En toe word ek…40!

Die datum kruip versigtig nader. Elke week wat omtik herinner my treiterend aan die lysie.

Dié lang lysie van alles wat ek voor 40 moes bereik. Vlietend vlieg die vrae deur my binneste: Waar is ons dubbelverdiepinghuis met die groot swembad en reuse tuin?  Eilandvakansie? Lang toer deur Europa? Twee miljoen in die bank? Drie kinderhuise wat ‘n veilige hawe is vir ouerlose wesies? Werkskeppende sentrums vir haweloses? Wêreldplatform vir my musiek? Reguit wit tande en 10kg minder om my middel?

Tot die week voor my 40ste verjaarsdag. Toe word die koggelende stemme in my stil. En ek hoor hoe die Here stilsterk vir my sê: Jy is besig met die verkeerde lysie. Gaan maak jou lysie oor…gaan en kyk wat hét jy.

En ek gaan blaai deur die argiewe in my kop, die kamers van my hart en die gange van my gees. Saam met Hom. En Hy herinner my sagkens aan die skatte wat skitter in my skatkis: My liefdevolle ondersteunende Faanman wat my toelaat om ‘n Godgewe roeping na te jaag. ‘n Talentvolle prinses wat ons telkens verbaas met haar omgee-hart en wysheid vir haar jare. Onvervangbare familie en vriendskappe wat salf aan my siel smeer wanneer die lewe bloukolle slaan. Die gevoel van vervulling wanneer jarelange drome vlerke kry – en die wete dat dit nie oor my gaan nie maar ‘n groter prentjie waarvan God my deur Sy genade goed genoeg ag om deel te vorm van Sy kaleidoskopiese meesterstuk.

En ek kyk so terug op ‘n wankelrige pad en sien hoe Hy telkens al die groot klippe wegrol. Ek kyk weer. Maar die keer vorentoe. En ek sien Hom steeds. Hoe Hy vooruit loop. Reeds daar is waar ek nog moet kom. Hy kyk vir my. En Hy glimlag. ‘n Nuwe opwinding borrel in my binneste – en ek weet veertig gaan fenomenaal en fantasties wees!

Psalm 16: 5-8

“Here, U alleen is my erfenis, my beker van seën. U waarborg my lotsbestemming. ‘n Pragtige plek is vir my afgemeet. Wat ek geëerf het, is vir my mooi! Ek prys die Here wat my insig gee; ook in die nag is ek daarvan bewus. Die Here is altyd by my. Ja, Hy is aan my regterhand; daarom sal ek nie struikel nie.”

 

Vorige artikelJa vir God, nee vir die kerk?
Volgende artikelAs die feestyd jou gees lamlê
Blogger - Halrika Breytenbach
Halrika Breytenbach is ‘n kommunikasie-konsultant, vryskut-joernalis en stigter van die musiekbediening, Halrika Music Ministries. Met ervaring van die korporatiewe wêreld én bediening, is sy passievol oor beide wêrelde met die wete dat God Sy arbeiders oral nodig het – in die sekulêre bedryf en in die kerk. Sy glo daar is één Koninkryk waarvoor ons onsself beywer, met één liggaam wat dit saam moet doen. Sy is veral ook passievol daaroor dat vrouens moet verstaan wat hulle ware identiteit in Jesus Chistus is, met ‘n dieper besef van hul roeping en skeppingsdoel. Sy tree gereeld as spreker en musikant op by Damesoggende en haar bediening bied self ook Vrouekampe aan. Sy en haar man bied ook kampe vir paartjies aan wat fokus op aanbidding en intimiteit. Haar debuut-album, Asem, is in 2013 vrygestel met Purified haar nuuste album in 2018. Halrika is 14 jaar getroud met haar “spanmaat Faanman” en mamma vir ‘n 9-jarige Prinses. Besoek haar webwerf: www.halrikamusicministries.com.