Fokus op liefde, die lus sal volg

0
436
liefde.jpg

Seks in die huwelik kan maklik ’n las word. Moenie verwag dat jy of jou maat altyd moet “lus” wees nie.

Wat is jou maat se emosionele behoeftes?

Seks is ’n onderwerp waaroor ons nie genoeg praat nie. Ons is geleer seks is óf sonde óf heilig. As jy ’n bietjie konserwatief is, is dit sonde, en as jy lus is, hoop jy dis heilig. Sommige mense is so eng in hulle verstaan van seks dat hulle nie kan glo dat dit daar is vir getroudes om te geniet nie.

As jy honger is en jy stap by ’n eetplek verby, kan jy nooit besluit waarvoor jy die meeste lus is nie. Vis, vleis of pasta klink alles ewe lekker. As jy egter klaar geëet het, ruik die kos nie meer so lekker soos aan die begin nie. As die muis vol is, is die meel mos bitter. Net so met ons huwelike. Die belangrike vraag wat jy moet antwoord, is nie of jý enige emosionele behoeftes het waarin jou maat nie voorsien nie. Wees eerder gretig om te wil weet of daar enige behoeftes is van jou maat waarin jý nie voorsien nie. As julle elke dag mekaar se prioriteit is, verdwyn die “las” van seks.

God het liefde in gedagte gehad, nie lus nie

Wat mense nie altyd verstaan nie, is dat seks wat slegs op lus gebou is, later ’n las word vir die paartjie – bloot omdat God nie net lus in gedagte gehad het nie, maar veel eerder liefde. Julle sekslewe ly dalk op die oomblik onder beroepspanning. Liefie het skielik hoofpyn en selfs die eens altyd-gereed, energieke man van die huis juggle ook die balle tussen die luste en die laste.

Jy is ’n baie besige mens wat in jou agterkop weet watter dinge verander moet word, maar net nooit die doelbewuste besluit neem om dit te doen nie. As jy nie vandag nog sekere dinge in jou leefwyse wil verander nie, wonder ek maar net wanneer jy dit dan gaan doen. Môre? Volgende week? Sodra jou maat iets van sy of haar kant af verander?

Seks raak mettertyd minder gereeld en is minder gefokus op intimiteit. Ons vra skaamteloos of die ander een lus is en trek dan sommer onsself uit om die proses vinniger klaar te kry. Ons roetine bepaal mos dat ons reeds weet wat wag. Wat jy egter moet verstaan, is dat mense wat worstel met wellus, makliker swig vir iets wat in die oë van die wêreld verbode of immoreel is. Mans wat met lus rondkyk na ander vroue – hetsy in die openbaar of op TV – laat hulle vroue verneder en verstoot voel. Heel dikwels sal die vrou emosioneel uitgelewer voel en seksueel onttrek.

As ’n man nalaat om emosioneel na sy vrou te kyk en later die dag dit waag om vir haar te vra of sy nie ook lus is nie, sal die enigste lus wees wat sy voel, ’n dodelike veglus wees. En so sal jou lus ongelukkig geblus moet wees.

Belangrike aspekte vir ’n gesonde sekslewe

Vir ’n gesonde seksuele verhouding wat uit liefde funksioneer moet die volgende aspekte in gedagte gehou word:
1. Getroudes kan net ’n gesonde seksuele verhouding hê as hulle ’n goeie emosionele verhouding het. Die emosionele band tussen julle bepaal julle bedsake. Werk elke dag aan julle emosionele verhouding. Dink na oor wat jy emosioneel vir jou maat kan bied, en wees jy eerste om jou maat se emosies en gevoelens in ag te neem.

2. Julle vlak van intimiteit hang in ’n groot mate af van julle fisieke toestand en gesondheid. Dit speel ’n belangrike rol en jy moet daarom kyk na jou cholesterol, diabetes, bloeddruk en so meer. Jou welstand beïnvloed dikwels ook jou libido. Kry professionele hulp en raad – dit mag dalk ’n hemelsbreë verskil in die slaapkamer maak.

3. Leefstyl het ’n invloed op julle sekslewe. Jy kom laat by die huis, jy het in spitsverkeer vasgesit, jy moet kosmaak en die kinders met hulle huiswerk help. Jy is gespanne. Jy werk lang ure. Al hierdie dinge beïnvloed julle sekslewe. Ten einde ’n diep en emosionele ervaring saam met goeie seks te hê, sal julle tyd opsy moet sit daarvoor. Twee mense wat emosioneel redelik dood voel by mekaar, omtrent nooit praat nie en weggegroei het van mekaar af, sal waarskynlik geen emosie toon tydens seks nie. Dit sal ’n daad wees waar twee mense mekaar gebruik om die lus te voer. Kan jy dink hoeveel gevoelens van gegriefdheid in sulke oomblikke kan ontstaan – gevoelens dat jy net goed genoeg is vir één ding?

As die hele week ’n dolle gejaag is, kies ’n aand in die week om tyd te maak vir mekaar. Dit hoef nie noodwendig op seks uit te loop nie. Geniet net mekaar se volle aandag en teenwoordigheid. Wees mekaar se prioriteit.

4. Ken die grense van seks binne die huwelik en respekteer dit. Pornografie is byvoorbeeld glad nie deel van God se wil nie. Dit verteenwoordig seks buite jou huwelik wat net op die vlees gefokus is. God se bedoeling met seks binne die huwelik was nie net die vleeslike nie. As ons net besig is met drange in ons sekslewe, is ons buite die grense. Seks is ’n pakket wat liggaam, siel en gees insluit.

God het seks ontwerp sodat ons emosionele vervulling, geestelike eenheid en fisieke bevrediging kan ervaar. As jy regtig méér uit jou huwelik wil hê, sal jy moet besef dat as daar ’n probleem is, jy iets daaraan sal moet doen. Dis net in flieks waar probleme hulleself oplos. Geniet mekaar, koester mekaar en ervaar intense liefde en passie. Die lus sal wel volg.

Uittreksel uit Onblusbare liefde van Gretha Wiid.