Elvis Blue: wie bestuur beter?

0
47
elvis_blue.jpg

Motors het ingeboude skeidsregters nodig wanneer man en vrou saam ry. Elvis Blue gesels oor sy dit wat sy vrou rasend maak.

Wie bestuur die beste, jy of jou vrou, Cherize?

Cherize bestuur eintlik baie goed. Sy doen met gemak meer as een ding op ’n slag. Op die pad moet jy vir al die ander bestuurders dink en ook vir jou kinders wat agter in die kar sit en skree. Ek hou nogal daarvan as sy ry. Normaalweg is ek agter die stuurwiel, maar wanneer ek enigsins iets met alkohol in gedrink het, sal sy altyd bestuur, selfs al meen ek dalk ek is onder die wetlike limiet.

Hoekom hou sy nie daarvan om saam met jou te ry nie?

Sy raak verskriklik ongeduldig met my, veral as ek oor diep of ernstige dinge wil gesels. My groot probleem is dat ek sukkel om meer as een ding op ’n slag te doen. My konsentrasie is nie so goed soos Cherize s’n nie. Hoe meer ek praat, hoe stadiger ry ek. Later staan ons amper botstil. Dan is sy rasend omdat sy haastig is om die kinders te gaan oplaai.

Hoe wys sy haar ongeduld as jy so stadig ry?

Nee wat, sy is nie iemand wat skimpe gooi of met sarkasme geheime boodskappe probeer oordra nie. Ek waardeer dit nogal van my vrou, al veroorsaak dit dat ons dikwels vassit, want ek neem haar woorde baie ernstig op. Sy sal sommer reguit vir my sê: “Jy praat net meer en meer en ry al hoe stadiger en stadiger! Kyk, ons ry 40 kilometer per uur! Come on.” Ai, tog. Dis seker maar die ouderdom wat my inhaal!

Is dit die enigste ding waaroor julle in die motor stry

Nee, beslis nie. ’n Ander kwessie is hoe ons Lila grootmaak. Cherize is die praktiese ouer. Sy is kwaai, maar sal ook die reëls nou en dan by die situasie aanpas. Ek is weer die streng teoretiese ouer. Vir my is alles swart en wit. Soos dit vir my klink, baklei die meeste paartjies oor kinderopvoeding, want soos jou kinders ouer word, moet die reëls aangepas word. En dis nie altyd maklik nie.

En hoe lank neem dit voor julle weer vrede maak?

Cherize bly nooit lank kwaad vir my as ons vasgesit het nie. Sy vergewe gou. Sy is ’n goeie vrou. Ek daarenteen gaan tob oor wat sy gesê het, want as ek nie daaroor dink nie, sal ek net vies bly. Een ding wat ek na nege jaar se getroude lewe al geleer het, is dat enige verhouding deur goeie en slegte tye gaan. Verliefdheid verander in liefde en dis hoe dit moet wees. Dis oukei om van mekaar te verskil.

Wie dink jy bestuur die beste? Mans of vroue?

Jammer om te sê, maar ek dink vroue is beter bestuurders as mans. Eerstens omdat ek dink hulle is versigtiger as mans. Hulle waag baie minder kanse. Ek onthou hoeveel kere die meisies op skool veilig op die grond gestaan en kyk het hoe ek of ’n vriend uit ’n hoë boom val. Mans waag soms ’n bietjie te veel. Soms kry ons ego’s ons ook in die moeilikheid. Ek het nog nooit ’n vrou gesien met wilde mags, ’n groot uitlaatpyp en oranje wol op die dashboard nie. Hulle is net rustiger wesens op die pad.