Gaan groot of gaan huistoe!

Almal van ons ken hierdie uitdrukking. Dink aan sommige van jou lewens ervarings.

Dink terug aan wanneer jy die gelukkigste was of die mees opgewonde oor iets wat jy gedoen het. Ek dink dat ‘n goeie aantal van daardie ervarings was toe jy dit vir die eerste keer gedoen het.

Om nuwe dinge te doen bring aspekte van die lewe wat ons verlang en benodig soos verskeidenheid, avontuur en onsekerheid.

Laasjaar het ons dames by die werk besluit dat ons vir ED Sheeran gaan kyk wanneer hy in Kaapstad optree. Ek was bitterlik opgewonde om die konsert te gaan kyk, maar minwetend het ek geweet die uitstappie Kaapstad toe, gaan drie dae van eerstes wees.

Tot onlangs het ek nog nooit voorheen op ‘n vliegtuig gevlieg nie. En uiteindelik kon ek die geleentheid kry om vir die eerste keer te kan vlieg. Dit was regtig opwindend, veral om uit die venster te kan kyk en sien hoe dorpies in ‘n paar minute klein raak.

Om by die konsert te kom, kan ek een word gebruik om daardie ervaring te beskryf: ONGELOOFLIK! Dit was ‘n groot belewenis om vir ED Sheeran te kan sien optree en om vir ‘n slag nie rugby by ‘n stadion te kyk nie.

Meeste van ons het ook vir die eerste keer ‘n wyntoer gedoen. Dit was vir my baie interessant en die wynplase is pragtig. Ek is glad nie ‘n groot drinker nie, maar dit was lekker om iets uit my gemaksone te kon doen. Maar ek dink ek is beslis klaar met wyn vir ‘n rukkie.

Om ons hele uitstappie af te sluit, het ek die laaste dag siek geword en het ook vir die eerste keer sooibrand gekry, dit was ‘n nare ervaring veral om op ‘n vliegtuig siek te word. Hulle grap definitief nie oor die uitdrukking: “gaan groot of gaan huistoe nie”.

My Oom het vir my iets gesê op sy verjaarsdag wat my baie laat nadink oor die lewe. Hy het gesê, mens moet die lewe geniet terwyl jy kan, alles doen wat jy kan en jou lewe voluit leef, want as jy weer sien is dit verby.

As ek kon kies sou ek dit oor wou hê ten spyte daarvan dat ek siek geword het. Dit was regtig ‘n belewenis om soveel dinge vir die eerste keer te kon doen.

Wanneer was die laaste keer wat jy vir die eerste keer iets gedoen het?  As dit ‘n rukkie is, begin met die integrasie van meer eerstes in jou lewe. Jy sal verbaas wees oor hoe vinnig dit saamgevat sal word in ‘n lewe vol vreesloosheid, opwinding en vreugde.

Die lewe is ‘n reis wat elke oomblik geleef moet word. Spyt kom altyd te laat en mens lewe net een keer. Pak elke oomblik aan en geniet elke sekonde van jou lewe, want al wat ons het is nou.