Gaan kerke binnekort anders lyk?

912

Kerke krimp namate meer en meer mense hulle geloof op ander plekke uitleef, soos in informele geloofsgemeenskappe en huiskerke. Ons kan by hierdie gelowiges leer, sê Ekerk.

Nuwe alternatiewe geloofsgemeenskappe (geloofskappe) ontstaan tans oral. Hierdie gemeenskappe is nie deel van die tradisionele kerke soos die drie susterskerke, die AGS of die Metodiste nie.

Gelowiges beskou dit as ’n alternatief omdat hulle anderswees vir hulle belangrik is en hulle dit graag wil beklemtoon. Baie van hierdie geloofskappe sing nie tradisionele liedere nie en hou ook nie by ’n vaste volgorde en “kerktaal” nie. Party is natuurlik formeler as ander – elkeen het sy eie, unieke karakter.

Party groepe kom elke Sondag bymekaar en sien dit as “ek gaan kerk toe”. Ander is eintlik net ’n bykomende opsie vir gelowiges wat in ’n tradisionele kerk is, maar hulle geloof ook op ander maniere wil uitleef.

Dan is daar die groepe wat heeltemal lukraak bymekaarkom. Daar word nie gereeld saam aanbid nie. Vir hulle word “kerk” nie beperk tot “ek gaan kerk toe” op ’n Sondag nie, maar hulle handhaaf ’n siening van “ek is die kerk waar ek ook al is”.

Die mense van Omni doen dit prakties: Hulle kom elke Sondagoggend op Kerkplein bymekaar. Wanneer hulle klaar saam met die haweloses gekuier en geëet het, trek hulle van hulle klere uit en gee dit weg.

ECHO Jeugontwikkeling is ’n “omgeegemeenskap” wat veral jongmense met hulle probleme bystaan. Sondae is daar ook ’n informele erediens. Ekerk is ’n aanlyn gemeenskap wat deur nuusbriewe en artikels vir Jesus sigbaarder, voelbaarder en verstaanbaarder wil maak.

Die hoofdoel is om ’n verskil te maak

Daar is verskillende redes waarom hierdie geloofskappe ontstaan. Dit kan verband hou met ouderdom, soos dat jongmense nie meer in die tradisionele gemeente tuis voel nie. Dit kan ook wees dat die kerkpolitiek sekere mense afskrik. Ander is moeg vir hoe geld en koninkrykswerk hanteer word.

Daar is ’n reënboog van geloofskappe wat elk die klem op ’n ander aspek van Christenwees plaas. Mense raak deel van ’n groep wat hulle harte aanraak en waar hulle tuis voel.

Die meeste van hierdie groepe is nie gebonde aan geboue, ampte, formuliere, vaste tye, ’n spesifieke prediker en ’n band nie.

Hulle word nie hierdeur gedefinieer nie, maar eerder deur wie hulle in God is en deur wat hulle in die Bybel leer. Hulle besef dat hulle geroep is om mense toe te rus om dissipels te gaan wees wanneer hulle uit die gebou stap – elke dag, by die werk, in die winkel, by die huis. Vir hulle gaan dit nie oor ’n verbruikersmentaliteit waar jy vra wat die kerk vir jóú kan doen nie. Almal moet eerder vra: Wat kan ék vir die kerk doen?

Dit is mos hoe dit veronderstel is om te wees. Die uitbreiding van die koninkryk moet altyd die doel wees van enige gemeente en geloofskap. Die NG Kerk en die geloofskap in jou omgewing doen dit dalk ewe goed, elk net met die klem op ’n ander aspek. Ons behoort hande te vat oor strukture en kommissies heen met dié primêre doel in gedagte.

Huiskerke en selgroepe kan soms die rol van ’n gemeente oorneem

Dit gebeur al hoe meer dat kleiner groepe mense van dieselfde gemeente êrens bymekaarkom om byvoorbeeld saam Bybelstudie te doen en so geestelik te groei. Selgroepe is nie ’n nuwe verskynsel nie, ons ken dit al vir jare.

Hierdie groepies begin ook dikwels wanneer die lidmate aangeraai word om deur die week bymekaar te kom. Dis wonderlik as gelowiges mekaar help en vir mekaar bid en terselfdertyd die onderlinge verhouding bou en versterk.

Dit werk natuurlik nie oral dieselfde nie. Elke kerk het ook ’n ander rede vir die selgroepe in hulle gemeente. Selgroepe se doel is hoofsaaklik om gelowiges te help om te groei ten opsigte van geestelike toerusting en Bybelstudie.

Baie van hierdie groepies raak later so ’n belangrike aspek in mense se geestelike lewe dat dit die rol van die gemeente heeltemal begin oorneem en dit selfs beter doen! Wat dan gebeur, is dat die selgroep begin verander en later ongemerk die gemeente vervang.

Huiskerke speel soms dieselfde rol in gelowiges se lewe. Die rede hoekom huiskerke ontstaan, kan wissel van “moeg vir die plaaslike gemeente” tot ’n selgroep wat al hoe meer soos ’n huiskerk begin funksioneer.

Die groot verskil tussen die twee is dat huiskerke die rol van die plaaslike gemeente bewustelik probeer inneem. Die byeenkoms word deur sang, gebed, prediking en al die ander aspekte van ’n erediens ingekleur. Selgroepe se doel is eerder praktiese ondersteuning, verhoudingsbou en geestelike groei.

Tradisionele kerke kan baie by geloofskappe leer

Dit is by ons ingedril om goed te presteer op skool sodat ons universiteit toe kon gaan en ’n kwalifikasie kon verwerf vir die werk wat ons vir altyd sou doen. Vandag tel lewenskwaliteit baie meer.
Mense sal makliker van werk verander omdat dit vir hulle belangrik is om ’n beter lewe te hê.

Ons bevind ons in ’n wêreld waar ons gefragmenteerd leef. Dit beteken dat gelowiges nie meer by een kerk of plaaslike gemeente aansluit en dan alles vir die res van hulle lewe daar doen nie.
Mense sal byvoorbeeld na die NG Kerk toe gaan op ’n Sondag en op ’n Saterdag by ’n uitreik saam met die CMA betrokke wees.
Deur die week sal hulle dalk ’n ander byeenkoms bywoon wat deur ’n ander geloofskap aangebied word. Die kinders skakel moontlik elders by ’n jeuggroep in.

Gelowiges sal ’n gemeente se eredienste bywoon omdat hulle met die Woordverkondiging saamstem. Dit beteken nie hulle gaan lidmate word, deel word van ’n selgroep of by die fondsinsamelingsprojekte betrokke raak nie. Hulle sal dalk eerder by ’n ander geloofskap se Bybelskool inskakel omdat hulle meer gemaklik voel daar.

Informele geloofskappe is hier om te bly. Dit hoef egter nie ’n bedreiging in te hou nie. Dit kan waardevol wees as ’n bykomende, unieke manier hoe die kerk lidmate kan bedien en geestelik opvoed. Die groot vraag is of ons nie moontlik iets by hulle kan leer nie, as ons kyk na die impak wat talle van hierdie gelowiges vir die koninkryk maak.

Kerkwees word aangebied in samewerking met Ekerk.
Kliek op ekerk.org.