Eunice van der Merwe: ’n Boodkap in ’n botteltjie

0
23

Eunice van der Merwe het hard probeer om haar eerste man van verslawing te red. Maar na ’n harde bakleiery moes sy die bitterheid van mislukking in die oë kyk. Min het sy geweet dat elke bitter oomblik soeter word met tyd.

“Ek was ses jaar lank met ’n mediese dokter getroud,” vertel Eunice van der Merwe. “Hy was aan skedule medisyne verslaaf. Ek het bly hoop dat dinge sou regkom. Tot een aand toe ek hom in die sitkamer kry, bedwelm. Hy moes hospitaal toe, want die spuitnaald en leë ampules langs hom het ’n oordosis verklap. Toe bel ek my vriendin en sy sê: ‘Jy is nie ’n heldin nie. Jy is ’n fool!’ Ek het uiteindelik wakkergeskrik. Ek wou die probleem ignoreer, want ek was doodbang vir die toekoms. Wat sou van my en my dogter word? Maar na die gesprek met my vriendin, het ek besef ek kan nie my man red nie. Dit was tyd om die afbrekende verhouding te stop.

Ek het geweet dat egskeiding nie God se uitsluitlike wil is nie, maar in my situasie was dit sy toelaatbare wil.

Ek was vier jaar lank enkellopend. Soekend. In daardie tyd het ek die boek Hooglied tot in die fynste besonderhede bestudeer. Een vers het by my vasgesteek: My beminde is vir my ’n bossie mirre wat tussen my borste rus. Ek kan nie verduidelik hoekom nie, maar die woord “mirre” het my gefassineer.

Ek het ontdek dat mirre, ’n bitter krui is met ’n soet geur. Daar was my antwoord! Te midde van die bitter is die soet daarvan altyd teenwoordig! In die Bybelse tyd het die vroue takkies van die boom om hulle nekke gehang en onder hulle klere gedra. Hulle liggaamshitte het dan die soet geur van die bitter plant vrygestel. Dit was hulle parfuum.

Die ooreenkoms tussen mirre en my eie lewe het duidelik geword. Die bitter seer van my egskeiding het verander in ’n soet geur van God se seën.

As bewys hiervan het God my geseën! Vandag, na ’n mees geseënde tweede huwelik, kyk ons terug en sien ons dat die soet reuk van God, ons Beminde altyd daar is in bitter moeilike tye. Net soos mirre!

Malan, my man, het my gemotiveer om hierdie mirre-geur te gaan versprei. Die Mirre Bediening is in 2001 gebore en mirre-olie het die basis gevorm van nog Bybelse salfolies wat later gevolg het. Voorwaar! Hy beskik vreugde-olie vir treurigheid (Jesaja 61:3).

Ek het ook die ander olies in die Bybel begin bestudeer. Voor ek my oë kon uitvee, het ek landswyd begin optree om my getuienis te deel. Ek het mense geleer oor die terapeutiese waarde van Bybelse olies.

Een van die vroegste voorbeelde van olie in die Bybel is waar God vir Moses sê om ’n salfolie te maak van mirre, kassie, kalmoes en kaneel (Eks 30:23-24). En wat ’n wonderlike kombinasie was dit nie! Die priesters moes elke dag met die bloed van diere werk. Kassie en kaneel is ’n kragtige antibakteriese kombinasie wat hulle teen infeksies sou beskerm.

Ek het die Bybelse olies eers op klein skaal laat meng, maar later het ek begin om dit self te maak. So het dit uiteindelik uitgebrei tot ’n voltydse bediening. En ek word daagliks daarmee geseën. Na afloop van een van my praatjies het ’n verpleegster vir my kom vertel dat sy met babas werk. Sy het gesê sy raak soms hartseer, want wanneer ’n kind doodgaan kan mens dit ruik. Ek het ’n botteltjie mirre omgestuur tydens die praatjie. “Dit ruik soos mirre wanneer ’n kind doodgaan,” het sy besef. Weereens het ek besef dat God elke bitter situasie in ’n soet geur kan verander.

Bevestiging: Elke bitter stryd word soeter met tyd.