Felicity van 7de Laan vertel haar storie

0
578
Melanie du Bois

As dit nie vir ’n ongeluk op 19 was nie, sou Melanie du Bois (Felicity van 7de Laan) dalk nooit die moed gehad het om vandag aktrise – én ’n kranige fietsryer – te wees nie.

Ek maak my oë oop en beleef die mees vreesaanjaendste dag van my lewe. Gewone goed wat ek behoort te weet, is skielik ’n raaisel.“Wie is ek? Waar is ek?” skommel die vrae deurmekaar in my gedagtes.

My lyf was nog nóóit so seer nie. Alles pyn… maar my bene die ergste. Wat het gebeur? En wat maak ek in ’n hospitaalsaal tussen ’n klomp mans?
“Mammie!” prewel ek verlig toe ek my ma, Cathy, langs my bed sien. “Toemaar Mellie, jy sal okay wees. Hulle kyk mooi na jou,” probeer sy my gerusstel. Sy verduidelik dat ek in ’n hospitaal in Hillbrow lê; in die manssaal (die damesafdeling is onder konstruksie). Sy vertel dat ek in ’n ongeluk was. ’n Motor het te vinnig gery. Ek het oor die pad gestap toe die voertuig my stamp, en ’n paar meter ver deur die lug geslinger het.

Ek kan níks onthou nie. Wat my nog méér ontstel is die vreemde man wat langs my ma kom staan en vreeslik besorgd lyk. Hy buk selfs af en soen my!
“Mammie,” fluister ek benoud, “wie’s die man en hoekom is hy so soenerig en vatterig. Sê hy moet ophou!”

Dis ’n baie ernstige situasie, maar my ma kan nie help om te lag nie. Die ‘vreemde ou’ is Regi, my kêrel van die afgelope jaar. Hy lyk erg benoud omdat ek hom glad nie herken nie. Dis ’n skrikwekkende ervaring om aan tydelike geheueverlies te lei. Ek vra dieselfde vrae oor en oor, maar vergeet die antwoorde amper oombliklik. Die belangrikste vraag moet egter nog beantwoord word: “Wat gaan volgende met my gebeur?”.

“Melanie, ná die ongeluk is jou een been sowat 2cm korter as die ander een. Omdat daar so ’n groot verskil tussen jou bene is, sal jy van nou af mank loop.”
Ek voel hoe een groot, donker skadu oor my hart en gedagtes skuif. Hoe gaan ek sonder sport klaarkom?
Die skok is so groot dat ek myself vir maande lank terugtrek in ’n swart wêreld van depressie. Ál waaraan ek kan dink is: “Arme, arme ekke.” Boonop moet ek weer van voor af leer loop. My been was vir so lank in gips dat dit nou dun en swak geword het.

[Pagebreak] Vandag, as ek terugdink aan daardie donker tyd in my lewe, staan ek verbaas oor hoe die ongeluk my as mens gevorm en geskaaf het tot wie ek vandag is. Op 19 voel dit mos of jy die hele wêreld aan jou voete het, maar die ongeluk het mý wêreld aansienlik wyer kom strek. Dit het my geleer hoe om voluit te leef ten spyte van ’n gebrek. Hoe om vas te byt as jou lyf sê jy kán nie meer nie. Dit het ook my drome en doelwitte verander en geslyp, sodat ek kon word wie ek veronderstel was om te wees.
Dis vroue soos my ma wat my laat besef hoe belangrik dit is om jouself met goeie, gesonde rolmodelle te omring. Sy’s ook ’n aanhouer en uithouer, wat selfs vasgebyt het en haar matriek in haar veertigerjare klaargemaak het.

Ons moet begin opkyk na mense wat ons ken – die mense in ons eie families en gemeenskappe wat ’n goeie, inspirerende voorbeeld stel. Ek en Regi (wat intussen my man geword het), spits ons vandag daarop toe om jongmense te bemagtig om goeie waardes na te streef; én om in hulle self te glo. Dis ongelukkig ’n hartseer-aspek van die bruin gemeenskap. Die jongmense, veral die meisies, dink hulle is nie goed genoeg nie, en ongelukkig word dié idee versterk deur die feit dat seunskinders nog in baie huise belangriker geag word as die dogters. Harde werk en dure ondervinding het my geleer om die lewe, en die probleem met my bene, met die regte denkwyse aan te pak.

Twee jaar gelede het ek besef as ek ooit wil vrede maak met my lyf en weer aktief wil word soos voorheen, moet ek iets daadwerkliks begin doen. My oudste suster nooi my toe om saam met haar na Chaz (Charmaine Howell) se Team Chaz Boot Camp toe te gaan. Ek onthou nog daardie eerste dag. Chaz het die opdragte soos ’n wafferse drilsersant uitgebulder: “Ons doen al die oefeninge saam…niemand praat nie…ons drink saam water…”.

“Ja, right!” het ek so ewe gedink, en laggend met die een langs my begin gesels. Groot fout. “Jý wat so lekker praat, gaan hardloop om die veld!” het Chaz my gou op my plek gesit. Vandag dank ek my sterre dat my pad dié van Chaz s’n gekruis het. Sy’t my, nes my ma, geleer dat as jy wil, kán jy – mank been of te nie.

[Pagebreak] As jy bereid is om hard te werk en aanhou te probeer, sál jy jou doelwitte bereik.
My doelwitte het mettertyd my grootste verwagtinge oortref. Ek is genader deur ’n vriend om as deel van die ‘Distance for Difference’-welsynsprojek aan die Cape Argus fietswedren deel te neem.

“Melkies, ek wéét jy kan dit doen,” het my vriend bly paai; en omdat ek nie maklik nee sê vir ’n uitdaging nie, het ek uiteindelik ingestem.
Die eerste keer op daai fiets was pateties! Ek kon nie eers ordentlik ry nie en het baie geval, maar ek het elke keer opgestaan en weer probeer. Met baie inspanning, deursettingsvermoë en geduld het my spiere sterk genoeg geword om enige bult kaf te ‘trap’.
Die dag van die Argus het aangebreek.
Dit het verbasend goed gegaan…tot 43km voor die eindstreep. Iemand het teen my vasgery, my wiel het oor die los klippe gegly en ek het neergeploeg. Hard. Selfs die fietsryhelm op my kop het gekraak.

Chaz se bulderende motto het weer helder in my gedagtes opgekom: “There’s no ‘can’t’ in my vocabularly…” Ek het hinkepink opgestaan, die ergste bloed afgevee, my wonde laat verbind en terug op my fiets geklim. Dit het baie lank gevat, maar ek het die wedloop voltooi. Ja, jy kán, as jy wíl, en as bereid is om hard daarvoor te werk.

Ek was veral in my noppies toe my karakter, Felicity in 7de Laan, lam geword het en in ’n rolstoel vasgekluister was. Nou het ek selfs ’n groter platform gehad om my boodskap aan die wêreld te verkondig! Daar’s nie regtig rolmodelle op TV vir mense met gestremdhede nie, daarom was ek dankbaar vir die kans. My boodskap in my rol was dieselfde wat ek ook in die werklike lewe probeer uitleef: ons almal kom een of ander tyd te staan voor persoonlike uitdagings. Dit gaan nie oor wát met jou gebeur nie, maar hóé jy dit hanteer. Maak ’n kopskuif en besluit jy kan.

Deesdae is die woorde ‘ek kan nie’, glad nie meer deel van my woordeskat nie. Ek weet ek kán. Trap-trap-trap. Bult op en bult af, met die wind in my hare. Wat ervaar ek? Vrede, vreugde en dankbaarheid – want ek het dit wat ander as ‘onmoontlik’ beskou het, reggekry! En niemand kan eers meer sien ek is eintlik mank nie….