“Facebook” vir Christene

0
15
Faceglória

ʼn Klompie Christene van Brasilië het nou ʼn nuwe sosiale netwerk begin met die naam Faceglória.

ʼn Klompie Christene van Brasilië het nou ʼn nuwe sosiale netwerk begin met die naam Faceglória.

Niemand mag hier vloekwoorde gebruik nie, of ook nie erotiese materiaal plaas nie. Waar Facebook ʼn “like” ikoon het, moet jy op Faceglória op ʼn “Amen”-ikoon druk om te wys dat jy van ʼn inskrywing hou. Omdat daar pornografie en geweld op ander netwerke is, is daar besluit om Faceglória te loods sodat gebruikers die geleentheid kan hê om oor God en liefde te kan gesels. Daar is alreeds meer as 100,000 lede wat aangesluit het sedert hierdie netwerk verlede maand begin het.

Dit klink alles na ʼn baie edel en rein poging, maar ek is glad nie ten gunste daarvan nie. Ek hou eenvoudig nie daarvan om myself so af te sonder dat ek net in veilige “Christelike” ruimtes beweeg nie. Dit is dan amper asof ʼn mens in ʼn klooster op ʼn eiland bly, weg van die harde wêreld af. En dit is nie waar Christene moet wees nie. Christene moet hulle invloed laat geld op plekke waar dit ʼn uitdaging is.

Ja, die Skrif praat dikwels daarvan dat Christene ‘afgesonder” moet wees, soos ook in Hebreeus 3:1 Daarom, broers wat vir die Here afgesonder is en deelgenote is van die hemelse roeping, moet julle noukeurig let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely.

Maar die Griekse woord wat hier vir “afgesonderd” gebruik word, beteken eintlik dat ons “toegewyd” en aan God “oorgegee” moet wees. Ons moet dus omtrent “uitverkoop” wees aan God binne in ʼn harde en ongenaakbare wêreld!