Ena Murray se diepste geheime

0
183
ena_murray.jpg

Die geliefde Ena Murray, oftewel Mostert, dra ’n yslike geheim saam. Kanker. Ena weier om behandeling te kry, en hoewel baie mense dit nie verstaan nie, was sy nog altyd bekend daarvoor om dapper te leef.

Ena, jy het verpleegkunde gestudeer, maar besluit om voltyds te skryf. Dit was nogal ’n dapper besluit destyds?

Van kleins af was daar altyd stories in my kop wat ek vir my poppe vertel het! Later, toe ek kon skryf, het ek die stories begin neerskryf. En mettertyd het my feë- en kabouterverhaaltjies plek gemaak vir meer ontwikkelde werk en stories wat nader aan die werklikheid was. Dit is egter in die stilligheid gedoen.

Voor ek my kom kry, was my eerste grootmensstorie klaar. Ek was tevrede dat ek aan myself bewys het dat ek dit kan doen. Ek het dit in die laai weggepak, min wetende dat daardie selfde storie sowat ses jaar later as my eerste vervolgverhaal in Rooi Rose sou verskyn en ’n onmiddellike sukses sou wees. Die boek is later met die titel Die glimmende simitar uitgegee.

Na matriek het ek twee jaar lank in Bloemfontein verpleeg. Die skryfgogga het my egter klaar gebyt. Daar was nie veel tyd vir skryf nie, maar ek het deurgedruk. Baie van my ervarings as verpleegster het later in my boeke verskyn.

Jy het altyd baie goeie navorsing gedoen vir jou verhale, maar was dit nie ’n bietjie vreemd om tussen melaatses te gaan bly nie?

Ek het altyd probeer om getrou aan die waarheid te skryf sodat lesers hulle met die karakters en stories kon vereenselwig. So was dit ook met Plekkie in die son. Om die verhaal te skryf, het ek ’n ruk lank tussen die melaatses in die Wesfort-inrigting gaan woon sodat ek regstreeks inligting oor hierdie oeroue siekte kon opdoen.

[Pagebreak] Wat my die meeste getref het tydens my besoek aan die inrigting, was nie die siekte self nie. Melaatsheid is nie afstootliker as ander siektes nie. Wat ’n diep indruk maak, is die absolute vereensaming waarin die siekes skielik geruk word, en die pyn wat hulle aangedoen word deur die verwerping deur ‘die mense daarbuite’.

Jy het nooit self gereis nie, maar tog het lesers die wêreld deur jou oë ontdek. Hoe het jy die plekke bestudeer sonder die internet?

Deur boeke en reisbrosjures! Ek het by reisagentskappe uitgevis oor bestemmings en radio geluister vir inspirasie. Ekself was nooit oorsee nie – nie eens op Robbeneiland nie – maar my naslaanwerk oor daardie vreemde wêrelddele was baie interessant.

Ek het so ’n aardbolletjie gehad, en as ek die keer lus gehad het vir ’n ‘buitelandse’ storie, sit ek die aardbolletjie voor my neer, maak my oë toe en draai dit in die rondte. Dan druk ek met my vinger op ’n plek en maak my oë oop en kyk waar ek gedruk het. Oor daardie plek het ek dan gaan lees en skryf. As dit nie interessant genoeg was nie, draai ek maar net weer die aardbol.

Ena, jy het in jou loopbaan 131 boeke geskryf en in 1980 ook jou eie boeke uitgegee. Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek het darem al op 14 my eerste storie geskryf! Ek was gelukkig om vroeg in my lewe my passie te besef en kon dit van vroeg af uitleef. In die 1980’s het ek besluit om my eie boeke uit te gee. Die eerste boek wat Ena Murray Boeke gepubliseer het, was juis my heel eerste pennevrug, Die glimmende simitar, wat ek op skool geskryf het.

My sukses sal ek toeskryf aan goeie ou selfdissipline en ’n streng skryfprogram. Die helfte van die geheim van ’n suksesvolle skrywer is harde werk. Ek het altyd in my kabouterhuisie naby Wildernis geskryf. Ek het die huisie self gebou, met die bos aan weerskante. Soos die idees by my opgekom het, het ek dit begin neerpen.

[Pagebreak] My boeke is meestal in die nag geskryf, so van eenuur af, as die stilte oor die wêreld daal. Maar met die laaste drie boeke moes ek ’n mediese borsrok dra. Sommer bo-oor die nagrok. Ek het net soos ’n Middeleeuse spook gelyk!

Byna al my verhale is in omnibusse opgeneem, en meer as 350 000 omnibusse is tot op hede verkoop. Dis ’n verbysterende syfer vir die plaaslike mark. Dit is ’n gawe van Bo. Ek is maar net ’n instrument. En uit dankbaarheid het ek nooit op ’n Sondag geskryf nie.

Jy het nou kanker, maar weier om behandeling te ondergaan. Dis vir baie van ons lesers ’n raaisel. Hoekom het jy so besluit?

Soos met alles in my lewe was dit nie ’n ongegronde besluit nie. Ek het gelukkige lewe gelei, ’n vol lewe. Daar is niks waarop ek vandag terugkyk en nie met sekerheid kan sê dat dit nie presies was wat ek op daardie tydstip van my lewe moes deurleef nie. My sake is agtermekaar, ek is gereed om my Skepper te gaan ontmoet.

Tans woon ek in die eenheid vir verswaktes by die Santos Haven aftreeoord in Mosselbaai. My kamer het ’n enkelbed en min ander goed. Dis al wat ek nodig het. Ek word goed versorg, kry gesonde etes en goeie geselskap van die personeel sowel as die ander inwoners. Ek is gelukkig.

My lewe was wonderlik. Ek was gelukkig in my tweede huwelik, en my eerste huwelik was ook nie sonder sy eie vreugde nie! My lewe lank het ek stories in my kop rondgedra en ek het oor die gawe beskik om dit op papier te kon neerskryf. Dit was ’n seën. Ek het geen verwyte nie, my lewe het ek ten volle uitgeleef. Daar is rustigheid in my oor wat die toekoms inhou. Nog ’n lewensjaar is hierdie afgelope Desember gevier. Ek kyk vorentoe en soms, net soms, terug oor die mooi herinneringe wat ek my lewe kan noem.

Die enigste mediese hulp waarvan ek gebruik maak, is ’n suurstofmasjien om my te help asemhaal. My stories is geskryf, my lewe is geleef. Ek is rustig en kalm. Ek weet wat op my wag.