Elke storie is verweef, hou jou impak positief

Ek lees die afgelope week van ‘n span chirurge in Italië wat so opgewonde en beïndruk was toe hul tydens ‘n operasie op ‘n 60-jarige vrou haar mitrale hartklep van nader kon beskou.

Die klep was ‘n kunsmatige een, nog in volle werkende toestand, wat deur wyle Dr. Chris Barnard ingesit is in 1969!

Die vrou was net 10 jaar oud toe sy in die Groote Schuur Hospitaal in Kaapstad geopereer is en vier maande in die hospitaal moes bly voordat sy weer kon huis toe gaan. Huis toe vir haar was Italië.

Hierdie verhaal het my op verskeie vlakke aangegryp. Ten eerste die dogtertjie wie se familie in 1964 moes hoor dat sy ‘n abnormale hartklep het. (Onthou op daardie stadium was die eerste hartoorplanting nog nie eens gedoen nie!) Hierdie familie het egter nooit moed opgegee nie en 5 jaar later het hulle gehoor van ‘n dokter in ‘n vreemde land wat dalk kon help. Hulle het haar saam met haar 25-jarige broer Suid-Afrika toe gestuur. Hoeveel hoop en geloof moes hulle nie gehad het nie?

Hoeveel moed het dit nie van die 10-jarige gevat nie? Alles moes vir haar verskriklik vreemd gewees het. Maar sy het gegaan, want sy het hoop gehad, en sy het herstel!

Dan was daar Dr. Chris Barnard en sy span. Ja, hy was in 1969 al ‘n wêreld beroemde chirurg met die eerste hart oorplanting agter sy naam, maar sê nou ‘n jong Chris Barnard het besluit om nie ‘n dokter te word nie? Hy is in 1922 gebore en het in uiters moeilike finansiële tye grootgeword, maar sy ma en pa het gesorg dat hul kinders geleerdheid kry. Hoeveel opofferings het hulle nie deurgemaak sodat hul seun eendag mense se lewens kon red nie? Maar hulle het dit nie toe geweet nie…

Die les – moet nooit jou besluite en keuses wat jy vandag neem onderskat nie. Al sien jy nie die resultate daarvan in jou leeftyd nie, êrens los elke mens spore op hierdie aarde, en die beste wat jy kan doen is om te sorg dat jou spore ‘n positiewe impak sal hê.

Vorige artikelWatter rigting loop jou lewe?
Volgende artikel[VIDEO] Jy kan weer héél word
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.