglo wat hierdie fotograaf vir my gesê het. Die volgende agt jaar het ek dit nie gedurf waag om ’n bikini te dra nie.

Tydens my modeljare oorsee het ek geleer wat ydelheid beteken. Ek het saam met ander meisies in ’n huis gebly en almal was voortdurend voor die spieël besig om te kyk teen watter hoek hulle die beste lyk. Ek het beslis gedink ek is mooier voor ek daar in is as toe ek daar uit is.

Ek moes pertinent daaroor gaan bid het om oor hierdie issue met my voorkoms te kom. Ek het geleer om dieper te kyk en te weet God het almal na sy beeld geskape. Wat daarvan as ek ’n moesie het? Die Here maak nie foute nie. As ek ’n plooi tussen my breë wenkbroue kry, is ek trots daarop, want Eli-zé het dit vir my gegee.

Vir my is dit blote genade dat ek meer as 90 000 aanhangers op Facebook het. Ek weet regtig nie hoekom nie. Dis nie omdat ek so oulik is of so mooi sing nie. Miskien omdat ek eerlik is en Nico en Eli-zé met die mense deel.

Selfs na jare in die bedryf sal ek steeds wonder of ek die regte liedjies sing, die regte goed doen en of my show interessant genoeg is. As hierdie gedagtes my later begin oorheers, help dit om net rustig te raak en te dink hoekom ek so negatief is. Dis gewoonlik wanneer ek te besig raak dat ek ook van God afdwaal en nie tyd het vir Hom nie.

Die ander ding wat ek al dikwels ondervind het, is mense se vooroordele teenoor my. Die publiek dink bekendes is hoogmoedige mense. As hulle maar weet dat dit soms baie alleen kan wees. In daardie tyd na my slegte verhoudings het ek letterlik ’n jaar lank nie eers in ’n man se rigting gekyk nie. As dit nie vir Nico se deursettingsvermoë was en die feit dat hy die ware Elizma raakgesien het nie, was ons nie vandag bymekaar nie.

Ek het ook al baiekeer aangevoel dat mense dink ek is ’n dom blondine as hulle met my praat. Uit die manier waarop hulle met my praat en na my kyk, wéét ek dit is wat hulle dink.

Maak nie saak wat hulle dink nie, ek is Elizma: uniek, onvergelykbaar, met wenkbroue wat te ver uitmekaar is en selluliet (darem net ’n bietjie). Ek is gelukkig. Uiteindelik!

“My man en kind moet asseblief nie doodgaan nie”

Die blote gedagte dat Nico of Eli-zé iets kan oorkom, is verskriklik. Ek wil nie eers my gedagtes in daardie rigting laat gaan nie.

Ek is verskriklik bang my kind kom iets oor. Ek sê nou die dag vir Nico ek het nie geweet ’n mens kan so verskriklik lief raak vir ’n mensie wat jy nog net ’n kort rukkie ken nie.

Maar dis ook ’n bangmaakliefde, want ek weet ek is hierdie dingetjie se mamma wat haar die regte pad moet wys en haar moet beskerm. As ek lees van ’n kind wat verdrink of deur ’n oppasser seergemaak word of met fire jel brand, bid ek net dat so iets net nooit met Eli-zé sal gebeur nie.

Vir die eerste keer in my lewe verstaan ek ook iets van God se liefde. Hy is nog liewer vir ons as wat ek vir Eli-zé is. Hoeveel te meer sal Hy ons nie beskerm nie? Ek en Nico is juis op die oomblik besig om na die DVD-reeks The Bible te kyk. Toe ons by die gedeelte van Moses kom, is dit asof ek vir die eerste keer besef hoe ’n groot God ons dien. Hy het die Rooi See letterlik voor die Israeliete oopgemaak, water in bloed verander, iemand wat dood is, lewendig gemaak. Dis nie feeverhale nie; dis goed wat regtig gebeur het. Ek kan my kind se veiligheid in niemand beter se hande laat as God, die Almagtige, nie.

In Junie word ek 32. Ek is bevoorreg dat ek so baie van my drome kon verwesenlik voor die koms van Eli-zé. Nou kan ek saam met my kind droom. Dit is vir my verskriklik belangrik dat Sussa eendag kan doen wat sy graag wil doen, juis omdat ek my loopbaan so geniet! Ek sal verkies dat sy nooit op R12 en roosterbrood sal moet oorleef soos ek al moes nie, maar, as dit nodig is, sal sy dit maak. Net soos ek het. Solank sy gelukkig, tevrede en vervuld is.