Finesse 4:12 Meisie bied aan… ’n Spesiale byeenkoms vir tienermeisies en hulle ma’s, met eiewaarde, skoonheid, verhoudings en lewensdoel as temas.

Wens jy jy het meer gehaltetyd saam met jou dogter gehad, sonder ’n selfoon wat piep, werk wat roep en wasgoed wat wag? Hier is jou kans om te ontspan en rustig saam met haar te kuier rondom kwessies wat haar hart raak.

Kom deel hierdie dag met mekaar, lag lekker saam en bou terselfdertyd aan julle twee se verhouding. Inspirerende ma-endogter- sprekers soos Gretha Wiid en Liesel en Karmen Wiid deel hulle wenke met ma’s en dogters. Finesse 4:12 Meisie se redakteur, Janine Truter, en Teodor van der Spuy van Kerksondermure sal jou en jou dogter help om weer nader aan mekaar te kom. Wynand en Lindi Delport van die groep Anders kleur die dag verder in.

’n Dogter het ’n baie spesiale plekkie in ’n ma se hart, maar dis soms moeilik om te sê hoe lief jy haar het en hoe kosbaar sy is – dit voel onnatuurlik. Hier is jou kans om al die mooi dinge vir haar te sê.

Aan die einde van die dag is daar geleentheid om jou dogter te seën en vir haar te vertel dat jy haar unieke gawes waardeer en raaksien.

TEMAS OM NA UIT TE SIEN

Teodor van der Spuy vertel vir meisies wie hulle is en Wie s’n hulle is, en dat jou omstandighede nie jou toekoms bepaal nie. Hy laat meisies verstaan dat God hulle baie liefhet en dat hulle gemaak is met ’n doel.
• Elke meisie kan ’n verskil maak, sê Liesel en Karmen Wiid. Hierdie ma en dogter deel die vaardighede wat nodig is om jou stem te laat hoor. Daar is baie dinge in die wêreld wat beter kan wees. So, kom ons verander dit! As dit nie nou gebeur nie, wanneer dan? As jý dit nie gaan doen nie, wie gaan?
• Die lewe is nie altyd maklik nie. Daarom moet elke meisie weet hoe om haarself te verdedig teen boelies en hoe om haarself in moeilike situasies te handhaaf. Gretha Wiid en haar dogter gee praktiese wenke vir sulke tye.
• Jy is goed genoeg. Regtig. Maar hoe bly jy gesond en positief in ’n samelewing wat die perfekte looks beklemtoon? Janine Truter vertel hoe jy beste vriende kan word met jou lyf, maar dat jy nie moet vergeet van jou innerlike skoonheid nie.

TEKEN DIT AAN IN JOU DAGBOEK

Datum | Saterdag 17 Maart 2018
Tyd | 12:30 vir 13:00 tot 17:00
Plek | Kerksondermure, Hippolaan & Hendrik Verwoerd-rylaan, Centurion, Pretoria
Bespreek jou plek | R300 vir ’n ma-en-dogter-kaartjie (R100 vir ’n ekstra dogter-kaartjie)
Ingesluit | e-Finesse-intekening vir ’n jaar (9 uitgawes)

KAARTJIES

Kliek op kalender.voelgoed.co.za.