Elkeen het ‘n storie

Ek is mal daaroor om Saterdae met my neus in ‘n boek te sit. Dit is omtrent elke naweek se hoogtepunt.

Ek hoor hoe die karakters met my gesels. My ma het altyd gesê: “Hy wat lees is nooit alleen nie.” Dit is so waar. En dit is so lekker vir my om deel te word van die skrywer se wêreld. Ek wonder watter saadjies gee geboorte aan stories…. Ek dink die karakters in ‘n boek kan dikwels daardie vraag antwoord. Daar is altyd ‘n stukkie van die skrywer se eie lewe in sy of haar boek. Die lewe van skrywers word oopgevlek selfs in fiksie verhale. Ek is lief daarvoor om Nicholas Sparks se boeke te lees as ek wil glo dat mans ook romanties kan wees. J

Selfs hartverskeurende ware verhale is ‘n stukkie ontvlugting. Dit laat my dink hoe ek baie keer wil vlug van konfrontasie. Ek lees eerder ander se verhale en kom weg van my eie lewe en my eie storie.

Ek wil soms my tong byt en my storie in my hart bêre. Ander kere spoel die woorde onbeheersd uit my mond. Ons almal het ‘n storie om te vertel. Ons wil graag hê iemand moet luister. Ek reken Facebook is so gewild omdat dit plek maak vir mense se lewensverhale. Dit is so lekker om erkening te kry. Dit maak nie saak van watter oord dit kom nie, erkening is ‘n basiese behoefte van die mens.

Ek pleit skuldig daaraan dat ek selde my volle aandag aan mense gee. Terwyl iemand praat formuleer ek reeds my antwoord. Wetend of onwetend is ek selfsugtig en luister met ‘n halwe oor. Ek is hopelik nie alleen daaraan skuldig nie.

Skryf jou storie en maak dit jou prioriteit om ander se stories te lees en te hoor. Jou lewensverhaal, hoe hartseer ookal, word dalk iemand se ontvlugting en perspektief.