Foutloos!

0
20
Justin_bieber.png

Die Kanadese sanger Justin Bieber het gisteraand in die FNB stadion in Johannesburg opgetree. Een van sy aanhangers het die kans gekry om saam met hom op die verhoog op te stap. Sy het daarna gesê dat dit die beste ding is wat nog ooit met haar gebeur het, en toe bygevoeg: “We walked in and he’s literally like perfect, he’s like a porcelain doll. And literally, he’s so flawless – it’s ridiculous.”

In die Sake-deel van dieselfde koerant is daar ‘n ander artikel met die opskrif: “Selfs ‘welaf’ en geleerde mense maak dom geldfoute.” Hierdie artikel wys weer hoe alle mense, ryk en arm, finansiële foute maak.

So die een artikel vertel my van ‘n volmaakte mens, die ander artikel vertel vir my dat ons almal foute maak. Ek is geneig om die laaste artikel te glo. Vir die Blieber-aanhanger wil ek net sê: “Leef so ʼn rukkie saam met Justin, en dan praat ons weer.” Ek dink ons almal begeer om nooit foute te maak nie. Sommige van ons word erg ontstel oor die foute wat ons maak, en ons voel dikwels soos mislukkings. Romeine 5:12 sê inderdaad vir ons dat ons almal gesondig het. Maar dit is gelukkig nie al wat die Boek Romeine vir ons sê nie. Romeine 5:19 sê ook: “Soos baie deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword het, so ook sal baie deur die gehoorsaamheid van die een Mens vrygespreek word.”

Ek en jy hoef nie verpletter te wees oor ons gebreke nie. Ons hoef nie onsself te verag daaroor nie. Jesus dra die skuld van ons sonde sodat ek en jy nou “volkome perfek en volmaak, soos ʼn porseleinpop, letterlik foutloos” voor God kan staan – selfs meer foutloos as wat Bieber se aanhanger dink dat hy is!