Fluister soete woordjies

0
41
liefde_met_passie.jpg

Sy:
Ek is ’n affodil van Saron,
’n lelie van die laagtes!”
Hy:
“Soos ’n lelie tussen dorings,
so is my liefling tussen die meisies.”
Sy:
“Soos ’n appelboom tussen wilde bome,
so is die man wat ek liefhet,
   tussen die jongmans.
Ek sit graag in sy skaduwee,
sy vrugte is soet in my mond.
Hy vat my na ’n feesplek toe;
hy straal van liefde vir my.
Julle moet vir my rosyntjies gee
   om my sterk te maak,
julle moet my met appels verfris,
want die liefde verteer my.
Sy linkerarm is onder my kop,
sy regterarm omhels my.
Vroue van Jerusalem, ek smeek julle
en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak
   en aanvuur
voor die tyd daarvoor ryp is nie.”
(Hooglied 2:1-7)

Luister net wat sê hierdie twee verliefdes vir mekaar! Watter vrou se hart sal nie smelt van geluk as sy haar geliefde se stem hoor wat sê dat alle ander vroue doringbosse is in vergelyking met sy liefling nie!

Tuinblom of veldblom

Tog, al raak die minnaar hierbo so liries oor sy geliefde, is dit ongelukkig dikwels baie moeilik om presies te weet van watter plant- of blomsoort Bybelse skrywers praat. ’n Mens kan dit duidelik sien as jy verskillende Bybelvertalings met mekaar vergelyk. So praat die NAV in Hooglied 2:1 hierbo van ’n affodil, maar die OAV sê: “ek is ’n narsing van Saron”. Die Good News Bible vertaal dit met: “I am only a wild flower in Sharon”, en die New International Version  met: “I am a rose of Sharon”.

Hierdie vers word nogal dikwels aangehaal en gewoonlik met ’n baie positiewe stelling. Tog is dit nie eintlik die geval nie. As hierdie vrou haarself met ’n blom vergelyk, is dit nie omdat sy dink dat sy pragtig is nie. Inteendeel, Bybelverklaarders reken dat die woord wat hier met “affodil” vertaal word, waarskynlik verwys na ’n bleek, vleeskleurige blommetjie wat volop in die veld voorkom. Daarom praat die Good News Bible van wild flower. Hierdie meisie sê dus aan haar minnaar dat sy maar doodgewoon is, nes al die ander meisies om haar. Sy voeg by dat sy ’n “lelie van die laagtes is”. Sy lyk maar soos al die ander blommetjies in die veld. Sy is beslis nie mooier as enige van die ander meisies nie. Waarom sou haar minnaar nou juis vir haar uitkies?

[pagebreak]

Maar haar minnaar stem nie saam nie: “Soos ’n lelie tussen dorings, so is my liefling tussen die meisies.” ’n Blom staan uit tussen dorings. Net so staan hierdie meisie vir hom uit bo al die ander, sy is iemand besonders. Vir enige vrou is dit sielsverheffend lekker om so iets te hoor uit die mond van die man vir wie sy lief is.

Appels en rosyntjies vir liefde

Die meisie het ook vir haar minnaar ’n lekker kompliment: hy is vir haar “soos ’n appelboom tussen wilde bome” (vers 3). Ook hy is nie sommer net enige man nie. Hy troon bo hulle uit, nie wat lengte betref nie, maar wat kwaliteit betref. Die ander mans is sommer ’n klomp wildebome, maar háár minnaar is ’n appelboom. En die appelboom is ook nie ’n heeltemal “onskuldige” beeld nie. Daar is geglo dat appels krag gee. Buitendien het appels deur die eeue ’n sterk assosiasie met seks gehad. In die volksmond word daar dikwels gesê dat Eva met ’n appel vir Adam laat sondig het (al staan dit nie so in die Bybel nie). Die appel is dan ook as ’n simbool van seks gesien. Selfs in ons moderne wêreld het die gebyte appel ’n simbool van seks geword.

Die verliefde paartjie in Hooglied 2 is kwistig besig om komplimente aan mekaar uit te deel. Dit is so ’n belangrike komponent van ’n romantiese verhouding. Beide man en vrou wil graag weet dat hy of sy absoluut spesiaal en besonders is vir die ander een. Die meisie in die gedig sê verder dat sy graag in die skaduwee van hierdie appelboom sit. Om in iemand se skadu te sit, beteken dat jy onder daardie persoon se beskerming is (kyk Ps. 17:8; 36:8). Sy geniet die sekuriteit wat die man haar bied. Sy voeg by: “sy vrugte is soet in my mond” (v. 3). Daarmee bedoel sy dat sy die seksuele plesier geniet wat hy haar gee. In die vorige liedere word daar telkens verwys na hoe die man die seksuele plesier geniet wat sy vrou hom bied. Hier is dit weer andersom. Dit moet mos beide verliefdes se doel wees om aan die ander een genot en plesier te verskaf.

In vers 4 sê sy dat hy haar na ’n feesplek toe neem. Sulke “feesplekke” het ook ’n erotiese konnotasie. Daarom vra sy dat hulle vir haar “rosyntjies” moet gee om haar sterk te maak (v. 5). Volgens die OAV vra sy vir rosynekoeke.

[pagebreak]

Ons weet dat die aanbidders in die Baälkultusse rosynekoek geëet het. Daar is geglo dat rosynekoek nes ’n seksuele opkikker werk. So lees ons in Hosea 3:1 dat die Here vir Hosea sê: “Gaan knoop weer ’n liefdesverhouding aan met ’n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, lief het, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.” As die vrou vra om met rosynekoeke versterk te word, sinspeel sy daarop dat sy selfs nog meer seksueel aangewakker wil word sodat sy haar man behoorlik kan plesier.

Sy vra verder ook om met appels verfris te word, aangesien die liefde haar verteer. Soos ons hierbo gesien het, is ook appels swaar gelaai met erotiese konnotasies. Dit is interessant om te sien dat sy skoon “siek” is van die liefde (sy word deur liefde “verteer”), tog lê haar “genesing” juis daarin dat sy liefde moet kry. Slegs haar minnaar kan hierdie passie bevredig, sodat sy weer “gesond” kan wees.

In die volgende vers lees ons dat hierdie paartjie gevorder het tot by saamslaap. In die antieke kuns sien ons dikwels afbeeldings van ’n man en vrou wat seks het in ’n posisie presies soos hierdie vrou dit in vers 6 beskryf: “Sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my.” In die laaste vers vra sy die vroue van Jerusalem om “nie die liefde wakker te maak en aan te vuur voor die tyd daarvoor ryp is nie”. Die Good News Bible se vertaling verduidelik die situasie egter veel beter as die NAV: “Promise me, women of Jerusalem … that you will not interrupt our love.” Hierdie paartjie is nou baie besig en wil nie gesteur word nie!

Dit is ook interessant dat wanneer sy die vroue van Jerusalem vra om hulle nie te pla nie, sy terselfdertyd die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie roep (v. 7). Beide hierdie boksoorte is sterk met liefde geassosieer. Dit maak die vrou se versoek dus vol erotiese ondertone.

Ook hierdie liefdeslied word afgesluit met die paartjie wat hulle liefdesessie tot die hoogtepunt voer.

Dis tog nie régtig wat daar staan nie?

Ons het alreeds gesien dat Hooglied dikwels deur die vroeë Bybelverklaarders allegories verklaar is. Dit beteken dat die boodskap van die boek vergeestelik is. Die antieke teoloë het verleë gevoel omdat daar ’n boek in die Bybel is wat seksueel so eksplisiet is.

Daarom wou hulle die betekenis daarvan “versag” deur die letterlike betekenis van die verse te ontken en ’n geestelike betekenis daaraan toe te ken. Hulle het nie verstaan dat God openlik praat nie, ook oor die seksuele sy van die mens.

[pagebreak]

Hulle pogings om die letterlike seksuele betekenis van verse “weg te verklaar” het onvermydelik dikwels komies geraak. ’n Mens kan nie help om te glimlag  oor sommige vindingryke “verklarings” nie. Kom ons kyk weer na ’n paar daarvan.

Wanneer die meisie in vers 1 sê dat sy ’n “affodil van Saron” is (v. 1), sê die antieke teoloë dat dit na Christus verwys. Hy is die blom. Wanneer die man in vers 2 sê dat sy beminde “soos ’n lelie tussen die dorings is”, antwoord die Skrifverklaarders dat dit hier eintlik gaan oor die kerk wat soveel beter is as al die sinagoges. In vers 4 sê die vrou dat haar beminde haar na ’n feesplek toe vat. Dit, sê die antieke teoloë, is die kerk. En as die vrou sê haar geliefde “straal van liefde” vir haar, moet ons dit as Christus se liefde vir die mens verstaan.

Nou kom ons by die rosyntjies (v. 5). Die antieke teoloë het geglo dat die rosyntjies simbool is van die Wet, omdat die bestudering van die Wet ’n mens ook sterk maak. Maar die vrou vra ook om met appels verfris te word (v. 5). Daarop antwoord die teoloë dat appels mos aan ’n boom hang. En die boom is ’n simbool van die kruis van Jesus. Die vrou dus om deur Christus se sterwe verfris te word. En as die tweetjies styf teen mekaar lê – “sy linkerarm is onder my kop, sy regterarm omhels my” (v. 6) – het die Skrifverklaarders lank geglo dat dit verwys na God wat ons omarm. Die twee arms waarvan hier gepraat word, is die twee tafels van die Wet.

Kernenergie

Hierdie soort uitleg kan dikwels regtig aan die absurde grens. En dit spruit alles voort uit die oortuiging dat God nooit sulke seksueel eksplisiete materiaal in sy Woord sou toelaat nie. Eeue lank het die mens gesukkel om te begryp dat God die mens in sy totaliteit (gees, siel en liggaam) gemaak het. Daarom kan Hy ook vir die seksuele plek maak in sy Woord. Ons mag nooit die seksuele aspek van die mens gelykstel aan die aardse of die sondige deel van die mens nie. Ook seks kan Goddelik wees – as die mens dit natuurlik binne God se riglyne aanwend. Liefde, romanse en seks is soos kernenergie. Wanneer ons kernenergie positief gebruik, kan ons elektrisiteit daarmee opwek en sodoende mense se lewensomstandighede verbeter. Maar ons kan ook ’n kernbom maak en mense se lewe verwoes. Presies dieselfde geld vir seks. Of dit positief of negatief aangewend word, hang van onsself af. Ons kan ons lewens daarmee vernietig of ons kan daardeur die grootste vervulling van ons behoeftes beleef. Indien ons kies om binne God se riglyne te bly, verseker ons vir ons geluk op elke terrein van ons lewe, ook op seksuele gebied.

DEEL
Vorige artikelNuutgemaak!
Volgende artikelWAT is gebed?
Geniet 'n eersteklas- aanlyn wêreld met dieselfde warm gevoel van 'n lekkerlees tydskrif.