Elizma Theron vertel: “tussen vrees en liefde lê genade”

510
Elizma Theron
Elizma Theron

ELIZMA THERON kan sing oor die lief en leed van die lewe, want sy het al self die goeie en die slegte daarvan beleef, deurleef en oorleef ‒ en sterker anderkant uitgekom.

Hulle was almal saam in die motor. Ma, ouma, tannie. Toe kom die nuus. Haar niggie, Elna-Marie Abbott, wat vermis was, se liggaam is gekry. Op ’n spoorlyn. Onthoof. Die ergste erg.

“Almal om my het histeries geraak,” onthou Elizma die oomblik toe hulle hoop om haar lewend te vind, in ’n duisend skerwe gespat het.

“Jy kan jou indink. ’n Ma het so pas haar kind verloor. ’n Ouma haar kleinkind. ’n Tannie haar peetkind. En ek, ’n geliefde maat.” Iemand saam met wie sy kleintyd kaalvoet buite gespeel het. Geheime gedeel het. Drome gedroom het.

“Alles voel nog deurmekaar. Die emosies rou en die trane vlak. Daar is baie vrae wat dalk nooit beantwoord sal word nie. Dit voel asof vyf resepte bymekaargegooi is, en nou moet daar sin gemaak word uit die warboel van bestanddele. Dis moeilik…”

Elizma onthou die tragiese gebeure wat haar vroeër vanjaar in stukke geruk het. Sy is ’n prentjie van seer, sterk en mooi, alles in een pakkie toegevou. Alles aan Elizma is fyn. Blonde hare wat soos ’n waterval oor haar skouers tuimel. Mooi gelaatstrekke. Tog klop daar diep binne ’n hart gevorm en getoets deur die lewe. Blink gepoets deur genade.

“Terwyl ek nog die motor bestuur en die nuus probeer verwerk het, kom die besef: Hier het die Here my nou weereens, midde-in die chaos, die sterk een gemaak. Die een wat kalm bly en kophou. Wat die ander om my rustig maak. Dit verstom my elke keer.”

Besteel by ’n verkeerslig, motorkaping, huisroof… been there, done that.

“In situasies waar ek sou verwag het om buite myself histeries te raak, kon ek nog altyd koelkop bly. Diep bewus van ’n groter hand wat my sterk maak. Die Here, hier baie naby, wat in elke situasie steeds in beheer is.”

Die lewe het al ’n paar opslagballe in haar rigting afgestuur, maar dan slaan sy – sonder om dit vooraf te beplan – ’n kishou terug. Alles uit pure genade.

Soos die laat nag toe sy heeltemal uit karakter uit, opstaan en haar en Nico se slaapkamerdeur gaan sluit het. “Ek het nie geweet hoekom nie. Kort daarna het my ma in die kamer verder af in die gang kliphard begin gil, en aanhou gil.”

Elizma se hart en kop het vir ’n oomblik gaan stilstaan. Alles voel onwerklik. “Dis net ’n spinnekop in die bed… dit kán nie iets anders wees nie,” het sy haarself probeer oortuig. “Jou brein wil dit nie glo nie. Maar dan word die geluide, die stemme, die skuifelklanke duidelik. En jy besef, dit ís rowers.”

Weereens het kalmte haar paniek verdryf. “Nico… hier’s mense in die huis. Jy moet gaan kyk,” het sy manlief wakker geskud. Maar voordat hy, nog deurmekaar van die slaap, by die kamer kon uitstrompel, het sy kopgehou en gesê die wapen moet saam.

Die op-haar-voete-dink was weereens ’n stukkie genade, want die waarskuwingskote het waarskynlik daardie nag hulle almal se lewens gered.

“Ek ken vrees, maar teen dié tyd weet ek ook dat dit nie van Bo af is nie. Die vermoë om ’n keuse te maak oor hoe jy die vreesaanjaende situasie gaan hanteer, is wel.” Bang of dapper. Lam van skrik, of kophou en slim reageer. Die besluit is joune. En Elizma maak daardie keuse keer op keer.

Dink sy ooit aan emigreer? Alles oppak en waai?

“Nie sommer nie. Waar daar hoop is, is daar lewe. En ek hét hoop. ’n Diepgewortelde liefde vir ons mense, taal, kultuur, land. Vir my is die glas altyd halfvol.”

Sy was ’n ruk lank kwaad. En bang. Te bang om saans saam met Nico, soos dit hulle gewoonte was, op die stoep ’n koppie koffie te drink en oor die dag te besin. Selfs te bang om laataand nog televisie te kyk.

Maar toe kom die besef: “Dis mos nie hoe ’n mens deur die lewe moet gaan nie. My vrede en vreugde is dalk tydelik gesteel, maar dit hoef nie so te bly nie.”

En so het sy stukkie vir stukkie die lewe begin terugvat. Weer buite gaan sit en koffie drink. Al later, en nog later, in die voorhuis televisie gekyk… totdat die vrees uiteindelik vervang is met vrede en vryheid.

“Die uitdagings waarmee ons daagliks hier in Suid-Afrika worstel, plaas ons ook in ’n unieke posisie,” glo Elizma. “Dit laat ons nader aan mekaar leef. Dankbaar oor die kleinste dingetjies. Dit leer ons hoe om gelowig en in afhanklikheid van Iemand groter te funksioneer, want daarsonder het ons geen verweer nie.”

Vrees het haar ook al ’n paar waardevolle lesse geleer.

“Het Pappa toe die dogtertjie wat so geskree het, doodgeskiet?” Haar vyfjarige Eli-zé het hierdie vraag heel onskuldig vir pa Nico gevra ’n rukkie na die huisroof.

“Dis toe dat ons besef het: Práát met die kinders. Om stil te bly en hulle onskuld teen die feite te probeer beskerm, werk ook net tot op ’n punt. ’n Mens dink hulle hoor en sien niks, maar eintlik kyk en luister hulle baie fyn, en maak dan hulle eie gevolgtrekkings.”

Vir Eli-zé het Ouma se gille soos ’n klein dogtertjie s’n geklink… en toe skiet Pappa haar. “Die prentjie wat sy in haar kop gevorm het, was selfs nog erger as die werklikheid. Daarom praat ons deesdae eerder oop en eerlik, sodat hulle die waarheid kan verstaan en verwerk.”

Haar niggie se dood was nóg ’n tameletjie. “’n Paar weke lank het dit my eintlik heeltemal oorweldig.” Die woede en die hartseer het beurtelings soos golwe oor Elizma gespoel – en tussendeur sy het hard probeer om haar trane weg te steek vir die kinders.

Ook hierin was daar genade opgesluit. “Al word ek sterk gemaak in moeilike situasies, word ek ook tyd gegun om alleen in stilte te huil.” Dit was in een van hierdie oomblikke dat Eli-zé op haar ma afgekom het.

“My dogtertjie het my nog nooit so gesien nie. Al die trane, die rou emosie… maar toe praat ons daaroor.” En toe Eli-zé eers verstaan waaroor dit gaan, het sy ’n prentjie gaan teken en vir haar ma kom gee. “Mamma, dis tannie Elna-Marie in die hemel.” Blou lug waar daar gewoonlik gras is. Blommetjies wat daaruit groei. ’n Vrolike skoenlapper en meisie in ’n deftige rok wat breed glimlag.

Die tekening het haar sommer beter laat voel. “Ek weet wat mense sê oor selfdood… maar ek ken ook my niggie se hart en weet wie sy was. Die sagste mens wat net almal wou help, maar iemand wat ook met depressie geworstel het.

“Wat daar ook al in die media gesê word, dis nie dat sy haar lewe lank daarmee gesukkel het nie, net die laaste paar jaar. Haar beste vriendin het haar eie lewe geneem en die polisie op die toneel het vir Elna-Marie gedwing om die vuurwapen uit haar hand te gaan haal. Dis dáár waar die probleme begin het. Dit het my niggie geknak, en sy nooit die professionele hulp gekry wat nodig was nie.”

Elizma vee ’n traan uit die hoek van haar oog. “As ek kon, sou ek vir haar wou sê dat ek jammer is. Dat ons nie raakgesien en besef het hoe diep hierdie seer lê nie. Nie harder probeer het om te help nie, want ons het nie geweet nie.”

Wat Elizma hieruit met haar saamdra, is dat “’n mens harder moet bid vir jou kinders. Nie net dat hulle fisies veilig gehou sal word nie, maar ook dat hulle geestelik, emosioneel en verstandelik beskermd en gesond sal wees.”

Sy is deeglik bewus van die krag van gebed. Dit het haar al die pad na ware liefde gelei.

“Wanneer gaan ek my eie man kry?” vra klein Eli-zé nou die dag. Dis toe dat Elizma die kans waarneem om haar te vertel wat sy by haar ma geleer het.

“Dis verskriklik belangrik om vir die regte man te bid. Iemand wat deur die Here self vir jou gekies is,” het Elizma kleintyd gehoor. “Maar hy moet asseblief tog net nie kom voor 28 nie…” was haar voorwaarde.

“Vandag waardeer ek die humorsin, want Nico het toe eers kort voor my dertigste verjaarsdag opgedaag! Tog was die tydsberekening perfek, vir ons albei. Partymaal voel ’n mens jy wag te lank, maar eintlik is dit omdat die een nog besig is om voorberei te word, al is die ander een al reg.”

Hulle is baie gelukkig saam, “maar dís ook gebore uit genade”.

“Daar moes eers ’n pad geloop word om myself beter te leer ken en te ontdek wat aanvaarbaar is en wat nie. Ek het soveel dankbaarheid vir elke vorige verhouding, want dit het my na my lewensmaat toe gelei.

“Ook om tot die besef te kom dat dit beter is om nie staat te maak op jou eie insigte met groot besluite soos trou nie. Los dit eerder in God se hande, want dis waar die regte keuse lê.”

Vandag weet sy dat daar nie dieselfde waardering vir Nico se goedheid sou gewees het as dit nie vir hierdie groeitye was nie.

“In ons uitgaandae het almal die storie só gekyk en gesê: Hierdie gaan nie hou nie.

“Hulle het nie van ons verhouding gepraat nie, maar eerder van die manier waarop Nico my behandel het. Hoe hy gepraat het. Vir my gekyk het. Altyd só vol liefde. Versigtig en met respek.

“Na ’n klompie getroude jare saam is dit lekker om te kan sê: Dit hét toe gehou. Trouens, die grootste waarde wat ons vandag in ons huwelik uitleef, is respek. Daar word nie gevloek, geskree of goed rondgegooi in die huis nie. Ons het dit van die begin af saam besluit… die huwelik is so broos soos glas. Hou mens ’n stukkende wynglas in jou kas? Nee, as dit eers gekraak of stukkend is, word dit weggegooi.

“Dis wat harde woorde en ’n gedurige baklei doen… dit los merke, wat krake word en uiteindelik breek. En dan is dit baie moeilik om die brokstukke weer aanmekaar te sit.”

Nico bring beslis sy kant. Dit was ’n doodgewone Saterdagoggend toe hy vir Elizma nader roep.

“Ek was so verras. In die badkamer was ’n warm skuimbad getap, met strelende Thai-musiek op die agtergrond en ’n blom uit ons tuin in ’n glasvaas op die bad se rand.” Sommer net. Nico se woorde: “Geniet dit my lief, en vat so lank as wat jy wil…”

Of die keer toe hierdie raakvat-pa sy dogtertjie op ’n eerste date gevat het – deftig aangetrek met ’n bos blomme in die hand by die voordeur, terwyl Eli-zé straal van opwinding. Elizma gaan eendag dieselfde met NJ, hulle driejarige seuntjie doen. Hom leer hoe om teenoor ’n meisie op te tree, en ook te besef wat sy eie waarde is.

“Ja, ek het die beste man ooit,” erken Elizma, “maar hierdie is net ’n deeltjie van waaroor ’n verhouding of huwelik gaan. Dit gaan nie net oor hoe julle mekaar behandel wanneer die liefde blom nie, maar hoe daar met mekaar gewerk word wanneer die gemoedere hoog loop. Dís wat regtig tel.”

Raak hulle ooit gefrustreer met mekaar? “Ek is ’n maklike mens en word nie sommer kwaad nie. Maar Nico sal waarskynlik ’n paar frustrasies hê. Soos my slegte selfoongewoonte: om nie dadelik te antwoord of te reageer op boodskappe nie. Dit word al beter…

“Maar wag, kom ons vra hom,” sê Elizma en druk ’n paar knoppies op die foon.

Nee, daar is niks wat hom irriteer nie. “My vrou is net mooi… ’n mens kan net mooi goed oor haar sê en julle moet ook net mooi goed oor haar skryf,” kom die antwoord. Lojaal en diplomaties.

“Daar is so baie om by Nico te leer,” sê Elizma. “Soos dat hy dadelik regmaak as iets pla.” Sy hoef dit net een keer te sê, dan word daardie ding nooit weer herhaal nie.

Om te neul is ook onnodig. “As ek vra dat hy ‘iewers in die week wanneer daar tyd is’, iets moet regmaak by die huis, sal dit sommer nou-nou al gedoen wees. Dit laat my skoon skaam kry, maar dit spoor my aan om ook so te begin optree.”

Dalk lê Elizma-hulle se geheim vir huweliksgeluk in hierdie woorde opgesluit: “Dis moeilikheid soek om heeltyd na die negatiewe in jou maat te gaan soek. Ons besit nie mekaar nie, maar ondersteun en vul eerder aan. En groei saam.

“Diep in ons wese is ek en Nico steeds dieselfde mense. Daar word nie gekarring of gedurig probeer om aan mekaar te skaaf nie. As daar wel dinge is wat nie kan verander nie, maar waarvan ons ook nie baie hou nie, is die kuns om lief te raak daarvoor, eerder as om dit teen mekaar te hou.”

Haar definisie van liefde is om vryelik van jouself aan ander te gee. Die liefdestale van haar hart lê opgesluit in opbouende woorde en kwaliteittyd. Ook in die drukkies en holderstebolder liefdesbetuigings van haar kinders. “Soos Eli-zé, wat nou die dag haar arms om my nek slaan met die woorde: ‘Mamma is die beste mamma wat daar ooit kan wees!’

Sulke oomblikke is sielskos. “’n Mens twyfel soms aan jou vermoëns. Is ek goed genoeg as ma? Iemand wat genoeg doen, of ten minste die regte goed doen? My dogtertjie se woorde het wondere verrig vir my gemoed. Daar het so ’n warm gevoel in my hart kom lê, en dis lekker!”

Vir Elizma is die manier waarop almal mekaar oordeel, die grootste gif in vandag se samelewing. “Oral, op elke moontlike platform, gee mense hulleself toestemming om ander sleg te sê of ’n negatiewe opinie te lug, sonder om die dieper redes of omstandighede te verstaan.

“Selfs ons as ma’s doen dit aan mekaar. Ons skiet af in plaas van om op te bou. ‘Het jy gesien wat daai een doen?… in plaas van om te sê: ‘Sjoe, ek het begrip vir dit waardeur jy gaan. Dis te verstane hoekom jy sus of so optree, maar het jy al hiérdie manier probeer. Dalk werk dit vir jou.’”

Haar ervarings met vrees en liefde het haar geleer om meer begrip te hê vir ander. Om verby die situasie te kyk en fyner te luister na wat God daaroor sê. “Dis ’n tikkie gehoorsaamheid wat my al keer op keer gehelp het om nugter te dink en te doen.”

En dít, weet sy, is die hartklop van genade.