Frank Rautenbach, ‘n pa sonder kinders

0
6357

Kinderloosheid is ’n uiters pynlike verlies vir ’n egpaar. Stories oor hoe vroue voel, is volop. Maar hoe voel ’n man? Watter vrae en worsteling gaan hulle deur? Frank Rautenbach deel met ons dinge waaroor hy nog nooit met enigiemand gepraat het nie.

Dis ek, my stemafrigter en my gedagtes in een vertrek. Kort-kort ’n vinnige knyp om seker te maak dis nie ’n droom nie. ’n Oudisie vir Superman? Seker my beste kans nóg vir ’n groot rol in Amerika.

Die selfoon se lui onderbreek my gedagtes. Dis Leigh. Ons het die babatjie verloor. Die vierde een.

Ek het by daardie oudisiekamer ingegaan, maar onmiddellik geweet daar is geen eerlikheid in my vertolking nie. Net woorde sonder enige emosie. Daar was geen keuse as om te vertel wat gebeur het nie.

Gelukkig het die mense verstaan. Hulle het my tyd gegee om tot verhaal te kom. Dit was een van my beste oudisies, want ek was nie bang om weerloos te wees voor ander nie.

Oor ’n dekade het ek en my vrou, Leigh, vier mislukte swangerskappe gehad – die een so traumaties as die ander. Een keer het daar vyf jaar verloop na die vorige swangerskap. Ons het dit nie beplan nie. Miskien gaan God ons hierdie keer met ’n kleinding seën.

Toe ook nie. Geen high fives van my seuns, geen soentjies van dogtertjies nie, kom lê die besef swaar in my toe die masjien skielik stil word. Op die skerm kon ons letterlik sien hoe die hartjie ophou klop. Net só. Sonder waarskuwing. Een kyk na die dokter se gesig en ek weet my vermoede is reg. Nog nooit het die stilte van ’n monitor so oorverdowend geklink nie. Die bekende gevoel van “niks” spoel oor my.

Na Leigh kyk ek nie eers nie, want my vrou se hart is ook in stukke gebreek. Teen hierdie tyd weet ek dis soms beter om net stil te bly. Vir party goed is daar nie woorde nie.

Een van die swaarste oomblikke in my hele lewe was toe ’n swangerskap beëindig moes word. Dit het onder plaaslike verdowing gebeur. Die fetussie moes met ’n pyp uit die baarmoeder verwyder word. Ek kon letterlik sien hoe ons droom vir ’n gesin uitgesuig word. “Dit is net sy lyfie, sy siel is klaar daar by God,” het ek oor en oor vir myself gesê en gesmeek vir krag dat ek net staande kon bly vir my vrou. Sy was nie net emosioneel nie maar ook fisiek in skok.

“It will be 500 dollars,” het die ontvangsdame gesê toe ons uitloop. Dit is die ding van Amerika: Soms is jy net ’n nommer. Ek het omgedraai, betaal en probeer om die detail van daardie donkerste oomblik in my lewe te verwerk. Tot nou toe het ek met niemand hieroor gepraat nie, maar soms help dit om te praat.

Baie mans praat nie daaroor nie, miskien omdat mans van die oertyd af beskerm en versorg. Dis in ons ingebou om oplossings te wil gee, maar om jou vrou in ’n bondeltjie op die bed te sien lê, krullend van pyn, is die magteloosste gevoel wat ek al beleef het.

Met ’n miskraam of beëindiging van ’n swangerskap sien mans die verlies amper meer van buite af, op ’n afstand. ’n Vrou beleef dit op ’n ander manier, meer intens. Daardie hartkloppie het vir ’n kort rukkie saam met hare geklop. Met ’n naelstring was hulle aan mekaar verbind.

’n Mens wil so graag sê alles gaan oukei wees, maar dit gaan nie. As daar maar ’n rede kon wees, maar miskien is daar nie. Die maklike, minder pynlike manier is om die situasie te ignoreer, die pyn nie te erken nie en nie daaroor te praat nie. Die meer manlike, volwasse manier is om saam met haar deur die pyn te gaan in plaas van om weg te kruip daarvoor.

Met die jare het ek hopelik die wysheid gekry om te weet wanneer om iets te sê en wanneer om stil te bly. Moenie probeer slim wees of wil regmaak nie. Selfs nie eers troos nie, want dis nodig om te rou. Die trane móét gebeur.

Al wat ’n mens eintlik kan doen, is om daar te wees. Haar voete te vryf, blomme aan te dra, kos te maak. Sulke praktiese dinge sodat sy nie daaroor bekommerd hoef te wees nie.

Dis nie dat ekself elke dag aan die kinders dink nie, maar die gemis is altyd daar, en dan, as jy dit die minste verwag, is daar iets wat die onthou oopkrap, soos die keer toe ek die boek Heaven is for real gelees het. Daarin beskryf die seuntjie, wat vir ’n rukkie in die hemel was, sy sussie wat sy ouers in ’n miskraam verloor het. Hy het nooit eers geweet van hierdie sussie nie.

Dan huil ’n mens maar tot jy beter voel en jou hoop weer in God gevestig is.

Kinderloosheid plaas beslis geweldige druk op ’n verhouding, maar ons het miskien ook nader aan mekaar gekom juis as gevolg daarvan. As twee mense saam deur soveel pyn gaan, kan dit nie anders as om ongelooflike diepte in ’n verhouding te bring nie.

Dit het gehelp dat ons saam besluit het om op te hou probeer. Ons het op die bed gesit, die opsies bespreek en toe net gewéét: Tot hiertoe en nie verder nie. Dit was nie ’n vinnige, skielike besluit nie. My vrou het pyn gehad. Sý is die een wat hier by my is en ek kon net nie toelaat dat sy weer deur hierdie teleurstellings gaan nie.

Dink hoeveel konflik daar sou gewees het as ons nie albei vrede gehad het dat dit die einde van die pad was nie? Gelukkig was daar ook nooit druk van buite af om kinders te hê nie. Nie van vriende nie en nie van ons ouers nie, inteendeel, hulle het die pad saam met ons gestap en toe ons die besluit neem om op te hou probeer, het hulle heeltemal verstaan en ons net liefdevol ondersteun.

Iets wat Leigh gesê het, het gehelp het dat ons nie verbitter geraak het oor ons situasie nie. Dis nog glashelder. Dit was op die Pasadena-snelweg op pad huis toe van die hospitaal ná nog ’n teleurstelling:

“Ons gaan God nie hiervoor verantwoordelik hou nie,” het sy uit die bloute gesê. “Dit is nie Sy skuld nie en ons gaan nié teenoor Hom bitter wees nie.”

Dit was so ’n volwasse ding om te sê en het baie verligting gebring. Die besluit wat ons daardie dag in die kar geneem het, het vir ons hoop gegee. Hoop, dat ten spyte van hierdie verskriklike hartseer, God steeds in beheer is en alles sal laat uitwerk.

Ek was nooit kwaad vir Hom oor hierdie deel van my lewe nie. Dis nie Hy wat dit gedoen het nie. Ons leef in ’n wêreld wat nie perfek is nie; mense wat verkeerde keuses maak, liggame wat nie gesond is nie. Dit was nie deel van Sy plan nie.

My manlikheid is beslis nie beïnvloed deur ons kinderloosheid nie. Dis net so onlogies soos ’n enkellopende wat nou kwansuis minder man sou wees net omdat hy nie getroud is nie. Wat my wel soos ’n mislukking laat voel het, was ander teleurstellings wat ek in Amerika beleef het. Met die een mislukte oudisie na die ander was dit moeilik om in myself te bly glo. Op ’n koue nag in November het die woede in my ’n nagmerrie geword.

Dink aan ’n donker, vuil gebou en soos ek hardloop, kom die mure al hoe nader. Hoe meer ek hardloop, hoe meer verdwaal ek.

Natgesweet het ek wakker geskrik met ’n hart wat wild klop. Elke keer as ek aan die slaap raak, het ek weer wakker geword. So het dit aangegaan tot ek opgestaan het om met die Here te gaan praat. Ek het gedink dit gaan ’n rustige gesprek wees, maar ons het geworstel. Ek was kwaad. Die ding is dat ons geleer word om te bid vir wat ons wil hê, maar nie wat om te doen as ons gebede nie verhoor word nie of net weggevat word.

“Ek glo in U, ek dien U, ek was getrou aan U, maar op veertig is daar niks wat ek daarvoor kan wys nie? Nie een enkele droom het waar geword nie,” het ek Hom beskuldig.

Die antwoord het gekom: “Roem, geld, ’n loopbaan, al daardie goed het belangriker as Ek geword en toe jy dit nie kry nie, word Ek daarvoor geblameer terwyl dit in die eerste plek nie so ’n hoë prioriteit moes geniet het nie. Wat anders is dit as afgodery?”

’n Klomp dinge het in perspektief gekom: Ek ís nie ’n mislukking of ’n sukses nie. My identiteit is beslis ook nie gesetel in dit wat ek al bereik het nie. ’n Situasie is nie positief of negatief nie. Wat saak maak, is of ek gehoorsaam en getrou is aan die Here om die spesifieke rol wat hier op aarde aan my gegee is, te vervul.

En hoe raak ’n mens gereed vir hierdie rol? Jy ondervind teleurstellings, wat jy eerder kan beskou as uitdagings wat na jou gestuur is om jou gehoorsaamheid te toets en jou sterk te maak. ’n Atleet word tog nie ’n kampioen as sy oefeninge nie moeiliker raak nie.

Net toe ek myself begin jammer kry, herinner die Here my dat ons almal pyn het. Dis nou nie asof ek in die middel van ’n oorlog gebore is nie. Of ’n ongeneeslike siekte het nie. Niks vrywaar my teen pyn nie. God het nie eers sy eie Seun teen seer beskerm nie. Wat Hy wel doen, is om die grense van die seer vas te stel omdat Hy van die begin af geweet het hoeveel ons kan hanteer.

Of daar ’n rede vir ons kinderloosheid is, weet ek steeds nie. Dit is vir my verskriklik as mense my vertel daar is ’n doel hoekom ons die kinders verloor het.

“Regtig? Hoe weet jy?”

Wat hulle eintlik vir my sê, is dat my pyn hulle ongemaklik maak. So ongemaklik dat hulle ’n rede daarvoor moet soek. Don’t even go there. Dis heilige grond. Los dit net. Sê net jy is jammer. Dis genoeg.

Dis asof mense nie kan aanvaar dat pyn deel is van die lewe nie, maar dit is wat ons mens maak. Daar is goed in die lewe wat seermaak en gaan seermaak, maar leef eerder daardeur as om dit te vermy. Leun eerder na die pyn toe en vertrou dat jy dit gaan oorwin.

“Jy het nie kinders nie, so, jy het nie die ervaring om hulle te counsel nie,” was ook ’n baie onregverdige uitspraak wat ’n vriend eendag teenoor my gemaak het. Dit het my baie ontstel. Net omdat ek nog nooit my kinders ontmoet het nie, beteken dit nie dat ek nie kinders verstaan nie.

“Ons gaan ons safe haven mis wat julle vir ons gegee het. Die eerlike gesprekke, die lag, kos…” is juis wat ons vriende vir ons gesê het toe ons weg is uit Amerika. ’n Mens hoef nie kinders te hê om ’n pa te wees nie. Dit gaan oor ’n soort nurturing geaardheid. Dis vir my en Leigh baie lekker om huis te maak, mense tuis te laat voel.

Daar is baie kinders in ons lewe. Vriende en familie s’n. Party van hulle het voor ons oë grootgeword. Een ding wat ek oor die afgelope paar jaar geleer het, is dat ek ’n goeie mentor kan wees. Almal is geneig om op die klein bietjie wat verkeerd is, te konsentreer, terwyl soveel eintlik reg is. Die Here het my die talent gegee om mense, veral kinders, te help om op een klein veranderinkie te fokus en daardeur ’n groot verandering te maak.

Aanneming is egter nie vir ons ’n opsie nie. Dit het al gebeur dat iemand na ons kom met kontakbesonderhede van plekke terwyl ek en Leigh nog besig was om goed te verwerk. ’n Paartjie moet ’n groot begeerte, ’n passie, hê om kinders as hulle eie groot te maak. Ons het besluit om op ander maniere betrokke te raak.

Ons het nie iets in die plek van die kinders gekry nie – hulle is onvervangbaar – maar ons het ’n anderste soort leefstyl as wat ons gedink het ons gaan hê. Ek sou werk, Leigh sou by die huis bly om na die kinders te kyk.

Om ’n gesin te hê is soos om ’n groot vragmotor te hê. Jy moet waarskynlik eers nog ’n blok aanry voordat jy kan draai. Ons lewe daarenteen is soos ’n sportmotor – ons kan vinnig ’n ander rigting inslaan.

Kinders is ’n wonderlike seën, maar ek en Leigh is baie meer mobiel. Wanneer daar ’n geleentheid opduik, kan ons dit vinnig aangryp. Een van hierdie kanse was om my storie aan mense te begin vertel.

“Jy treur nou, maar die dag gaan kom dat jy gaan dans van blydskap,” sê ek vir die vrou voor my sonder dat ek ’n idee het hoekom ek dit moet sê. Dit was nadat ek tydens ’n praatjie in Australië onder andere oor die kinderloosheid gesels het.

Sy was in trane. “Ek het al ses kinders verloor, maar nadat ek jou gehoor het, weet ek nou dat God medelye met my het. Eendag is daar ses wat vir my wag en ek gaan meer dans as enigiemand anders. My hartseer gaan in vreugde verander.”

Of daar ’n groter prentjie is, weet ek nie. Of ’n groter prentjie nodig is, weet ek ook nie, maar miskien kan ons storie troos en hoop vir ander bring.

Nou en dan sal ek myself betrap dat ek wonder hoe ’n klein mini me van my en Leigh sou lyk. Waarskynlik blonde hare, blou oë. Hoe sou hulle persoonlikheid gewees het? Talente? Miskien goed met sport soos ek? Of moontlik kunstenaars?

Gewoonlik sou ek dadelik daardie gedagte verban het. Deesdae erken ek dit en beweeg weer aan. Net omdat daar hierdie hartseer in my lewe is, beteken dit nie dat daar geen vreugde is nie. Boonop weet ek dat ons almal mekaar eendag gaan sien.

“Kyk, Ek maak alles nuut.”

As daar nou een belofte in die Bybel is waarin ek glo en aan vashou, is dit hierdie een waar die Here beskryf hoe die ewige lewe eendag gaan wees.

Voor my geestesoog kan ek sien hoe ek, Leigh en die kids almal vir ’n regte, egte gesinsete aansit. ’n Braaivleis met Leigh wat sal sorg vir braaibroodjies en slaai. Almal gaan gelyktydig praat asof ons nooit weg van mekaar af was nie.

God sal waarskynlik saam met ons kuier. Vir Hom het ek nie regtig vrae nie. Hy is Kennis en daar is genoeg tyd om antwoorde te kry. Dit maak my meer opgewonde om te kan ervaar hoe dit gaan voel om sonder verlange ná ’n leeftyd by mekaar te kan wees.

Wat ’n vreugde wag nie op ons nie!