Fokus op mekaar se sterk punte

0
69
verhouding.png

Wanneer verliefheid verdwyn kyk ons maklik in mekaar se swakhede vas. Fokus doelbewus op die sterk punte.

As ek terugdink waarom ek so tot my vrou aangetrokke was, besef ek dat sy eienskappe gehad het wat ek nie gehad het nie. Sy was baie saggeaard en liefdevol, juis die teenoorgestelde van hoe ek was. Op haar beurt was sy aangetrokke tot my selfvertroue en beslistheid, eienskappe wat sy nie gehad het nie.

Dit was egter eers ná ons getroud dat ons van mekaar se tekortkominge bewus geraak het, en wat ’n ontnugtering was dit nie. Ek het nie geweet dat sy so moeilik besluite geneem het nie. Om saam inkopies te doen was ’n nagmerrie, want ek kon baie vinnig besluit om iets te koop terwyl sy lank daaroor moes nadink en eers moes kyk of daar nie iets beters beskikbaar was nie. My ongeduld het haar ontsenu, en dan koop sy iets wat sy nie eintlik wou gehad het nie. Dan is sy weer kwaad vir my, met al die nadelige gevolge wat daaruit voortgespruit het.

Die eerste vyf jaar van ons huwelik was nie maklik nie. Sy het dit as haar roeping beskou om my nederig te hou, en dit het sy gedoen deur my gedurig op my foute te wys. Ek het haar in gelyke munt terugbetaal, en so het ons mekaar gereeld afgetakel.

Toe kom ons op die konsep van temperamente af. Vir die eerste keer het ek besef dat haar onbeslistheid (en ander “tekortkominge”) nie sommer lawwigheid was nie. Sy kon dit nie verhelp nie. Dit was deel van haar temperament. Net so het sy besef dat my onsimpatieke gesindheid deel was van my temperament. Daar het vir ons ’n lig opgegaan. Ek kan nog goed onthou toe ons die dag ’n nuwe “huweliksbelofte” teenoor mekaar afgelê het. Ons het onderneem om mekaar te aanvaar net soos ons is en nooit weer ’n poging aan te wend om mekaar te verander nie.

Dit was ’n absolute mylpaal in ons huwelik. Ons het dit nie altyd reggekry om by ons nuwe belofte te hou nie, maar ons het doelbewus op mekaar se sterk punte begin fokus: die dinge wat ons van mekaar waardeer. Ek kan eerlik sê dat ons nou, na 37 jaar se getroude lewe, nog steeds van mekaar se tekortkominge bewus is, maar dit is nie meer ’n bron van irritasie en wrywing nie.

Die tweede mylpaal in ons huwelik was die besef dat liefde nie ’n gevoel is wat tot optrede lei nie, maar dat dit ’n optrede is om in mekaar se behoeftes te voorsien. Die liefdesgevoel sal dan volg. Ek onthou die dag toe ons ’n kwaai rusie oor die telefoon gehad het. Op pad huis toe na werk was ek briesend kwaad. Ek het my voorgeneem om my vrou goed die leviete voor te lees. Toe ek by die huis kom, was sy egter nie daar nie. Wat ’n teleurstelling.

Terwyl ek vir haar wag, briesend en stomend, kry ek skielik die gedagte dat ek vir haar ’n bossie blomme moet gaan koop. Ek besef dit is die Here wat daardie gedagte by my tuisbring en ek reageer met ’n skerp: “Nooit, Here! Kyk wat sy aan my gedoen het.” Weer kom die boodskap: “Hoekom gaan koop jy nie vir haar ’n bossie blomme nie?” Ek het voor ’n keuse gestaan. Ek klim toe maar in my motor en ry blommewinkel toe, al was ek nie juis lus om dit te doen nie.

Wat my getref het, was die feit dat die gevoel van woede my op pad winkel toe verlaat het. Toe sy later by die huis kom en die blomme sien, het sy dadelik geweet die oorlog is verby; die liefdesverhouding is herstel. Die liefdesgevoel het teruggekom.

Om gelukkig getroud te wees is ’n besluit

Eerstens weet ek nou dat iemand baie selde met die “verkeerde persoon” trou. Ons is van die begin af nie aangetrokke tot iemand wat nie by ons inpas nie. Die probleem is dat ons die verkeerde dinge doen. Ná die troue neem elke paartjie die besluit (dikwels onbewustelik) om óf op mekaar se tekortkominge óf op mekaar se goeie eienskappe te fokus. Wanneer ons op ons huweliksmaat se swakhede fokus, kom ons by ’n stadium dat ons niks goeds meer in ons maat sien nie. Wanneer ons op die sterk punte fokus, word die tekortkominge onbenullig.

Tweedens weet ek dat dit binne my mag is om iemand lief te hê. Ek is nie die “slagoffer” van my emosies nie en hoef nie toe te laat dat my gevoelens my gedrag bepaal nie. Die meeste wintersoggende, byvoorbeeld, voel ek nie lus om uit die bed te klim nie, maar ek tree teenstrydig met my gevoelens op – ek staan op. Ek doen dit, nie omdat ek so voel nie, maar omdat ek ’n verpligting teenoor my werkgewer het. My ervaring is egter dat as ek eers op is, ek ook lus begin voel om met die lewe aan te gaan. Gevoel volg op optrede, nie andersom nie.

Paartjies wat gelukkig getroud is, is paartjies wat besluit het om gelukkig getroud te wees. Hulle doen die dinge wat hulle huweliksmaats gelukkig maak, ongeag hoe hulle op daardie oomblik voel. Die gevolg is ’n blywende liefdesgevoel vir hulle maats.

My vriend: jou vrou het waardering en begrip nodig

Aanvaar jou vrou soos sy is. Vertel haar gereeld wat jy van haar hou en wat jy van haar waardeer. Komplimenteer haar gereeld oor haar voorkoms, haar huishouding, haar liefde, haar vriendskap, en al haar ander mooi eienskappe wat jou so aangetrek het. Staan tyd af om na haar te luister en respekteer haar gevoelens. Wanneer sy oor iets ontsteld is, moet jy nie haar emosies met logika probeer beantwoord nie. Sy wil nie ’n oplossing hê nie, sy wil begrip hê.

My seun: Verras jou vrou en wees romanties

Behandel jou vrou romanties. Bring uit die bloute vir haar blomme, net om vir haar te laat weet hoe spesiaal sy is. Verras haar nou ’n dan met ’n klein geskenkie, soos haar gunstelingparfuum. Neem haar uit na toneel- of musiekopvoerings. Neem haar ten minste een keer per jaar vir ’n naweek weg na ’n romantiese plek – net die twee van julle. Maak haar die hof en koester haar tot die dag dat die dood julle skei. Want as jy dít doen, sal die dood die enigste ding wees wat julle sal skei.

My dogter: Jou man smag na jou bewondering

Die pad na ’n man se hart loop deur sy ego. Hy smag na bewondering, veral die bewondering van sy vrou. Vertel hom gereeld (so twee keer per dag?) wat jy van hom waardeer, hoe bekwaam, hoe bedagsaam, hoe liefdevol hy is. Spreek waardering uit vir die manier waarop hy vir jou en die kinders sorg. En wanneer julle saam ’n besluit moet neem en julle nie kan saamstem nie, laat die finale keuse altyd aan hom oor. Die kans is goed dat hy sal besluit wat jy wil hê, want mans geniet dit om hulle vrouens te behaag, behalwe as die vrou daarop aandring. Vir ’n man is dit nie so belangrik wat die besluit is nie. Dis vir hom belangriker wie die besluit neem.