Fokus

Ons kuier saam vriende in ‘n wildreservaat in Kwazulu Natal. Iets donker lê in die water. Ons trek die verkyker nader … Dis ‘n trop seekoeie. Dis ons eerste trofee vir die dag.

So hou ons aan, uur na uur en tuur na die veld om ons. Alles in ‘n poging om die volgende dier te eien. Ons oë raak gewoond aan die veld en sy kamoeflerende skakerings. Orals begin diere op te pop. Ons sien vlakvarke met pen-orente sterte. ‘n Hele trop njala’s hardloop oor die veld. Kameelperde bekyk ons vanuit die hoogtes en behou ‘n veilige afstand. Zebra’s se pote dawer luidkeels oor die aarde. Blouwildebeeste snork hier naby ons. Renosters stap doodluiters na die watergat. Neushoringvoëls is volop. Allerhande bokke maak hul verskyning. Ons het ‘n besonderse goeie dag wat wild kyk betref.

Ek sit en dink aan die vreemde verskynsel van die mens om vir ure lank in ‘n motor te ry en gefokus na diere te soek. Elke boom, bossie en grassie word gefynkam in die hoop van om iets raak te sien. Daar is paraatheid en verwagting in die lug. Hoop en vertroue is tasbaar.

Dit laat my dink aan Psalm 27:13-14 (OAV) – ‘O, as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!’

Om te wag op die Here is glad nie passief nie! Dis om aan te hou beweeg op die paaie van die lewe, wetende dat Sy goedheid te vinde is om elke hoek en draai van ons bestaan. Dis om verras te word met Sy nabyheid in areas waarin jy Hom nie verwag het nie. Dis om op die punt van jou stoel te sit en uit te kyk hoe Hy Sy goedheid aan jou en die mense om jou wil demonstreer. Dis om gefokus te wees op Sy hart vir jou en jou situasie.

‘n Laaste trop vlakvarke maak hul verskyning net voor ons die hek verlaat. Hul draf al voor die motor uit, kwansuis asof hul ons begelei. Sy goedheid gaan ons vooruit.

Hoe bewus is jy van God se goedheid in jou eie lewe?

Hoe paraat vertrou jy Hom?

Hoe gefokus is jy op Sy leiding?