Elma Smit moes ’n dik vel kry

0
116
Elma_Smit.jpg

Om sukses te behaal in die lewe, het Elma geleer sy kan nie nee vir ’n antwoord vat nie. ’n Mens moet maar jou gevoelens opsyskuif en deurdruk.

Noem een eienskap van jou wat jou gehelp het om te kom waar jy vandag is?

Ek het al vroeg in my lewe geleer ’n goeie skoot hardkoppigheid is soms broodnodig om te kry wat jy wil hê. Hoe meer ek met werklik gelukkige, inspirerende en suksesvolle mense te doen kry, hoe meer besef ek dat hulle, nes ek, op strategiese tye in hulle lewe nie nee as antwoord aanvaar het nie. Ek moes al telkemale my gevoelens opsyskuif, ’n dik vel ontwikkel en deurdruk.

Vertel ons van só ’n oomblik dat jy hare op jou tande moes hê.

Ek wou nog altyd as radio-omroeper by 5FM gewerk het en het dit eendag met sterre in my oë vir ’n student vertel wat saam met my by Stellenbosch Universiteit se kampusradiostasie gewerk het. Hy het my uitgelag en gesê dat dié droom my nie beskore is nie omdat ek Afrikaans is! Hy was darem nie so ver verkeerd nie. 5FM hét op daardie stadium net Engelssprekende omroepers aangestel.

Toe hou jy jou kop af en dryf en klop in elk geval by 5FM aan?

Dit was nie altyd maklik nie, maar ek het doodeenvoudig besluit om nie om verskoning te vra vir die feit dat ek Afrikaans grootgeword het nie. Ek het begin werk met wat ek tot my beskikking gehad het en het my Afrikaanse agtergrond as ’n unieke pakket bemark. Gelukkig het ’n oopkop bestuurder by 5FM my punt ingesien en my Afrikaanse kultuur en aksent as ’n geleentheid beskou om ander luisteraars te trek.

Jy het ook nie gaan lê toe hierdie unieke eienskappe later aanlyn gekritiseer is nie?

Op my blog en facebookblad het ’n persoon of twee al onsmaaklike kommentaar oor my Afrikaanse Engelse aksent én my voorkoms gelewer. Ek het sterk standpunt ingeneem. Ironies genoeg het ek die eerste boodskap in die middel van die internasionale veldtog van 16 dae van aktivisme teen vroue- en kindermishandeling gekry. Toe ek tydens die veldtog uitgevra is oor die verskillende vorme van uitkryting wat ek al moes verduur, het ek dié boodskappe as voorbeeld gebruik.

Jy laat jou nie maklik onderkry nie. Jy het al teenkanting op ander gebiede ook

oorkom. Ek is keer op keer deur modelagentskappe meegedeel dat ek nie die regte voorkoms het nie. Totdat ek my hare vir KANSA afgeskeer, en ’n modelagentskap my genader het omdat my sproete en natuurlike haarkleur wat besig was om uit te groei, toe juis in aanvraag was onder Duitse kliënte! Dit wys jou dat ’n mens jou uniekheid moet lééf en gebruik. Daar is vir elke kultuur, postuur, voorkoms, taal én aksent ’n regverdige plekkie in die son.