Elsabé Rudolph – verloor 19,9 kg

0
12
elsabe.jpg

Dís wie Elsabé is

“Na die eerste keer dat my eks my verneder het deur met ’n telefoonprostituut te flankeer, het ek minder van myself begin dink. My selfvertroue het ’n groot  knou gekry. My binneste het stukkie vir stukkie doodgegaan. Na drie buite- egtelike verhoudings en ’n twee jaar lange egskeiding wat in Desember 2011 afgehandel is, was ek teen die grond.” Die keerpunt vir Elsabé was toe sy na haar egskeiding die 2011 ’n nuwe jy deelnemers se stories in FINESSE lees. “Daar was trane in my oë.

Ek het besluit dis nou my beurt om die wêreld in die oë te kyk en vir almal te wys wie is Elsabé.” In die eerste week van Januarie het sy weer op haar eie begin oefen. Maar oefening sou nie vrugte afwerp voordat sy nie haar ingesteldheid en gedagtes kon verander nie. Die ’n nuwe jy uitdaging het presies op die regte tyd gekom. Sy is gekies as een van die 12 deelnemers en haar wedloop het begin.  

’n Kopskuif

Die sessies met sielkundige berader Lorette Dye het ’n fundamentele rol in Elsabé se sukses gespeel en haar ingesteldheid het stelselmatig verander. Dit was aanvanklik swaar om al die issues aan te pak, bieg sy. “Lorette het nie doekies omgedraai nie. Sy het gesê ons moet met ons issues deal, anders gaan dit niks help nie.” Elsabé moes ’n besluit neem om vrede te maak met haar verlede. Lorette het haar ook laat besef dat ’n nuwe jy ’n totale leefstylverandering verg. Oor Lorette se waardevolle insette sê Elsabé: “As dit nie vir haar was nie, was ek steeds waar ek voorheen was.” Sy is trots om na ’n lang pad te weet dat sy werklik deur haar bagasie, soos bitterheid oor haar egskeiding, gewerk het en vrede met haar verlede gemaak het.  

Nuwe gewoontes

Namate haar program voller geraak het, het sy gewonder waar sy sou tyd kry om steeds te oefen, maar sy glo: “Hoe besiger ’n mens is, hoe meer kry jy gedoen.” Elsabé oefen vyf dae ’n week – een uur in die oggend en een uur in die aand met Curves tussenin. Deesdae hanteer sy stres deur haar tekkies aan te trek en dit op die pad te gaan uithardloop. Haar energie en selfvertroue het week na week toegeneem. Kos is ook nie meer haar troos nie.

Die eetplan het vinnig tweede natuur geword. Elsabé was skoon verbaas toe sy na twee maande op die program besef dat sy vir agt weke geen kitskos geëet het nie. Sy het dit glad nie gemis nie. Wanneer sy deesdae alleen tuis is, gebruik sy die tyd om gesonde kos voor te berei of om te oefen – in plaas van om voor die televisie te sit en eet. Sy en haar vriendin se Vrydagaandafsprake gaan voort –maar sonder die bottel rooiwyn en ongesonde eetgoed!  

’n Nuwe, ou Elsabé

Sy is bly om weer haar ou self te wees, maar in ’n meer volwasse, wyse vorm. Sy is nou ’n “nuwe, ou” Elsabé: die goeie eienskappe van die oue met nuwe verbeteringe by. Haar opgewondenheid is ooglopend. Wat ’n vreugde om net weer haarself te wees, om te wees wie sy was voor haar huwelik. Selfs haar leerlinge deel komplimente uit! Iets waaraan sy nie gewoond was nie, maar sy is gek daarna. “Ek het die meeste komplimente oor my vel en grimering gekry. Ek het probeer toepas wat Revlon ons geleer het en dit lyk my ek kon iets regkry.” “Hy is so goed vir my!” Sy kan nie glo hoe geseënd sy is nie en haal een van haar vriendinne aan: “Ek kan maar my koffie uit ’n piering drink, want my beker loop oor van al Sy seëninge!”

DEEL
Vorige artikelons het 95 kg verloor!
Volgende artikelwerkende ma
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.