Elke dogtertjie se droom

Het jy kleintyd daarvan gedroom om ‘n prinses te wees?

Het jy gedroom hoe jou prins jou in sy koets gaan kom haal en dat julle in ‘n paleis gaan woon en vir ewig en altyd gelukkig sal wees?

Dis waar dat dit maar vir die meeste van ons net ‘n droom bly, dat dit vir ‘n klein handjievol meisies in die wêreld beskore is. Die res van ons leef maar net ons gewone elkedagse lewe as gewone mense in gewone huise.

Maar daar is goeie nuus! Daar is ‘n ander waarheid, ‘n storie agter die storie!

Want … elkeen van ons wat in Jesus Christus glo, mag ‘n kroon opsit! Ons is mos Koningskinders! Ja! As ons Hom as ons Saligmaker aanvaar het, beteken dit dat God ons Vader is, en Hy is die Koning, die grootste Koning wat nog ooit bestaan het! En dít maak ons prinse en prinsesse, die beste wat daar nog ooit was!

Is dit nie opwindend nie? Is dit nie wonderlik om te dink dat ons kinders is van die Allergrootste God, die Enigste God wat bestaan nie? Is dit nie ‘n lekker gedagte dat elkeen van ons eintlik heeldag en aldag met krone op ons koppe mag rondloop omdat ons gered is en die wonderlike vooruitsig het om eendag die hemel te mag bewoon, en selfs nou al as geredde mense te mag leef nie?

Dít gee ons genoeg rede om ons koppe op te tel, ons skouers agtertoe te stoot, die wêreld met ‘n vastigheid, ‘n sekerheid, ‘n vreugde, ‘n lig in ons oë te kyk met die wete dat ons oorwinnaars is. Die stryd is vir ons gestry. God is met ons, en ons? Ons is Koningskinders!

Dra jou kroon met vreugde.

Groetnis

Toortsie

Foto: Cara-Mari Odendaal