Elsabe Daneel se ma en Alzheimer

0
539
elsabe_daneel_2014.jpg

Toe die lykswa by die aftreeoord se hek om die hoek verdwyn, het my hele wese gesê: “You go, Ma.”

Op 85 is my ma finaal verlos van Alzheimersiekte se vernietigende greep op haar menswees. Om haar onthalwe was ek oneindig verlig en dankbaar dat haar lyding uiteindelik verby was. Ek het geweet sy was nou op ’n veilige plek sonder pyn. Dit was 29 Junie 2013, presies 59 jaar nadat sy geboorte gegee het aan haar oudste kind, Jannie.

elsabe_daneel_ma_foto.jpgRoeline Viljoen met die kastaiingbruin hare en groen oë was die jongste van agt kinders wat op die idilliese familieplaas De Vlei in die Hexriviervallei grootgeword het. Die mooi, slim, kreatiewe vrou met die B.A.-graad was versot op lees, swem, handwerk en later blokkiesraaisels. Sy was ’n mooimaker wat vir my die lieflikste rokke en kerkhoede gemaak het. Sy was ’n staatmakerma en ouma wat soos ’n leeuwyfie vir haar kinders en kleinkinders sou veg. Ek en sy was baie na aan mekaar, nes ek en my aktrisedogter, Roeline, na aan mekaar is.

Terugskouend besef ek my ma se denkfunksies het reeds tien jaar tevore stadig maar seker begin agteruitgaan. Sy het geleidelik minder logies begin redeneer, al meer swartgallig geraak en al minder vreugde uit die lewe geput. Later het sy meer en meer vergeet, goed verloor, alles gesoek. Sy het meer onseker geword, kon nie meer onthou hoe ’n mens geld by die kitsbank trek nie en wou nie meer haar pos oopmaak nie.

Sy het toenemend onsamehangend, verward en bang geraak. In 2006 het sy een nag deur my huis gedwaal en teen die mure gekap, verward, sonder om te weet waar sy is. Sy het paniekaanvalle begin kry en histeries gehuil omdat sy die wêreld nie meer kon verstaan nie. Geen dokter kon verklaar wat aan die gang was nie. Sy het stelselmatig die greep op haar lewe verloor en intens gesmag na die dood.
In 2005, die dag toe ons my pa na ’n jare lange, uitmergelende lyding as gevolg van emfiseem begrawe, het sy vir ’n rukkie haar bewussyn verloor terwyl ek haar hare gestileer het. Die dokters kon nie vasstel wat fout was nie.

Die volgende oggend het ek haar huisdokter gebel, wat my na ’n psigiater verwys het. Deur die nag het ek ’n verslag oor my ma se agteruitgang getik en besef daar was ’n lang patroon van aftakeling. Die psigiater het haar geëvalueer en ’n mini-mental state examination (MMSE) gedoen om haar kognitiewe funksies te bepaal. Hy het my geskakel vir ’n opvolgbesoek en gevra dat ek my twee broers saambring. Ek het besef daar is iets ernstigs verkeerd met ons ma.

[pagebreak] Niks berei jou voor op die diagnose nie: “Dis Alzheimer. Ek is jammer.” Jy het al baie oor dié bekruipende siekte gelees asook dokumentêre TV-programme en flieks soos Iris daaroor gesien, maar jy kan jou nooit indink watter monster van ’n siekte van jou ma besit geneem het nie. Dat dit haar gaan verinneweer totdat sy soos ’n verslae, maer kind in ’n traliebed lê en huil. Jaarin, jaaruit. Dat sy niemand meer gaan herken nie al wys jy hoe gereeld vir haar foto’s van haar geliefdes. Dat niks ooit meer vir haar sin gaan maak nie.

Sy word meer geïsoleerd, afgeslote, deurmekaar en maerder. Om intensiewer sorg te kry, word Ma oorgeplaas na ’n enkelkamer in die “mal gang”, soos sy dit ontstoke noem. Ek verduidelik vir haar dis eintlik die koninggang, want daar word almal wat nie meer so lekker kan onthou nie, soos konings bederf met aandag, kos en medikasie wat op skinkborde aangedra word.

Ons het nooit die term Alzheimer voor haar genoem nie, want ek het besef dat sy nie sal weet wat om met daardie groot woord te maak nie en dat dit haar nog net wanhopiger en meer bevrees sal maak. Sy oorstroom haar nuwe badkamer as sy vergeet om die krane toe te draai. Ons kan maar net glimlag as sy ’n kuiertjie met haar enigste oorlewende suster, Esmé, afsluit met: “Jy herinner my baie aan ’n suster wat ek eenkeer gehad het.” Sy vra wat is die kas en as my jonger broer, Eben, verduidelik ’n kas is vir klere, antwoord sy gelate: “Dan moet ons seker maar kat eet.”

As ek by haar bed kom, vra ek altyd gemaak-dom: “Wie is ek?” Sy antwoord: “Nee, nou weet ek nie.” Soms kyk sy my ’n ruk lank vas in die oë voor sy met ’n sagte glimlag sê: “Mooi.” Vanuit hulle beddens antwoord haar twee kamermaats my vrae aan Ma. As ek te veel aandag aan hulle gee, fluit my ma soos van ouds op die plaas dat ek na haar toe moet kom. As ek vir haar my pa se foto wys, sê sy altyd: “Mooi man.” Op die ou end kan sy net “bie-die-bie-die” huil en pleitend in my oë kyk. Ek weet sy smeek om hulp. Vir my was dit die heel hulpeloosste gevoel om nie daadwerklik dinge beter te kan maak vir haar nie.

Jy, jou familie en die toegewyde siekeboegpersoneel veg vir gehaltetyd, maar klokslag elke ses maande is haar MMSE-telling laer totdat dit so ver onder 30 is dat die psigiater simpatiek sê: “Ons staak nou alle medikasie.”

Teen dié tyd weet jy die agteruitgang kan bitterlik langsaam wees. Alzheimerpasiënte wat goed versorg word, kan lank leef. As hulle aan hulle beddens vasgekluister is en min beweeg, is hulle harte en longe dikwels sterk. Maar uiteindelik is dit soms juis hardkoppige longontsteking wat die kameel se rug breek. So was dit ook met Ma.

[pagebreak] Ek en my dogter, Roeline, vaar op ’n boot op die Donau toe my oudste broer se epos ná middernag deurkom: “Ma word al swakker van longontsteking. Sy is in ’n tipe koma. Die dokter gee haar ’n paar dae.” Sy woorde op my rekenaarskerm skok die Weense musiek van die kamerorkes wat ek pas gehoor het uit my ore en lyf uit. Ek laat die bootkaptein opklop sodat ek met sy selfoon Suid-Afrika toe kan bel. Op Skype lê my ma bleek en klein en stil in haar traliewêreld. Haar voedingsbuis lyk soos ’n misplaaste plastieknaelstring. Ek epos die aftreeoord se engel van ’n hoof om vir Ma te sê sy moet uithou, Elsabé kom. My ma, wat jare lank net onsamehangend brabbel, vra: “Wanneer?” En sy hou uit.

Dit is ’n vreemde, oorweldigende gedagte as jy besef jy betree iemand se laaste fase. My grootste emosie was dat ek heilige grond betree. Dat ek ongelooflik bevoorreg is om die vrou wat lewe aan my en my twee broers geskenk het, na haar einde te begelei. Dat ons saam die sirkel van geboorte en dood sal loop en dat sy nie alleen of bang hoef te wees nie. Die rolle van ma en kind is uiteindelik moeiteloos omgekeer, asof dit die laaste blokkie in ’n generasielegkaart is wat alles voltooi.

Omdat my ma ’n lewende testament gehad het wat bepaal het dat sy nie met masjiene aan die lewe gehou mag word nie, was daar min uitweg nadat haar liggaam die tweede voedingsbuis verwerp het. Sy het te swak geword om te sluk en sou vir die laaste paar dae net van pynpille, die water uit my sproeibotteltjie en liefde leef. Almal in die siekeboeg het hierdie kode verstaan en sy is deur die personeel met die grootste respek en deernis versorg.

Ek besef my ma het nie geweet wie ek is nie, maar dit het geen verskil aan my gemaak nie. Ek glo sy het geweet dat ek haar vir oulaas tot die einde gaan help. Sy het gereageer op my stem en dit het haar rustig en tevrede gemaak. Ek het vir haar stories vertel oor die plaas in die Hexriviervallei waar sy grootgeword het. Die name genoem van haar ma en pa en broers en susters wat vir haar wag. Dat sy weer in die plaasdam gaan swem, geelperskes in die boord sal pluk en karringmelkbeskuit voor die Aga-stoof sal eet. Dan roep haar een kamermaat, diep in die neëntig: “Oe, maar dis mooi, ek wil ook gaan!”

[pagebreak] Saterdag 29 Junie is ’n soel wintersdag en ek trek my ma se gordyne wyd oop sodat sy die son kan voel. Sy was mal oor die son, nes ek. In die tuin pluk ek ’n blom en sit dit in ’n vaas voor haar bed. Daar is ’n enorme vrede en rustigheid in die kamer. Ook ’n soort afwagting, asof iets groots kan gebeur. Net na vieruur staan ek langs haar bed, my oë op die groen bome buite en besef iets is anders. Na al die jare se gekerm is my ma skielik stil.

elsabe_daneel_ma.jpgEk weet die heilige oomblik van haar vertrek het aangebreek en ek is bly vir haar. Ek streel saggies oor haar grys hare en fluister vir haar dat ek lief is vir haar en trots is op haar dat sy die dapper stryd gestry het. Sy haal vier keer diep asem, met groot stiltes tussenin. “Gaan, Ma, gaan,” is my laaste woorde aan haar, my hande om haar fyn gesig geskulp. Na die doodsroggel blaas sy haar laaste asem soos ’n tevrede sug uit en lê sereen soos ’n klein dogtertjie in haar bedjie. Ek voel hoe sy vertrek.

Ek is hartseer, maar oneindig verlig dat sy uiteindelik vry is.

Sy voel nie vir my weg nie, dalk omdat sy so lank weg was terwyl sy nog hier was. Ek sukkel om haar te onthou as die gesonde, liefdevolle, intelligente ma wat ek lank terug gehad het. Soos in my pa se geval is dit asof haar uitgerekte, hartverskeurende lyding die sonsverduisteraar van goeie herinnering is omdat dit die lig gesteel het. Haar aaklige lot breek steeds my hart, maar ons hande was afgekap om haar wrede lyding te verlig.

Ek was nog nooit bang vir die dood nie en ek begryp hoekom doodsberigte dikwels lui: “Sy het sag heengegaan.” Die allerlaaste oomblikke kan sekerlik vredig wees, soos vir my ma en pa. Die dood self het inderdaad geen angel nie. Wat dodelik is, is die lewe se potensiaal vir skrikwekkende lyding.

Ek skryf dus ’n ode aan almal wat uit alle oorde onselfsugtig na vore getree het om Roeline Grobbelaar (gebore Viljoen) se laaste stukkie reis na haar begeerde Nuwe Jerusalem te seën met hulle deernis, sorgsaamheid, respek en liefde wat alle verstand te bowe gaan.