En jy dink jy sukkel?

“Ek weet regtig nie meer wat om te doen nie.” Die vrou is duidelik moedeloos. Finansies wil nie uitwerk nie, mediese koste is hoog. Finansieël trek almal swaar.

Hoe nou gemaak? As die koskaste en bankrekening ewe leeg is. As daar net rekeninge in die posbus beland.

Werk al die positiewe denke steeds? Hoe kyk mens dan verby jou omstandighede? Dis nou in sulke tye wat jy moet aanhou. Aanhou glo. Aanhou dankbaar wees. Aanhou om die mooi in die lewe te soek.

Die probleem is mens is nie dan altyd lus nie. Sulke tye vra vir mooi dink, baie bid en groot konsentrasie om die goeie te soek. Dankbaar te bly. Dit vat meer as wat jy dink menslik moontlik is. En daar lê die geheim. Die oorgee en ophou probeer om dit in jou eie krag te maak. Die stil word voor God. Te erken jy weet nie watter kant toe nie. Jou totale afhanklikheid te verklaar en te weet Hy het jou tot hier gedra, los sal Hy nie vir jou los nie.

So deur die krag van die Heilige Gees, kan jy weer kop optel. Waardeer jy dit wat jy nog het. Kan jy weer ‘n loflied sing. Maar, mens jy moet eers stil word. Hoor die voëls in die bome. Sien die blomme in die tuin. Kry jou krag van bo, en doen wat jy kan elke dag met ‘n gesindheid van dankbaarheid. Op ‘n hopie gaan sit, gaan nie werk nie, maar maak jou planne in gebed. Uitkoms sal daar wel weer wees.

Ek dink een van ons grootste krisisse vandag, is dat ons alles self wil doen. Onafhanklik wil wees. Nie wil laat blyk as daar probleme en nood is nie. Dis lynreg teen die Woord waar die Nuwe Testamentiese gelowiges aangespoor is om uit te reik en mekaar te help. Is ons dan nie almal deel van een familie nie? Moenie bang wees om te vra vir hulp nie. ‘n Toebroodjie in liefde gedeel, beteken baie meer as ‘n feesmaal wat in ‘n atmosfeer van bitterheid genuttig word.

Onthou jou omstandighede kan hoe sleg wees, jy het ‘n keuse hoe jy daarop gaan reageer. Om kwaad, ongelukkig, vreesbevange of verbitterd te raak, gaan nie jou omstandighede verander nie. Dit gaan wel maak dat jy nog slegter, eensamer en depressief gaan voel. Kies om te bly glo, te bly hoop en om positief vorentoe te beweeg.

Ek het geleer as jy ‘n storm op die pad kry, dan moet jy nie stilhou nie. Dan is jy gevang in die storm. Dis ook gevaarlik, want ander kan in jou vasry. Nee, jy moet aanhou ry, met groot omsigtigheid en stadiger as gewoonlik, so kan jy onder die storm uitry. Dis ‘n stukkie wysheid wat ons ook deur ons lewenstorms kan dra. Hou net aan beweeg!

Vorige artikelTe hoog aangeprys
Volgende artikelGod luister na enigeen
Blogger - Lynette Beer
Lynette was ‘n direkteur in ‘n suksesvolle internasionale groep maatskappye waar sy verantwoordelik was vir bemarking en die persoonlike ontwikkelling van personeel. Sy het die temperamentmodel gebruik om ‘n nuwe produk saam te stel. In 2007 ontvang sy ‘n toekenning in haar industrie vir die mees suksesvolle besigheidskonsep en was bevoorreg om besigheidsaanbiedinge in Times Square, New York, sowel as in Londen te doen. Lynette Beer is ’n gepubliseerde skrywer van Carpe Diem Uitgewers met haar nuutste boek “Watter kleur is jou persoonlikheid” Sy het ook die “Presidential” toekenning verower by die Besigheidsvrou van die jaar funksie wat aangebied word deur die Nasionale Raad vir Sakevroue (SACBW). Besoek haar webwerf: www.lynettebeer.co.za.